Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boekvrate kies 2019 se beste internasionale boeke

Hopies en hopies boeke wag. Tog, as die jaar 2019 aan boeke gemeet kan word wat net eenvoudig gelees moet word, kies die boekvrate só. Jo Prins het ’n paar skrywers gepols oor hul beste internasionale boeke van die jaar.

Michael Ondaatje se ‘Warlight’.

Daar is rakke van boeke wat hy nog beslis gaan lees, hopies wat hy definitief beslis nog gaan lees, en hopies wat hy absoluut beslis definitief nog gaan lees . . . en dan ’n handvol wat hy nóú gaan lees.

So som die skrywer André Krüger my benadering heel gepas op oor wat daar nog hierdie seisoen gelees kan word, maar wat ’n mens waarskynlik nie in ’n leeftyd by sal uitkom nie.

Tot my vrou se ergernis gedy “hopies” nogal en wanneer daar reg- en weggepak word, hoor ek gereeld: “Maar daar is dan ’n potlood in hierdie boek?”

Kyk ek vinnig so oor die een boekrak, wonder ek of ons aan huis maar nie net hierdie jaar ’n Margaret Atwood-ene moet verklaar nie: The Handmaid’s Tale en sy opvolg, The Testaments, staan hier knus langs mekaar en in goeie geselskap.

En as jy hou van ’n boek wat mooi uitgegee is met ’n besonder interessante stofomslag én binnebaadjie, kan jy aansienlik slegter doen as Vintage Books se Handmaid’s.

’n Boek of twee aan gewaar ek Charles van Onselen se fassinerende The Night Trains en daarnaas Wreed én mooi is die dood, saamgestel deur Tobie Wiese.

Leonard Cohen se ‘The Flame’.

Laasgenoemde is een van daai boeke wat jy gewoon nie in een sitting kan of moet aanpak nie . . . tyd vir besinning tussenin elke vertelling is nodig.

Op die bedkassie lê daar van voorverlede jaar ’n versameling van Leonard Cohen se gedigte met die titel The Flame . . . as jy nou al ooit ’n mooi ding in die hand gehou het.

Van Cohen gepraat: Die pas verskene album Thanks for the Dance, uitgegee deur sy seun Adam, is soos ’n brief van anderkant die dood . . . daar is lirieke wat jou absoluut aan die hart gryp. En heel gepas ’n pasmaat vir The Flame.

Ek wonder steeds oor die Nobelprys vir letterkunde vir Bob Dylan . . . en nie vir Cohen nie? Daai Sweedse Akademie is ’n vreemde lot.

Maar die mengsel internasionale letterkunde en niefiksie in Afrikaans én Engels wat die moeite werd is om te lees, is genoeg om jou kortasem te maak.

Ek dink hier aan Ian McEwan se novelle The Cockroach (wat ’n plesier!), Bill Bryson se The Body: A Guide for Occupants (ongelooflik!) en die jongste niefiksieboek van Jonathan Safran Foer, We Are the Weather.

Wat niefiksie spesifiek betref is The First Safari, Ian Glenn se bundeltjie insigte en invalshoeke op Francois Levaillant, die Surinaams gebore Franse ontdekker-naturalis wat in die laat 18de eeu Suid-Afrika deurkruis het, onder meer op Jean Meiring se radar.

“Leon de Kock se André P. Brink en die spel van die liefde is ’n tamaai boek wat die bekende romansier-en-minnaar sonder handskoene aanpak en uitmekaar haal. Dit roep ’n tyd skerp voor die geestesoog toe Afrikaanse boeke belángrik was en dikwels skok-skok die samelewing deur gerimpel het.”

Oor Murray La Vita se Boodskapper van die gode sê Meiring dis “klein en blinkgevryfde mineurtoon-mymeringe”.

“Die rubrieke waaruit die boekie bestaan is tyd- en plekloos – soveel so dat my Vlaamse vriendin Kaat telkens waarderend na hulle verwys.”

“Pieter-Louis Myburgh se Gangster State oor Ace Magashule se reikhalsendheid in die Republiek van die Blikore is ontstemmende, maar nodige medisyne, en Pieter du Toit se The Stellenbosch Mafia maak ’n venster op vandag se Eikestad vir buitestanders oop en het sekerlik die Decameron-restaurant se tafelbesetting tydens Vrydae se middaguur die hoogte ingestu.

