Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekevat: Wiel van geskiedenis rol onstuitbaar voort

In 1955 verskyn Peter Blum se opspraakwekkende digbundel Steenbok tot Poolsee.

Wellington
Daniel Hugo Foto: Marlene Malan

Daarin staan die veelgebloemleesde gedig “Aftelrympie”, waarin hy treffend gebruik maak van plaasname om ’n boer (en waarskynlik ook die Afrikaner) se opkoms en ondergang – van “Kleinbegin” tot “Allesverloren” – uit te spel.

Die vyfde strofe lui soos volg: “My plaas se naam is Rusmysiel: / maar voor my draadhek rol ’n wiel.” Buite die beskerming van die omheinde plaas rol die wiel van die geskiedenis onstuitbaar voort. Die einste wiel wat die boer/Boer uiteindelik gaan verpletter.

Hierdie gang van sake sit reeds opgesluit in die plaas se naam: Rusmysiel. Dit verwys na ’n bekende Nederlandse (en Afrikaanse) gesang. Hier is die eerste en laaste strofes van die oorspronklike Nederlandse teks:

Rust mijn ziel, uw God is Koning,

heel de wereld zijn gebied.

Alles wisselt op zijn wenken,

maar Hij zelf verandert niet.

Rust mijn ziel, uw God is Koning!

Wees tevreden met uw lot!

Zie, hoe alles hier verandert,

en verlang alleen naar God!

“Zie hoe alles hier verandert” – dit is die essensie van wat Blum so meedoënloos rymend in sy gedig aftel.

Debuutbundel

Toe Blum se debuutbundel in 1955 die lig sien, was Hennie Aucamp 21 jaar oud en ’n student op Stellenbosch.

Hierdie gedig moes sekerlik tot hom gespreek het, want hy het grootgeword op die plaas Rust-mijn-ziel in die Oos-Kaapse distrik Jamestown.

In sy kortverhale en gedigte skryf hy met heelwat nostalgie oor Rust-mijn-ziel – oor die mense, plante, diere en Boesmantekeninge van die Stormberge. Vir hom het dit ’n byna mitologiese plek geword, ’n “emosionele” landskap, oftewel ’n “landscape of the mind”.

Ná sy ouers se dood is die plaas verkoop en is dit in ’n wildreservaat omgeskep.

Die opstal van sy jeug het verval.

In sy gedig “Rust-mijn-ziel” uit die bundel Dryfhout (2005) be-skryf Aucamp die elande wat teruggebring is na die plaas. Hulle is as’t ware weer tot lewe gewek uit die sandsteenwande waarop die Boesmankunstenaars hulle verewig het:

Hul nekvelle skud, en die goue lig

weerkaats in hul oë: ons eertydse plaas, beproef en verniel

het goddank vandag sy oertydse siel:

op Rust-mijn-ziel is die elande terug.

Kommerkrale

Dit is veelseggend dat die tweede reël, waar die emosie die oorhand kry, heeltemal uit sy metriese nate bars. Teenoor die tien lettergrepe van die ander versreëls dy hierdie een uit tot 16 sillabes.

In Aucamp se bundel kortprosas, Kommerkrale (1989), staan daar ’n inskrywing ook met die titel “Rust-mijn-ziel”:

“Altyd weer dieselfde droom: Dis nag, en winter op die Stormberge; en ek is oud en verlate, en kom te voet op Rust-mijn-ziel aan. Van die opstal het net ’n murasie oorgebly. Ook hier is geen skuiling nie.”

In sy laaste boek, Skulp (2014) wat kort voor sy dood verskyn het, verdig Aucamp hierdie gegewe tot vier reëls:

Teen digte skemer bereik ek die plek;

werf en huis verlate, geen rokie wat trek

en lig agter die ruite nie; ongetwyfeld

is ek tuis: ’n leë dop vir my leë ek.

Die slotstrofe van Blum se “Aftelrympie” het in Aucamp se geval onthutsend wáár geword: “Allesverloren is my plaas: / leë murasies noem my Baas.”

Peter Blum, wat in 1937 as immigrant na Suid-Afrika gekom en die land in 1960 weer verlaat het, was klaarblyklik heldersiende oor die toekoms van die Europese kolonis aan die suidpunt van Afrika. Hy het geweet “op watter vasteland ons boer”.

Daniel Hugo is ’n digter en vertaler van Prins Albert.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.