Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Hoeveel woorde is nodig om gedig te maak?
Daniel Hugo

Hoeveel woorde moet ’n gedig hê om as ’n gedig te kwalifiseer? Net een, sê N.P. van Wyk Louw.

In sy reeks radiopraatjies Rondom eie werk, wat kort voor sy dood in 1970 uitgesaai is, sê Louw – die digter van lang alleensprake en groot odes – dat ’n goeie gedig nie noodwendig “waardig” of “ernstig” hoef te wees nie.

En dan voeg hy by: “Poësie hoef nie eens lengte te hê nie . . . die pleknaam Droëverdriet – dit ís al poësie.”

Beluister en beskou ’n mens dié pleknaam goed, ontdek jy gou dat dit inderdaad die wesenlike kenmerke van ’n gedig bevat: klankrykheid en betekenisdigtheid.

Die allitererende welluidendheid van die d- en r-klanke laat die woord oor jou tong rol en in jou ore natril.

En watter ellendes roep dit nie op nie! Dis waarskynlik die naam van ’n plaas wat gereeld onder droogtes ly – so erg dat die bewoners nie meer trane oor het nie. Daardie naam is inderwaarheid ’n droë snik. En dan is daar die assosiasie met droë riet in ’n rivier wat lanklaas geloop het.

Kyk goed: die woorde “droë” en “riet” staan daar. En die reën bly weg, bly ver. Of gaan ek nou te ver met die semantiese moontlikhede van Droë-ver-driet?

Uys Krige was ook meegesleur deur die poësie van plekname.

Uys Krige was ook meegesleur deur die poësie van plekname.

In sy gedig “Tramode” maak hy ’n lys van name “wat daar skielik sing”. Naas buitelandse plekname noem hy ook: Dwaal (’n haltetjie in die Karoo), Put-Sonder-Water, Ruitersbospas, Pelgrimsrus en Baardskeerdersbos.

Volgens Louw se definisie almal gedigte in eie reg. En toevallig verbind Krige ook plekname aan “verdriet”:

Maar die hart ken sy verdriet

oral, in elk landgebied,

in Kaapstad sowel as Madrid.

Daar is ook ’n ander soort eenwoordgedig in Afrikaans – dié soort wat afhanklik is van ’n titel. Die bekendste een is sekerlik Breyten Breytenbach se “Die huis van die dowe” uit sy gelyknamige bundel van 1967.

Dié gedig het net een woord: “Hoesê?” Dit is maar net oënskynlik ’n oppervlakkige of “onwaardige” vers.

Breytenbach se omvangryke oeuvre is as geheel ’n poging om die volle werklikheid uitgesê te kry. Hoe sê mens jouself en alles wat jy beleef in hierdie heelal? Waar kry jy die gepaste woorde daarvoor?

In 1988 publiseer Clinton V. du Plessis die bundel curriculum vitae. Dit is die tyd van die politieke noodtoestand in Suid-Afrika waarin talle skrywers en joernaliste monddood gemaak is deur staatsensuur.

Daarom bestaan Du Plessis se “versetvers” uit net een woord: “fôk”. Dit is ’n ewe skrynend eksistensiële versugting as Breytenbach se “Hoesê?”

En selfs net daardie een woord het Du Plessis die gevaar laat loop dat sy bundel op sedelike gronde gesensureer sou kon word.

Du Plessis se eenwoordvers kom eers tot sy volle reg as dit alleen op ’n blad staan omring deur ’n oorweldigende, verswelgende wit ruimte. In die 1980’s was daar dae waarin volledige koerantbladsye gesensureer is.

In “animal farm”, eweneens uit curriculum vitae, staan die volgende reëls:

die dekreet is uitgevaardig:

in triplikaat versprei –

in die vrye volksrepubliek

gaan almal voortaan

gedonkerbril

blanko blaaie

in die koerante lees

Koos Kombuis gaan ’n stap verder in sy bundel Soos die reën (1993) en skryf ’n woordlose gedig waarin hy baie effektief gebruik maak van die blanko / blanke blad.

Die titel daarvan is “wit tuisland”. Dit bevat skerp sosiaal-politieke kommentaar sonder dat ’n woord geuiter word. Maar wat is die kortste gedig wat Van Wyk Louw self geskryf het? In sy reeks volksverse “Klipwerk” (uit Nuwe verse van 1954) staan ’n hele paar tweereëlige gedigte. Die volgende een is die kortste en bestaan uit slegs agt woorde:

O! die hart is bitterkos

bitterkos en wildekos.

Terug by die verdriet!

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler van Prins Albert.
Meer oor:  Digkuns  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.