Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Kô, lat ons sing, mense, vir die tale Kanaäns
‘Ek wou nog sê’ is ’n geselsprogram waarin Afrikaa
Daniel Hugo

Die tale Kanaäns, dit is wat die vromes vroeër jare graag gepraat het – veral die dominee en sy hoofouderling.

Dit was die hoogdrawende taalgebruik van die Nederlandse Statebybel of van die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933. Oorspronklik en heel letterlik is die tale Kanaäns die Hebreeus, Aramees en Grieks wat in Palestina gepraat is en wat ook die tale van die Ou en Nuwe Testament geword het.

Ek het in ’n pastorie grootgeword waarin die taal van die Bybel en gesangboek ewe hoog aangeslaan is as die (let wel) ouer Afrikaanse digkuns. My pa was ’n predikant van die NG Sendingkerk in die gemeente Khomasdal, Windhoek. Hy was ook ’n lid van die kommissie wat aangestel is om die Afrikaans van die Sionsgesange te moderniseer. Dit het my enersyds trots op hom gemaak (ons was nou kollega-digters!), maar my andersyds ontstel dat daar soveel ou woorde met sy medewerking uit die taal gaan verdwyn. Kortom, dat die tale Ka­naäns doelbewus uitfaseer word.

In die bundel Monnikewerk (1995) het ek ’n gedig daaroor geskryf:

met argwaan praat my predikantepa

oor die moderne poësie – ek hou my doof

as hy begin uitvra oor een van my

bundels: dit heet dan Verse van die ongeloof

hy’s lid van die berymingskommissie

– ’n byderwetse opdrag van sy sinode –

en herdig uit my gelowige jeug

die argaïes-herinnerde Sions­gesange

al het ek die talent van hom geërf

dien ons – ongerymd – verskillende belange

sy dogma het ek lank reeds afgesweer

maar bly opgewonde oor ’n woord soos “snode”

in die ongeseënde taal van ons verwantskap

mag geen monnikehand ’n enkele rymwoord skrap.

Toe ek in 1973 op Stellenbosch gaan studeer, moes ek drie jaar lank daardie einste drie Bybelse tale bestudeer voordat ek na die teologiese kweekskool sou kon gaan.

Vir my was dit belangrik dat die argaïese woord “snode” rym op “sinode”. Verdwyn dit, word ons rymarm taal nog armer! Om dieselfde rede is ek nog steeds ’n groot aanhanger van die 1933-vertaling waarin onvervangbare woorde en digterlike uitdrukkings soos “goedertierenheid”, “lengte van dae”, “waters waar rus is” en “dal van doodskaduwee” staan.

Toe ek in 1973 op Stellenbosch gaan studeer, moes ek drie jaar lank daardie einste drie Bybelse tale bestudeer voordat ek na die teologiese kweekskool sou kon gaan. (Terloops, ek het toe nooit die sakrale poorte van die kweekskool betree nie.) Afrikaans-Nederlands was ook een van my vakke, met ’n goeie skeut 17de eeuse Nederlands daarby – die taal van Vondel en die Statebybel.

Gedurende een universiteitsvakansie het ek in Windhoek in ’n klerewinkel gewerk om sakgeld te verdien – hoofsaaklik sodat ek die volgende semester nuwe digbundels kon gaan koop by Stellenbosch se UUB-boekwinkel.

Wanneer daar geen klante in die klerewinkel was nie, het ek my voorgeskrewe boeke gelees, onder meer Adam Small se digbundel in Kaapse Afrikaans, Kitaar my kruis.

Die bestuurder kom lees saam oor my skouer en spreek haar verbasing uit oor die vreemde taal waarvan sy klaarblyklik nie ’n enkele woord kan ontsyfer nie. Dit was – agterna beskou – eintlik heeltemal verstaanbaar, want in Namibië word daar al sedert die 19de eeu die sogenaamde Oranjerivierafrikaans gepraat. En dié variant van Afrikaans het, anders as Kaaps, nooit onder die invloed van Engels gekom nie.

Stomgeslaan swyg sy ’n rukkie, maar toe sê sy verlig: “O, nou verstaan ek. As jy ’n predikant wil word, moet jy al die tale van die Bybel ken.” Toe is ék stomgeslaan. Later het die gepastheid van haar opmerking my wel getref. Word daar dan nie hoeka in Small se gekanoniseerde gedig “Kô, lat ons sing” doodernstig in Kaaps gepreek nie: “Vrinne / lat ons die Bybel oepeslaan / en lat ons daaryt lies.”

Ongelukkig het ek nooit dié storie vir Adam Small vertel nie. Hy sou sekerlik geen beswaar gehad het dat Kaaps as een van die tale Kanaäns aangesien is nie!

  • Daniel Hugo is ’n digter en vertaler van Prins Albert.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Boekevat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.