Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Voëls en digters is al lank van eenderse vere

Eeue lank al word daar ’n ooreenkoms gesien tussen voëls en digters. Voëls self word meermale in die digkuns voorgestel as digters. Die beroemdste voorbeeld in Afrikaans is G.A. Watermeyer se wildekanarie in “Ballade van die bloeddorstige jagter” (uit Sekel en simbaal, 1948):

Daniel Hugo Foto: Argief

Ek kelk die sonlig in my keel

en rym die rondebessie ryp.

In sy opstel “Altyd moeiliker poësie” (Swaarte- en ligpunte, 1958) noem N.P. van Wyk Louw hierdie versreël “ ’n meesterlike voorbeeldjie van ekonomiese taalgebruik”. Dit is ’n gedronge metafoor wat veel meer woorde in beslag neem wanneer jy al die betekenismoontlikhede daarvan wil uitlê. Hier is Louw se poging: “My lied is soos ’n gedig en dit klink die baie weke (of maande) lank wat die bessie nodig het om ryp te word; meer nog: die lied waarmee ek hierdie groeiproses begelei, is feitlik soos ’n koesterende warmte wat die rypwording help om plaas te vind.”

Twee volle sinne in plaas van die digter se vyf woorde.

Digters word soms ook as voëls uitgebeeld. D.J. Opperman praat byvoorbeeld van Totius se “tinktinkietaal” (“In memoriam” uit Blom en baaierd, 1956).

W.H. Auden het klaarblyklik met die volgende haikoe ’n digter (homself?) in gedagte:

Like the redstart

He recalls but a formless fragment

Of his real tune.

(Uit “Symmetries & Asymmetries”, Collected Poems, 1976)

In my vertaling het ek, met Opperman se vers in my kop, van die “redstart” ’n tinktinkie gemaak en daarmee die konnotasie met ’n digter vir die Afrikaanse leser versterk.

In my vertaling het ek, met Opperman se vers in my kop, van die “redstart” ’n tinktinkie gemaak en daarmee die konnotasie met ’n digter vir die Afrikaanse leser versterk:

soos die tinktinkie

onthou hy net ’n fraksie

van sy ware lied.

(Uit Hanekraai, 2012)

Voëls, veral ganse, het natuurlik eeue lank aan digters hul skryfinstrument verskaf: die veerpen. Boerneef gee in sy gedig “Die berggans het ’n veer laat val” ’n sjarmante kinkel aan dié gegewe. Die spreker in sy gedig wil vir sy geliefde ’n boodskap stuur, maar hy is klaarblyklik ongeletterd. In plaas van ’n brief stuur hy dan vir haar ’n veer, ’n ontroerende metafoor, want:

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê.

D.J. Opperman maak in sy gedig “Paddas” (uit Blom en baaierd) van ’n dubbele metafoor gebruik. Hy noem die paddas “die tortels van die modder” en laat hulle “koer” in plaas van kwaak. Dit is die eerste metaforiese laag; die tweede laag word bygevoeg wanneer hy van die tortelende paddas ook digters maak:

Ons wat uit die slym

berg en ster berym.

Dit bly my verwonder hoedat ornitoloë daarin slaag om die taal van voëls weer te gee. Newman (Voëls van Suider-Afrika, 1991) beskryf byvoorbeeld die geluide van die geelbekneushoringvoël, wat ek dikwels as kind in Namibië gehoor het, soos volg: “wurk, wurk, wurk, wurk, wurk, wukwukêk, wukwukêk, wukêk, wurk, wurk, wurk . . .” Hierop kan geen digter verbeter nie!

Wat my verder verbaas, is dat dieselfde voëlklanke verskillend getranskribeer word in verskillende tale.

Wat my verder verbaas, is dat dieselfde voëlklanke verskillend getranskribeer word in verskillende tale. Pharos se tweetalige woordeboek gee as vertalings van die generiese voëlgeluide “tjilp” en “tjirp” die volgende aan: chirp, chirrup, twitter, tweet.

Ina Rousseau was klaarblyklik nie tevrede met Newman se ongeïnspireerde beskrywing van die Indiese spreeu se taaluitings as “kekkel-, kloek- en piepgeluide” nie. In haar gedig “Die plaag” (uit Kwiksilwersirkel, 1978) laat die digter hulle sommer Afrikaans praat. Hulle sê naamlik “lelike woorde” soos “smyt” en “skrou”.

Hoe dit ook al sy, digters voel hulle verwant aan voëls en skryf graag oor hulle. Soms leer hulle ook iets by hul geveerde vakgenote, soos ek in “Elokusie” bely:

hadida oordag

en hoe-hoe snags – vroeg tot laat

leer die voëls ons praat.

(Uit Hanekraai)

  • Daniel Hugo is ’n digter van Prins Albert.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Voëls  |  Digters  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.