Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Dink weer oor Ingrid Jonkerprys se klousule
Daniel Hugo

In 1984 was ek in ’n gehoor wat soos een man opgestaan en ’n kommunis toegejuig het.

Dit was by ’n beraad van die Afrikaanse Skrywersgilde op die Delheim-wynlandgoed buite Stellenbosch. Die kommunis was die digter en gewese politieke gevangene Jeremy Cronin, wat daardie jaar die Ingrid Jonkerprys ontvang het vir sy bundel tronkgedigte met die titel Inside. Hy het van 1976 tot 1983 in Pretoria gevangenisstraf uitgedien weens staatsondermynende bedrywighede.

Daardie gebeurtenis op Delheim het die aard van die Ingrid Jonkerprys, wat ná die digteres se dood in 1965 ingestel is, baie duidelik bevestig. Nie net is dit die enigste literêre prys in Suid-Afrika wat steeds jaarliks om die beurt aan ’n Afrikaanse en Engelse skrywer toegeken word nie, maar dit is ook ’n prys wat hom nie steur aan ideologiese oorwegings nie. In die 1980’s was dit ’n unieke verskynsel.

Tien jaar gelede is daar vir die eerste keer ’n uitvoerige reglement met 19 klousules vir die prys opgestel. ’n Prysenswaardige onderneming – op één punt na. Klousule 3 lui soos volg: “Slegs digters met Suid-Afrikaanse burgerskap, of digters met óf permanente verblyfreg óf vlugtelingstatus wat in Suid-Afrika woon en werk, sal vir die Ingrid Jonker-prys oorweeg word.”

Tot dusver was dit duidelik nog nie nodig om hierdie reël te laat geld nie. Hoewel ’n mens verbyster staan dat die Afrikaanssprekende Namibiese burgers (swart, bruin en wit) al ’n dekade lank op dié manier uitgesluit is. Buitelandse Afrikaanse digters sonder Suid-Afrikaanse burgerskap het geen ander heenkome as Suid-Afrikaanse uitgewers om hul boeke die lig te laat sien nie. Maar vir hulle is dit ’n ongenadige lig wat hier aan die suidpunt van Afrika skyn.

Klousule 3 sou sin gemaak het as dit net op Engelse digters van toepassing was.

Klousule 3 sou sin gemaak het as dit net op Engelse digters van toepassing was. Engels is ’n wêreldtaal met talle kultuursentra waar boeke gepubliseer en pryse toegeken word. Afrikaans het net een so ’n sentrum, naamlik Suid-Afrika. Nêrens elders op die aardbol verskyn Afrikaanse digbundels by hoofstroomuitgewers en kan hulle bekroon word nie – ook nie in Namibië nie.

Dié vreemde klousule het vanjaar skielik in werking getree toe ’n buitelandse digter gekwalifiseer het vir die Ingrid Jonkerprys. Ek praat van die Pool Jerzy Koch, wat sy debuut as digter in Afrikaans gemaak het met die bundel Pleks van plaas (Naledi, 2020). Die pryskomitee het laat weet dat dié bundel nie ingeskryf mag word nie.

Deur dieselfde reglement word bepaal dat die komitee en die beoordelaars van die prys almal gepubliseerde digters moet wees. Hier het ons dus ’n geval dat digters ’n kollega benadeel op grond van sy nasionaliteit.

Die komitee het ook die volgende trooswoorde vir die Poolse digter gehad: “Dit is verdienstelik dat hy ’n Afrikaanse bundel gepubliseer het en ons wens hom alles van die beste toe vir sy verdere digterskap.”

En hier loop hy hom nou in Suid-Afrika vas teen skeppende mense wat gehoorsame onderdane van hulle eie ondeurdagte voorskrif geword het.

Neerbuigender kan dit nie. Koch is al dekades lank die groot krag agter die akademiese bestudering en onderrig van Afrikaans in Pole. Hy is ook die skrywer van ’n meerdelige literatuurgeskiedenis oor Afrikaans.

Koch het 30 jaar lank die verdrukkende kommunistiese bewind in Pole beleef. Hy is in 1982 vir ’n paar weke daar onder die krygswet geïnterneer nadat hy gehelp het om die studenteverset te organiseer. En hier loop hy hom nou in Suid-Afrika vas teen skeppende mense wat gehoorsame onderdane van hulle eie ondeurdagte voorskrif geword het – digters wat soos nasionalistiese burokrate en kommunistiese kommissarisse optree.

En die grootste ironie van alles: Koch het reeds in 1993 die Poolse vertaling van Ingrid Jonker se gedigte laat verskyn.

Maar dit is nie waar die ironieë eindig nie. Een van die mooiste gedigte in Pleks van plaas handel oor daardie einste Delheim waar die Ingrid Jonkerprys 36 jaar gelede aan Jeremy Cronin oorhandig is. Die derde strofe gaan só:

wanneer die vrolike water van simonsberg oor die klippe bruis

begin die pype op die wynplaas sing, skuif die immense wolk

agter die berg soos die outydse vlagskip

van die vaarders na die ooste van die vaders uit die noorde.

Mag die Ingrid Jonkerprys weer die gulhartige, ongebonde toekenning word wat dit veronderstel is om te wees. Afrikaans het lankal sy grense verskuif, die pryskomitee kennelik nie.

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler van Prins Albert.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Boekevat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.