Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Om ’n stuk chaos te vat en te boetseer
Charl-Pierre Naudé

Mense is net te gewoond daaraan om in clichés te dink. En ons is almal mense. Sommige Amerikaners sal op die lughawe aankom en vra: “Waar is die leeus?”

En sommige Suid-Afrikaners sal weer aan Amerikaners as luidrugtige idiote dink wat geneig is tot oorvereenvoudigings.

Dis maar twee voorbeelde van hoe clichés die wêreld besoedel. Oukei, ek sal nie so ver gaan om Donald Trump of Julius Malema hier aan te haal nie.

Sekerlik die lekkerste deel van Suid-Afrikaans wees (om Harry Kalmer se boektitel so bietjie aan te pas), is dat ons belewenis van onsself en “die ander” nie in enige formule inpas nie. Hoe meer jy aan jou problematiek dink, hoe meer wórd jy die ander, en hoe meer word “die ander” jy.

Vir die skrywer is dit ’n ervaring wat jou moedeloos kan laat gryp na clichés, óf alternatiewelik, jou in ’n voortdurende toestand van wakkergeskoktheid kan hou waarin geen cliché welkom is of kan oorleef nie. Albei soorte skrywers bestaan.

Opvattings is soos varsprodukte in ’n hittegolf. Jy moet sorgvuldig daaroor waak, anders is dit vrot voor jy kan sê mes.

(En nou praat ek nie van cliché as ’n literêre stylfiguur nie, iets wat op treffende of ontreffende maniere gebruik kan word. Ek waarsku teen cliché as literêre strewe.)

Maar bogenoemde gewaarwording oor cliché kan ook in ’n cliché ontaard. Enige iets kan, so gou as wat jy dit kan bedink. Opvattings is soos varsprodukte in ’n hittegolf. Jy moet sorgvuldig daaroor waak, anders is dit vrot voor jy kan sê mes.

’n Paar jaar gelede het ek in ’n akademiese artikel op Litnet Akademies op die saak van voorskriftelikheid, veral onbedoelde voorskriftelikheid, in die letterkunde ingegaan, waarvan een van die gevolgtrekkings was dat die etiese aandrang na boeke wat oor bepaalde onderwerpe handel, soos sê maar, oor apartheid en die rol van die skrywer, veral sy of haar etiese rol, ernstig kan knel. Onlangs het die skrywer S.J. Naudé ook hierteen gewaarsku in ’n toespraak.

Die gevaar is om ’n cliché te maak van die gevaar van cliché.

En as ek myself nou maar mag korrigeer, die beste boeke is nié oor onderwerpe nie. Dit gaan oor die benaderings, en hanterings ván onderwerpe. Met ander woorde, dit gaan net so verkeerd wees om nou te sê ons moet ophou skryf oor apartheid. Want jy gaan die legio hanterings en benaderings daarvan wat nog moontlik is, afsluit. En daarmee saam gaan jy produkte van die verbeelding wat nog nie “onderwerpname” het nie, as’t ware verbied. (En dis nou maar eenmaal so dat groot pyn, soos in apartheid, ’n goeie vroedvrou van verbeelding is.)

Die gevaar is om ’n cliché te maak van die gevaar van cliché. Dink aan sogenaamde Holocaust-boeke, oor die Jode-uitwissing in Europa en elders. Op sy beste benader, kry jy ’n aangrypende onderwerp-sonder-naam.

Die Jodeslagting is dalk die impuls, maar nie noodwendig die uiteinde van sulke boeke of films nie.

Die groot sondaar is eintlik die idee van “betrokke letterkunde”, of enige werk met ’n vooropgestelde boodskap. Sulke boeke is selde groots en dikwels ideologies en bekrompe. Dink aan die verskil tussen Jean-Paul Sartre, wat die leerstelling van betrokkenheid ontwerp het, en Albert Camus, wat dit toevallig ruimte gegun het. Laasgenoemde van die twee belangrike skrywers is verkieslik.

Want dit gaan nie oor die onderwerp nie, maar oor die vormgewing. Jy vat ’n stuk chaos en boetseer dit. En die verrassing van chaos, die “maagdelikheid” daarvan, moet ongeskend bly.

Dit is miskien ondenkbaar om ’n komedie oor ’n Jode-strafkamp te skryf, maar nie ondoenbaar nie. Ook nie noodwendig oneties nie. Maar, hel, wie gaan dit regkry?

Charl-Pierre Naudé is ’n skrywer en digter van Johannesburg.

Meer oor:  Charl-Pierre Naudé  |  Skrywers  |  Letterkunde  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.