Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Lofsanger, kannibaal? Lank lewe die lykdigter!
Daniel Hugo Foto: Argief

Tydens een van die onvolprese Tuin van Digters-feeste op Wellington praat Breyten Breytenbach oor sy troetel-onderwerp: die dood. In sy liriese Bolands maak hy toe ’n onsterflike uitspraak: “ ’n Mens kan natuurlik eers seker wees dat jy regtig dood is wanneer Joan Hambidge ’n lykdig oor jou geskryf het.”

Vir ’n Afrikaanse digter is Hambidge se gedig dus die enigste geldige doodsertifikaat.

In 2000 het sy inderdaad ’n bundel met die titel Lykdigte die lig laat sien. Sy gaan steeds voort met haar literêre lykbesorging. Onlangs het sy op haar internetblog, Woorde wat weeg, ’n treffende sonnet oor die onlangs oorlede Jeanne Goosen geskryf.

In die gedig bevind Jeanne haar nou saam met haar pa, Bibberende Piet, en haar “bossies” ma in die hiernamaals. In my bundel Hane-kraai (2012) het ek liggies die spot gedryf met Hambidge as lykdigter:

haar versreëls lê soos die skaduwees

van ’n laning sipresse oor die blad

dié bome laat die wind droewig suis:

hoor jy dit, is jy na ’n graf op pad.

Ons maak maar almal ’n geraamte groot.

Op my boekrak staan ’n boek met fotoportrette van lesende Nederlandse skrywers (Lezen & schrijvers, Penguin Books Netherlands, Amsterdam, 1992).

Die voorwoord is geskryf deur W.F. Hermans. Op sy tipies uitdagende manier beweer hy daarin dat ’n lesende skrywer iets soos ’n digter is wat oor ’n ander digter dig en dat hulle eintlik maar net kannibale is. Die skrywer teer op sy soortgenote ter wille van sy eie kuns. Daar bestaan in die wêreldliteratuur manjifieke in memoriam-verse vir digters.

Ek dink byvoorbeeld aan W.H. Auden se lykdig vir W.B. Yeats wat in Januarie 1939 oorlede is. Dié gedig open met dié onvergeetlike reël: “He disappeared in the dead of winter”.

Dit is natuurlik maklik vir ’n digter om die lof van ’n mededigter nadoods te besing, sou ’n mens sinies kon beweer.

Een van die treffendste kort lykdigte in Afrikaans is dié van D.J. Opperman vir Totius:

Telkens as hierdie volk van God afdwaal,

sal hy in Afrika se klip en kaal

herinner word hoe groot Hy is

deur die tinktinkietaal van Totius.

Totius is in 1953 oorlede en hierdie gedig van Opperman het in 1956 in sy bundel Blom en baaierd verskyn. ’n Mens sou Opperman darem nie van professionele jaloesie kon beskuldig nie. Hy is toe al met die Hertzogprys bekroon. Sy lofsang aan Totius was sekerlik eg bedoel. Dit was reeds duidelik uit sy gedig “Ballade van die grysland” waarin hy reëls uit Totius se Trekkerswee aanhaal.

Toe dié gedig in Negester oor Ninevé (1947) gepubliseer is, het Totius nog geleef. Hoe geldig is Hermans se opvatting van die digter as kannibaal? Wanneer ’n kannibaal klaar is met ’n lyk, bly daar net ’n geraamte oor – die kaal raamwerk van ’n liggaam. En dit is presies wat ’n goeie gedig oor die dood van ’n digter verrig: Dit lê die essensie van sy digkuns bloot. Opperman het mos reeds in Joernaal van Jorik by monde van die gemoedelike Dabor met sy galgehumor gesê: “Ons maak maar almal ’n geraamte groot.”

En wie kan beter tot die wese van ’n digter deurdring as ’n vakgenoot? Lank lewe die lykdigter!

  • Daniel Hugo is ’n digter van Prins Albert.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Breyten Breytenbach  |  Digkuns  |  Digter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.