Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Wees ferm, maar buig saam met die wind
Gisela Ullyatt Foto: Volksblad

I worried a lot. Will the garden grow, will the rivers

flow in the right direction, will the earth turn

as it was taught, and if not how shall

I correct it?

Was I right, was I wrong, will I be forgiven,

can I do better?

Will I ever be able to sing, even the sparrows

can do it and I am, well,

hopeless.

Is my eyesight fading or am I just imagining it,

am I going to get rheumatism,

lockjaw, dementia?

Finally I saw that worrying had come to nothing.

And gave it up. And took my old body

and went out into the morning,

and sang.

So kom ek Vrydagoggend in ons korrespondensie af op dié gedig van Mary Oliver (uit Swan: Poems and Prose Poems, 2010), ’n gedig wat Gisela Ullyatt vroeër die jaar vir my aangestuur het.

Toe sy heelwat gehad het om oor bekommerd te wees.

Allermins of ’n tuin sal gedy en riviere in die regte rigting sal bly vloei.

Dit was ná haar hoeveelste besoek aan St. Dominic’s, die private hospitaal in Oos-Londen, waar sy einde April ook ’n mastektomie ondergaan het.

Nietemin het die briefwisseling nie oor bekommernisse gegaan nie, maar oor “taking the old body out in the morning to sing”.

Want op ’n manier het sy dit reggekry om die aandagtige opmerksaamheid (mindfulness) en die teenwoordigheid (nowness) waaroor Oliver dit in haar poësie gehad het, haar eie te maak.

Die afgetakelde lyf (van ’n jeugdige 42-jarige vrou) het Gisela nooit ontken nie, haar pyn het sy nooit probeer verdoesel nie.

Aandagtig het sy dit geregis­treer.

Maar eweso het sy ín die oomblik gesing.

Selfs toe skryf te moeisaam en vermoeiend geword het, het sy stemboodskappe, ook met voorlesing van gedigte uit Die waarheid oor duiwe, aangestuur.

Dié bundel, haar debuut, het einde Februarie by Protea verskyn, ’n pragbundel wat lof van lesers én resensente ingeoes het.

Daniel Hugo het dit byvoorbeeld in ’n resensie “ ’n ryk, volwasse en meevoerende debuut” genoem.

Gisela het op skool, lank voor haar studie aan die Universiteit van die Vrystaat, gedigte begin skryf, maar dit is waar sy Bernard Odendaal as dosent teëgekom het, ’n man wat sy as mentor gereken het.

Aan dié universiteit het sy haar meestersgraad in Duits behaal en in 2012 ’n doktorsgraad aan die Noordwes-Universiteit met die proefskrif “Bride of Amazement: A Buddhist Reading of Mary Oliver’s Work”.

In 2016 is sy aangestel as lektor in die Engels-departement van die Fort Hare-Universiteit en sy en haar man, die digter Tony Ullyatt, het na Oos-Londen verhuis.

Nietemin het die briefwisseling nie oor bekommernisse gegaan nie, maar oor “taking the old body out in the morning to sing”.

As ’n “span”, soos Tony daarna verwys het, het dié twee saam vertaalwerk gedoen, hy ’n Engels-moedertaalspreker en sy Afrikaans.

Van hul vertaalwerk is opgeneem in Marlise Joubert se 2014-bloemlesing van eietydse Afrikaanse gedigte, In a Burning Sea.

Einde verlede jaar is Gisela aangestel as New Contrast se redakteur van Afrikaans-poësie, maar dit was ook die tyd toe sy met die eerste behandeling van aggressiewe chemoterapie begin het.

Kanker het sy nie as vyand gesien nie, maar as vriend “wat jy moet leer om by grense te hou”.

Vir kommer was daar meer as genoeg rede, maar duidelik was haar primêre vraag à la Oliver nie of die boom die storm sal oorleef nie.

Eerder was haar ingesteldheid jeens die siekte: “Wees ferm, maar buig saam met die wind; as jy jou teësit breek jou takke.”

En bowenal het sy gesing. Gisela Ullyatt, gebore Wein­gartz: 15 Junie 1977 – 21 Augustus 2020.

Johan Myburg is ’n digter van Johannesburg. Hy is van-jaar se Hertzogpryswenner vir poësie.

Meer oor:  Gedigte  |  Digter  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.