Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Ons kort in inperking biblioteek se stories
Koos Kombuis

Ek het nie baie goeie herinneringe van ouers nie. Soos talle ander mense wat ek ken, het ek grootgeword in ’n gesin wat die meeste van die tyd byna heeltemal wanfunksioneel was.

Juis daarom is dit vir my belangrik om die enkele goeie herinneringe wat ek wel van my kleintyd het te koester.

My beste herinnering aan my pa is die dag toe ek, skaars ’n kleuter van drie of vier, sy Underwood-tikmasjien ontdek het.

Dit was ’n yslike groot swart masjien vol klawers en goeters wat “rrrr” en “tjieng” maak. Ek onthou dat ek ’n hele paar kussings bo-op my pa se lessenaarstoel moes pak om by die gevaarte uit te kom. En so het ek myself leer tik.

Ek het ’n goeie herinnering aan my ma ook: die eerste dag toe sy my na die dorpsbiblioteek geneem het. Ek was ’n tjokkertjie van so vyf. In die kinderboekafdeling het sy my toegelaat om drie geïllustreerde storieboeke uit te neem.

Daardie boeke was binne ’n halfuur klaar gelees. Dit kos my ma om weer in die kar te klim en my saam te piekel na die einste biblioteek toe, dieselfde dag nog, om nog drie boeke uit te soek!

Elke keer as ek daar aankom, is die deure gesluit en daar wapper so ’n ou verweerde papiertjie in die wind wat sê hulle sal een of ander tyd weer oopmaak.

My liefde vir boeke en skryf kom al van kleintyd af saam, en ek is dankbaar dat my ouers, met al hulle foute, my darem altyd toegelaat het om te skryf en te lees na hartelus.

Ek kry vandag nog ’n trilling van plesier in my ruggraat af elke keer as ek ’n antieke tikmasjien iewers in ’n pandjieswinkel sien.

En daar is nou nog min dinge so lekker soos om in ’n biblioteek in te stap, biblioteekkaartjie in die hand, en te weet: die volgende halfuur gaan ek spandeer tussen rakke en rakke vol stories.

En dit bring my by die eintlike punt van hierdie rubriek.

Sedert vlak 3 van die inperking in 2020 was daar al ’n besluit van die owerhede dat “biblioteke maar kan oopmaak”.

Hoekom het hulle nie?

Stellenbosch se universiteitsbiblioteek het tot einde verlede jaar slegs beperkte toegang toegelaat. En ons dorpsbiblioteek? Nou nog agter slot en grendel. Ons is al amper by ’n volgende inperking, en nog steeds kan geen mens daar inkom nie. Elke keer as ek daar aankom, is die deure gesluit en daar wapper so ’n ou verweerde papiertjie in die wind wat sê hulle sal een of ander tyd weer oopmaak.

Maar dit gebeur nie.

Is biblioteke dan nie ’n noodsaaklike diens nie? Waar gaan ons ons stories vandaan kry?

Hoekom? Is biblioteke dan nie ’n noodsaaklike diens nie? Waar gaan ons ons stories vandaan kry?

Netflix is nie genoeg nie!

Ek wil by ons vermufte ou dorpsbiblioteek instap. Ek wil die tannies agter die toonbank groet en oudergewoonte ’n geselsie aanknoop. En dan wil ek my tussen die plastiek-oorgetrekte boeke begewe en sommer vyf lekker slapband-rillers uitneem. Tog net iets om te lees, asseblief. Tog net ’n voosgeblaaide ou storieboek met voorin ’n papiertjie geplak met wanneer ek moet klaarmaak sodat die volgende ou dit kan uitneem en huis toe neem.

Inperking het ons van soveel alledaagse plesiertjies ontneem. Hoekom dit ook?

O wel. Ek het darem nog my rekenaar. Hy gaan ongelukkig nie “rrrr” of “tjieng!” as ek by die end van ’n reël kom nie, maar hy maak ook letters.

As ek dan nie ander ouens se stories kan lees nie, sal ek maar my eie skryf.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Biblioteek  |  Boeke  |  Boekevat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.