Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Hoe gemaak met die ‘Groot verseboek’?
Die Groot verseboek.

Aan huis by ’n uitgewer in Mel­ville, Johannesburg, sit ’n agt-stuks van ons aan vir ’n heerlike aandete.

Tot in die been in moeg vir Zoom-vergaderings en boekbekendstellings aanlyn, is dié kuier van aangesig tot aangesig nét die ding om hierdie mal jaar mee af te sluit.

Ons gasheer, ’n man wat lief is vir jag en sy vleis ken, trakteer ons op ontbeende lamsboud oor die kole met ’n Argentynse chimichurri-sous.

So ’n bottel of wat wyn die aand in vra ek ’n skrywer en digter wat hy meen van die Groot verseboek gaan word.

Die laaste Verseboek, die geblikte ene in drie dele, het nou reeds 12 jaar gelede by Tafelberg verskyn, en ’n mens wonder wie dié fakkel by die ontslape André P. Brink sou kon oorneem.

Om ’n hekwagter oor kanonisering te wees sit nie sommer in enigiemand se broek nie. Brink het dit natuurlik by D.J. Opperman oorgeneem, maar voor wie se deur gaan ’n uitgewer nou opnuut dié lywige taak lê?

Die eerste naam wat by my opkom, of moet ek eerder sê name, is dié van Louise Viljoen en Ronel Foster. Dié twee literators het onder meer Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1998) die lig laat sien en is waarskynlik goeie kandidate vir die Groot verseboek.

My gespreksgenoot oorkant die tafel met sy grys kop en bokbaard skud net sy kop.

Goed, sê ek, daar behoort baie name op die tafel te wees: ’n mens dink aan Antjie Krog, Daniel Hugo, Marlene van Niekerk, Johann Lodewyk Marais, Henning Pieterse, Joan Hambidge, Johann de Lange, Louis Esterhuizen . . . noem maar op.

Nope, sê die Bokbaard, hulle moet dit vir Nathan Trantraal gee . . .

“Dink net watter regstelling dit vir die kanon sal wees, dink net watter skop onder die jis sal dit vir die Groot verseboek en die establishment wees.”

Dan lag hy. . . skink nog wyn.

Die koms van Kaaps is behoorlik op hande die laaste ruk, met uitgewers wat spring om mense soos Jolyn Phillips, Ryan Pedro en Lynthia Julius uit te gee. Om nie eens te praat van Trantraal en sy wederhelf Ronelda Kamfer nie.

Trantraal en kie is boonop jonk genoeg dat hulle waarskynlik twee of meer uitgawes van ’n Verseboek sou kon versorg. Met dit in gedagte sou Danie Marais en Loftus Marais ook uitstekende keuses wees. So ook Andries Bezuidenhout en Bibi Slippers.

Maar is dit werklik nodig om nog ’n Groot verseboek te publiseer?

Maar is dit werklik nodig om nog ’n Groot verseboek te publiseer? Die geblikte ene het gewys dis bykans ’n onmoontlike taak en dat die taal en sy poësie (ondanks die doemprofete) behoorlik besig is om uit sy nate te bars.

Die beste roete vir ’n Verseboek is waarskynlik om ’n paneel van, sê, vyf samestellers aan die werk te sit. ’n Mengsel van digters en akademici, van jonk en ouer, dat die baksteen van ’n boek die taal in al sy mooi en bemoerdheid sal kan verteenwoordig.

Intussen, sê my gespreksgenoot, is dit tyd dat ons opnuut moet gaan sit en skryf . . . dat ons doen wat digters moet doen.

Soos Adam Small in die afdeling “Wat is poësie” in die bundel Klawerjas (Tafelberg, 2013) geskryf het:

In die diep nag wanneer die wêreld rondom slaap,

word ’n digter soms wakker, oorval deur woorde,

opgeraap tot die hemel van sy taal. Ánder hoor dit nie, maar dan sing vir hom ’n nagtegaal

en aanskou hy, met verwonderde gelaat, prag en praal

soos van ’n Taj Mahal.

  • Jo Prins is ’n boekeredakteur en vryskutjoernalis van Johannesburg.
Meer oor:  Boekevat  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.