Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Teenvoeter is onverbiddelik skeppend wees
Jo Prins

Heelwat mense beweer hulle is besorg oor Afrikaans.

Hoe “die Taal” as speelbal in sekondêre onderwys ingespan word – aan verskeie kante van die debat – het so bietjie ’n sepiestatus aan die ding verleen.

Ja, daar word tereg gekla oor die hoër funksies van die taal wat voortaan beduidend ingeperk gaan word. En hoe oorleef ’n taal dan sonder daardie hoër, tegniese funksies?

Maar kyk ’n mens na kunstefeeste, Afrikaanse musiek en die ontploffing in Afrikaanse romans en poësie, is dit moeilik om te glo dat die taal onder beleg is.

Sluit hierby in die ontwikkeling en verruiming van woordeboeke soos die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal), is dit moeilik om taalhorries te kry.

Natuurlik kan dié ontploffing die laaste groot groei wees voor die dood intree (hoe sê Breyten Breytenbach: die dood begin by die voete . . .), maar ek weet darem nie.

Telkens, wanneer daar weer ’n opvlamming in die debat is, is my gevoel dat Afrikaans eintlik maar net gered moet word van die mense wat dit wil red.

Dit bly die beste teenvoeter: om onverbiddelik skeppend te wees in Afrikaans en sodoende die taal en die landskap in ’n nuwe milieu nóg nouer met mekaar te skakel – sonder geheueverlies oor die verlede, maar met ’n blik op ’n nuwe energie en waarheen ons op pad is.

Telkens, wanneer daar weer ’n opvlamming in die debat is, is my gevoel dat Afrikaans eintlik maar net gered moet word van die mense wat dit wil red.

Wat vir my ook te gereeld ironies is, is dat die taalbulle wat so in kommentare onderaan stories aanlyn wal gooi teen taalkontaminasie (veral natuurlik uit Engels) dikwels nie ’n idee het van die tradisie waarin hulle funksioneer nie.

Gebruik byvoorbeeld in ’n rubriek ’n verwysing dat ’n mens se dae soos kwartels in lang gras verdwyn . . . en kyk ’n bietjie of mnr. Taalbul en sy maat weet waarvan jy praat.

Verder, skreiend vir my, is wat op eerstejaarsvlak op universiteite aangaan (praat van “hoër funksies . . .”). Blaai ’n bietjie deur ’n gerf opstelle en jy wil jou hare uittrek ná die tiende spelfout en formulering wat hier by gr. 8 ophou ontwikkel het.

Onder die loep hier is nie ’n spesifieke instansie of universiteit nie, maar eerder: Hoe op aarde het dié kind dit tot hier gemaak?

Wat het die afgelope vyf jaar op skool gebeur? Wat het die afgelope tien jaar in daardie kind se huis aangegaan? Is dit maar ’n geval van Gods water oor Gods akker en daar lê die ding?

’n Vriendin van my praat van haar twee tienerdogters as screenagers. Niks wat hulle aanpak of doen, betrek nie die interaksie of hulp van ’n skerm nie – of dit nou ’n soektog op Google is, om die jongste modes te beloer of die aflaai van ’n speletjie.

Daar is altyd, maar altyd, ’n slimfoon, tablet- of skootrekenaar binne reikafstand – dis asof die teenwoordige tyd nie meer bestaan nie en die kinders in ’n voortdurende borrel van wegprojekteer van die hier en die nou leef.

Maar hoe gooi ’n mens wal? Wat maak ’n mens teen dié aanslag van tegnologie wat daarmee saam allerhande taalgoggas bring?

Jy omhels dit – en basta!

My vriendin se ooreenkoms met haar dogters is soos volg: Vir elke uur se skermtyd moet hulle ’n uur lees. Dus, elke liewe minuut aanlyn word “betaal” met ’n minuut se boek in die hand.

Wat aanvanklik as ’n straf beskou word, word algaande ’n baie lekker manier om die tyd te verwyl en dan boonop met aanlyn tyd beloon te word.

Die sleutel bly lees . . .

  • Jo Prins is ’n boekeredakteur en vryskutjoernalis van Johannesburg.
Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Boeke  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.