Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Geen plek vir absolutiste in nuwe grondopset
Charl-Pierre Naudé
Charl-Pierre Naudé Foto: Alet Pretorius

Hoe ernstig moet mens die redenasie neem dat “wit mense” die grond van swart “inheemse” mense gesteel het”?

In vele lande het die nederset-landbou die nomadiese en kleinboertradisie verdring ten gunste van ’n moderne ekonomie.

Dit was nie die uitwissing van een volk deur ’n ander nie, maar van argaïese ekonomieë deur ’n nuwe.

In Engeland het die romanskrywer George Eliot (1819-’80) daaroor geskryf, in Suid-Afrika Karel Schoeman en in Rusland Leo Tolstoi. Die tema vorm die kern van Die nuwe Afrikaanse prosaboek.

Die omwenteling is in Suid-Afrika gelei deur Europese nasate van onder andere die verloorders in die soortgelyke proses in Europa. Daar was geen groot magte agter hierdie nedersetters nie, maar hul lewenswyse het noodwendig verdrukking vir sommige te lande tot gevolg gehad.

Die omwenteling was egter nie slegs negatief vir die plaaslikes nie. Dit het byvoorbeeld die lewensverwagting van die Suid-Afrikaanse inheemse bevolkings met rasse skrede laat groei.

Die vroegste vorm van die Afrikaanse roman is die plaasroman, wat die ontberings en dag-tot-dag- oorwinnings op die plase verbeeld het.

Die vroegste vorm van die Afrikaanse roman is die plaasroman, wat die ontberings en dag-tot-dag- oorwinnings op die plase verbeeld het. Dié romans het gekonsentreer op die nedersetter.

Moderne romansiers soos Schoeman en J.M. Coetzee verbeeld die tweesnydende swaard van die omwenteling. Almal het in hierdie saak ook gewen, selfs die verloorders, en almal het verloor, ook die wenners. Die omwenteling na ’n nedersetlandbou is nêrens ter wêreld nét ’n mooi verhaal nie. Dis ’n verhaal waarin die enkeling en klein gemeenskap opgeoffer is vir groter welvaart.

Is dít dalk ’n rede waarom die enkeling en verstoteling so ’n hoofrol speel in die moderne letterkunde? En toe kom die Marxisme en die kommunisme, wat óók die lot van die gemeenskap bo dié van die individu plaas. Maar wat het die kommunisme bereik?

Soortgelyke ontberings vir die onderstande, nee, álle stande, as in die landbou-omwenteling, net veel wreder en tragieser vir meer mense.

Dalk het die ooreenkomste te doen met dieselfde makro-konteks van die geskiedenis waaruit die Marxisme én die landbourevolusie stam, naamlik die vroeg-moderniteit? Te doen met die gedeelde wyse waarop die Marxisme én die landbou-omwenteling se betekenisse funksioneer?

Sedertdien het die wêreld oorgegaan na die laat-moderniteit, waarin die aard van betekenisse, onder meer “bevryding”, “identiteit” en “besit” verander het.

Betekenisse is nie meer essensies wat soos afsonderlike klippe bestaan nie. Hulle is relatief, refleksief, dinamies, nie-absoluut en interagerend. Meer soos gruishope bestaande uit klein klippies wat in groter, veranderbare hope gerangskik kan word.

’n Betekenis is nie meer in homself opgesluit nie, maar spoel oor in sy teenoorgesteldes. Dus is “bevryding” nie meer strak opgestel teenoor “onderdrukking” nie.

En “om te besit” is insgelyks nie strak opgestel teenoor nie-besit nie.

Dit beteken nié dat bevryding nie meer ’n noodsaak is vir die relatief ontmagtiges van die wêreld nie.

Dit beteken nié dat bevryding nie meer ’n noodsaak is vir die relatief ontmagtiges van die wêreld nie. Maar die aard van dié bevryding gaan nie teweeggebring word deur absolutiste, wat ’n opvoeding gekry het in lande soos Oos-Duitsland en Rusland nie – lande wat die hoogbloei van die moderniteit in totale isolasie, en daarmee saam die gróótste betekenisomwenteling in menseheugenis, misgeloop het!

Hierdie mense weet letterlik, en tragies, nie waarvan hulle praat nie. Het grondverlies vir sommige swart stamme plaasgevind? Ja.

Moet grondtransformasie plaasvind? Ja.

Sal die kapitalisme organies oorgaan in meer sosialistiese vorme? Dit gebeur reeds; die twee is nie uitsluitend nie.

Is identiteit ’n onwrikbare “ding”? Nee, dis ’n relatiewe houding, ’n ten-opsigte-van.

Was Marx ’n byster suurgat?

Nee, ’n man van sy tyd wat verdrukking wou uitwis. Was die landboupioniers diewe? Nee, hulle was blindelingse vernuwers wat gawes gebring het wat nou gedeel, nie vernietig moet word nie. Grondbesit sal nie-absoluut en korporatief word. Arbeiders sal plase en die produkte van hul arbeid besit. Alle mense sal op alle grond mag rondbeweeg. Die werkloses van vandag sal die grond bewerk op maniere waaroor húlle besluit.

Maar niks hiervan gaan teweeggebring word deur die absolutiste nie. Eerder deur mense wat die empatie sowel as die praktiese strewes van Marx deel, maar van ’n nuwe tyd én betekenisorde is.

  • Charl-Pierre Naudé is ’n skrywer en digter van Johannesburg.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.