Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Miskien moet Julius Malema sê dankie, boere

’n Mens hoor dikwels die mantra: “ ’n Goeie fiksieboek vertel jou meer oor die geskiedenis as ’n geskiedenisboek.”

In sommige boeke deur Karel Schoeman is daardie mantra dubbeld waar. Hy was self ’n geskiedkundige, dus het hy as romanskrywer die geskiedenis baie goed geken.

Charl-Pierre Naudé

Die waarheid van ’n boek is egter oor meer as dit wat daarin gebeur. Dit gaan oor die wyses van gebeur. Dit gaan oor die tekstuur en die gees van die gebeure. Dis dááruit dat jy meer aflei as uit gebeure self.

Verkenning gaan oor ’n reis na die binneland van Suid-Afrika deur ’n toevallige besoeker van Nederland. Dit was oorlogstyd in Europa, 1803-’06, die tyd van die kortstondige tweede Nederlandse bewind aan die Kaap, en die goewerneur vra die jong besoeker, ’n weifelende en tentatiewe jong man, wat eintlik op pad is na Batavia in die Ooste, maar moet wag op die volgende skip wat deur die oorlog vertraag is, om solank die rustelose buitepos Graaff-Reinet te besoek en in die geheim ’n verslag oor die situasie daar te skryf. Die reisiger aanvaar die opdrag, maar keer nooit terug nie, dus het die verkenning nooit plaasgevind nie. Trouens, die skrywer laat blyk langsamerhand dat die man uit die staanspoor ’n fiktiewe karakter was.

Ek is baie bly dat ek uiteindelik hierdie maklik oorslaanbare, grootse werk gelees het, oor ’n maklik oorslaanbare, anachronistiese pioniersbevolking en sy ver geworpe kantlyngeskiedenis. Daar is min skrywers wat met soveel flakkerende ambivalensie oor sy eie geestelike bodem kan skryf as Schoeman. Dis onder meer hierdie ambivalensie wat hom ’n sterk en uitsonderlike kunstenaar maak.

Watter ánder skrywer se ambivalensie oor sy eie geestesbodem bereik ewe verbrokkelende hoogtes van volgehoue bekenning?

Celan: 1920-1970. Roemeens-Duits-Joods. Rus in vrede.

Karel Schoeman: 1939-2017. Nederlands-Afrikaans-Protestants-Katoliek. Rus in vrede.

Dis juis die ambivalensie van sulke kunstenaars wat enige be­singing van hul kwaliteite ’n ongemaklike saak maak. Dis amper asof ’n mens hulle slegs kan besing deur stil te bly oor hulle. Want hulle is bestrykers van die onopgeskrewe, wat praat in wat ongesê gesê word.

Eintlik wil ek iets kwytraak oor die geskiedenis wat uit ’n gedig of roman kan spreek wat nie uit ’n geskiedenisboek kom nie. Die uitgelewerdheid van die mens aan sy lot is een van Schoeman se groot temas.

Gevestigde boerderykultuur is die begin van die einde van historiese mensslagofferskap. En dit bring ’n mens by die nou alombekende groot probleem.

Niemand wat Schoeman se historiese romans gelees het, kan ontken dat iets soos gewelddadige grondafvatting, miskien beter beskryfbaar as gedwonge grondverlies, in hierdie land gebeur het nie. Dit het nie slegs só gebeur nie, maar dit sluit onder meer dit in.

Grondbesetting is wat gevestigde boerderykulture oral ter wêreld gedoen het: Dit verplaas en verdring die omringende pastorale en nomadiese bestaanswyses ten einde te word wat dit is.

Wat gee dit vir ons: die onderwerping van die seisoene, en die moontlikheid om ons onderworpenheid aan die gewelddadige grille van die natuur te oorleef. Dit gee die gawe aan die mens om sy natuurlike slagofferskap te kan oorstyg. Dit gee ’n gans nuwe soort mensdom. En, ondanks die morele twyfelagtigheid van sommige van sy ontstaanswyses, is ons baie verskuldig aan die gevestigde grondbewerkingskultuur van die mens.

Wat was die lewensverwagting van Afrikane in Shaka se tyd? Miskien moet Julius Malema sê dankie, boere, dankie, dankie dat julle so toegewyd, ondanks die afbrekings en die verstrooiings teweeggebring deur apartheid, help skep het aan my afgod: ’n politieke meerderheid onder die inheemse bevolking.

Gevestigde boerderykultuur is die begin van die einde van historiese mensslagofferskap. En dit bring ’n mens by die nou alombekende groot probleem. Nie almal het hierdie gawe histories gesmaak as agente nie. Miskien as toevallige begunstigdes, maar nie as agente nie. Hulle is steeds slagoffers op die evolusionêre leer. Hulle is dit in hul koppe.

Die saak gaan egter nie ten goede verander deur een van die groot evolusionêre instrumente van lotsoorstyging, naamlik gevestigde boerderykultuur, in die gedrang te bring nie. Slegs deur medebesit daarvan te neem, en dit kreatief te deel, kan so ’n vertraagde bemagtiging gebeur tot algemene voordeel.

  • Charl-Pierre Naudé is ’n digter en skrywer. Sy debuutroman, Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, verskyn in Oktober by Tafelberg.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.