Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Dis makliker om in ’n gedig te huil as oor een

Ek huil selde – waarskynlik nie meer as tien keer in die afgelope vyf dekades van my volwasse lewe nie. Dit is een keer elke vyf jaar. Dit beteken nie ek is ’n gevoellose buffel nie, maar ek roem my wel daarop dat ek nie sentimenteel is nie.

Ek raak ontroer, maar sonder trane, en om dieselfde redes as ander sensitiewe mense. ’n Sterk prikkel tot ’n emosionele opwelling kan ’n estetiese ervaring wees: ’n natuurtoneel, musiek, ’n skildery, ’n gedig.

Boekevat
Boekevat

Die rede waarom ek hier oor my gebrek aan tranerigheid bieg, is die bevrydende bloemlesing Poems That Make Grown Men Cry.

Die samestellers het 100 mans gevra om ’n gedig te kies wat hulle tot trane dryf en om ook kortliks te verduidelik wáárom. Bekende skrywers, akteurs en akademici het bydraes gelewer.

Een van die kortste uiteensettings kom van die rolprentmaker Mike Leigh. Hy het ’n gedig van Charles Bukowski gekies, met die volgende kommentaar daarby: “Near the bone. Strikes a chord. Takes me back. Hits a nerve. Brings a lump.”

Klaarblyklik nie ’n man wat graag oor sy gevoelens praat nie (daarom die verrassende aaneenryg van clichés) of ’n traan in die openbaar stort nie (dit bly by ’n knop in die keel).

Ek het nog net een keer in my lewe gesien hoe ’n gedig ’n volwasse man só ontroer dat hy begin huil. Dit was Nic de Jager wat in die radio-ateljee van Seepunt in Kaapstad Leipoldt se “Oom Gert vertel” vir my poësieprogram kom lees het.

Dié gedig vertel die verhaal van die teregstelling van twee Kaapse rebelle tydens die Anglo-Boereoorlog. Die vertellende Oom Gert raak self van tyd tot tyd bewoë en gee dan voor dis sy toehoorder se sterk tabakrook wat sy oë so laat traan. By die teregstellingstoneel kon Nic dit ook nie meer hou nie. Deur die glasgordyn tussen die opname-ateljee en die kontrolekamer, waar ek gesit het, kon ek sien hoe die trane oor sy wange rol.

Maar as professionele stemkunstenaar het hy voortgelees, en die kraak in sy stem het ’n egtheid aan die gedig verleen, soos wat ek nog nooit weer gehoor het nie.

Het ek al oor ’n gedig gehuil?

Nee. Maar ek het al ’n keer of wat, soos Mike Leigh, ’n knop in die keel gekry. En om dieselfde rede as hy: Die gedig maak ’n herinnering wakker, dit verwoord ’n gedeelde ervaring.

“Near the bone. Takes me back.”

’n Gedig wat my telkens swaar laat sluk, is N.P. van Wyk Louw se “Die wind in die baai . . .” En toevallig speel die versgebeure af in Clifton, baie naby aan Seepunt:

“Die wind in die baai het gaan lê; en rondom / het dit oor Houtbaai, oor Kampsbaai / en by Seepunt wit koppe bly waai. / Maar, in die baai het die wind gaan lê: / alles wil toegesluit lyk – byna veilig –; / en ’n seun het in ’n blikskuitjie uit, / sakdoek vir seil / – sonder fletter – , plankies vir roeiers, /dit uit-gewaag / – want die wind oor die baai het gaan lê. / En ons bid na die berg, die wind, die planeet toe / om alles wat wind-berg-planeet se aard is / af te lê, en ’n oomblik (’n oomblik!) / net te broei, broei oor die vrees vir die vrees / en die ongewete roei van die seun / in hierdie kort stilte binne die baai.”

Hierdie skerp visuele voorstelling van jeugdige kwesbaarheid, van bedreigde onskuld, tref my altyd diep.

Veral die kosmiese perspektief op “die ongewete roei van die seun” slaan my asem weg. Gaan dit oor die digter se eie seun?

Dan is dit ook ’n vers oor ouerliefde. Die slotreël eggo inderdaad een van Louw se vroeë liefdesgedigte, waarin die vrou beskryf word as “ ’n laaste kuil van stilte tussen riet”. Die stil baai en die stil kuil is albei geborge ruimtes waarin die liefde kan bestaan. Maar vir hoe lank?

Watter persoonlike herinnering roep hierdie gedig op? As seuns het ek en my broers in Windhoek tydens die Namibiese reënseisoen ook met selfgemaakte blikkano’s op ’n kuil tussen riete in die Gammamsrivier gaan roei. Tydens ’n onlangse besoek aan Windhoek het ek ’n gedig daaroor geskryf – maar sonder Van Wyk Louw se verbluffende kosmiese dimensie.

Gammams (Vir Ma Marieta)

tussen jou rietbegroeide oewers / het ons in kano’s geroei, vier broers / songeblaker, geborge, ongebodder / oor die beroerders van daardie land / ná vyftig jaar verlang ek, skoon van koers / na jou lou en moederlike modder / jou suiwer, nugter sand – Gammams, / rivier met toegeboude oewers (Windhoek, 18 April 2019).

Net soos by Louw gaan dit oor ouerliefde, maar nie ’n pa s’n vir sy seun nie – wel oor die wedersydse liefde tussen ma en seun. Daarom is die gedig aan my ma opgedra op haar 87ste verjaardag, daarom word daar ’n verband gelê tussen die “Ma” van die opdrag en die “mams” van die Gammams-rivier, en daarom ruis die “riet” in die naam Marieta voort op die “rietbegroeide oewers” van daardie herinneringstroom.

Dit is die insig wat Poems That Make Grown Men Cry by my tuisgebring het: Dit is makliker om in ’n gedig te huil as oor ’n gedig.

Bron: Anthony and Ben Holden (eds.): Poems That Make Grown Men Cry, Simon & Schuster, London, 2014.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.