Net mooi fine, Lanie van Reenen se opvolg-memoire oor haar verblyf in Europa het ’n ligte aanslag, maar tref ’n mens met onverskrokke eerlikheid.”

Die digter Loftus Marais glo Kevin Barry is vinnig besig om een van die koelste kontemporêre skrywers te word. Sy Night Boat to Tangier handel oor twee ou dwelmrampokkers wat in ’n Spaanse hawe vir een van hulle se dogter wag.

“Sy het ’n hele tyd terug van die huis af gevlug en die melancholiese gangsters sit en wag en dink terug aan hul lewe. Vlymskerp, atmosferies, galbitter, gewelddadig, spokerig, okkultagtig – dis een van daai romans wat jou so byvoeglike naamwoorde laat aanmekaarryg. Dis gedronge, gelade skryfwerk dié. ’n Soort testosteroon-tragedie. Die manne is moeg en hartseer en rof. Beste roman van die jaar.”

Literator Louise Viljoen sê weer die Suid-Afrikaanse skrywer Ivan Vladislavic se roman The Distance, wat onder meer handel oor ’n jong seun uit Pretoria wat in die 1970’s ’n plakboek van die bokser Muhammed Ali maak, is vir haar onvergeetlik.

“Onder die internasionale boeke sou ek Salman Rushdie se Quichotte aanbeveel wat ’n parodie is op die 16de eeuse teks Don Quixote. Rushdie is net so wel ter tale as Cervantes van ouds.

“ ’n Heerlike boek waarop ek vanjaar puur toevallig afgekom het, is die Afro-Amerikaanse skrywer Vertamae Smart-Grosvenor se Vibration Cooking: or, The Travel Notes of a Geechee Girl van 1970, een van die eerste boeke waarin die verhaal van Afro-Amerikaanse kookkuns oftewel ‘soul food’ vervleg word met die verhaal van die outeur se lewe.”

Kevin Barry se ‘Night Boat to Tangier’

Uit doer Down Under skryf Eben Venter:

“Stel jou voor een van die briljantste, laat 20ste eeuse geeste kom kuier en julle sit af na Death Valley in Kalifornië om saam LSD weg te sluk. Dis wat Simeon Wade oorgekom het in 1975, en die Franse filosoof Michel Foucault is sy man.

“G’n uitgewer wou aan dié storie raak nie, maar nou vertel Wade op outofiksie-styl die merkwaardige verhaal, Foucault in California, waar elke liewe ding deur hierdie koel filosoof in ’n vlootblou klokbroek en wit rolnektrui waargeneem en geanaliseer word.”

Vergeet die afgeleefde diktum dat die aarde beheer en bemagtig moet word, nou kort ons respek en erkenning van diereregte, sê Venter.

“In Frans de Waal se Mama’s Last Hug word die jongste dierenavorsing uitgelê: Diere is gevoelsaardige wesens en soos ons toon hulle ’n spektrum van emosies.

“Min hedendaagse skrywers skryf brandende kwessies so raak soos David Szalay. Sy karakters is inklusief van alle wêreldburgers en omdat hy in Turbulence, nes in vorige werk, so woordekonomies die pas aangee, is hy een van my topskrywers.

“As Nobelpryswenner Svetlana Alexievich (sonder haar is jou boekversameling arm) ’n skrywer aanbeveel, gaan lees ek. In Rock, Paper, Scissors and Other Stories is die dokter-skrywer Maxim Osipov soos Tsjechof se plattelandse dokter wat gaan huisbesoek doen op afgeleë plase en met ’n hart vol stories terugkeer.

Dan het Michael Ondaatjie se verfynde, liriese prosa in Warlight, en veral die vreemd-skone verhouding tussen die seun en sy ma wat haar kinders weggegooi het, Venter geraak.

“Laastens is daar Ben Lerner wat in die psiges van die opgevoede, opgedonsde Amerikaanse middelklas delf. In berekende, soms ellelange sinne vertel hy die storie rondom The Topeka School agteruit.”

Ek reken dis in orde om maar voorlopig met nóg ’n hopie vir 2020 te begin…

Meer oor:  Internasionaal  |  2019  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.