Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: ’n Huldeblyk: Réna Pretorius (1932-2019)
Prof. Joan Hambidge

In 1979 is ek die voorsitter van die Afrikaanse Studiekring (’n studentevereniging) aan die Universiteit van Stellenbosch. Ons nooi verskillende sprekers om met ons te kom praat en een van die hoogtepunte was die besoek van Réna Pretorius, later hoof van Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, saam met A.P. Grové en Elize Botha.

Die waardige vrou daag op met ’n hoed en handskoene. En sy lewer ’n uitstekende analise van N.P. van Wyk Louw se “Groot ode” waarin sy onder meer op die musikale struktuur van die gedig wys. Daar is ’n boeiende verwantskap met Beethoven se Grosse Fuge in die sogenaamde versoening van “gees en intellek”.

Die kontrapuntale styl word ’n dialektiese sintese, by sowel Beethoven as Louw, meen sy.

Louw, beweer sy verder, is nie religieus onbetrokke of neutraal nie. ’n Dosent van die departement vererg hom en meen dat Louw geen Christen was nie. Pretorius bly hoflik en wys op die metafisiese soeke wat regdeur sy werk loop.

Hierna lewer sy commendatio’s vir my en Deon Opperman toe ons die Eugène Marais-pryse ontvang in 1987.

Hierna het ons mekaar beter leer ken en deur die jare het ek haar ongelukkig net twee keer gesien op besoek in Pretoria. Haar werk het egter deurgaans beïndruk. Sy was ook opgelei in die wiskunde en hierom is haar lesings en essays altyd logies uiteengesit.

Sy het die digter T.T. Cloete se werk as besonders ondersoek en die parabool as ’n versoening tussen die wiskunde en letterkunde gesien.

Oor Ernst Van Heerden skryf sy insigryk as ’n beeld-virtuoos en ondersoek Louw se stelling dat tien goeie gedigte ’n digterskap bevestig.

Van haar artikels is opgeneem onder die titel Ryk domeine (Human & Rousseau, 1984). Elisabeth Eybers, Louw, Peter Blum, Cloete, selfs Totius se werk word vir die leser oopgemaak.

Oor Ernst Van Heerden skryf sy insigryk as ’n beeld-virtuoos en ondersoek Louw se stelling dat tien goeie gedigte ’n digterskap bevestig. Sy meen daar is egter meer as net tien en sy wys op die spel met die tyd in Van Heerden se digkuns.

Oor Eybers se ironie skryf sy goed. Sy was die kritikus wat ons daarvan bewus gemaak het dat Eybers se gedigte – ten spyte van “die uiterste beknoptheid en kernagtigheid” – tog die indruk van spontaneïteit en onmiddellikheid maak.

Sy kyk na die stigiese verse en die rym in haar poësie. Hier is die wiskundige aan die woord wanneer sy prinsipes van die gedigte ondersoek.

Opperman en Totius. En hoe ’n digter ’n ander digter se idees verwerk in die ondersoek van “Die gees van Donker Afrika” en “Clat Boek” van Opperman.

Oor Leipoldt is sy eweneens in die kol wanneer sy “Vrede-aand” herwaardeer.

Telkens in haar lesings oor die digkuns gaan sy terug na oertekste: die Nederlandse Bybel, die Joodse Talmoed, Latynse geskrifte.

’n Enorme intellek en besondere stilis. Wat sy oor Peter Blum skryf, is eweneens op haar van toepassing: die gawe van die ironiese saamdink van teenstrydighede

Met haar vertrek, dink ’n mens ook aan Elize Botha – ’n lewe in woorde – en aan die werk van Grové. Ons mis sulke groot literatore in ons huidige tydsgewrig.

  • Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Resensies  |  Huldeblyk  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.