Ná drie romans debuteer Kleinboer as digter met ’n bundel vol pretensielose praatverse wat Joan Hambidge veel plesier verskaf het.
Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels: Koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers deur Kleinboer. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.
Kleinboer het ’n sterk aanwesigheid as prosaskrywer in Afrikaans. Min debuutromans het al soveel agting én gesprek ontlok as Kontrei (2003), wat die daaropvolgende jaar as die eerste wenner van die Jan Rabie-Rapportprys aangewys is.
In sy drie romans tot op datum – Kontrei, Werfsonde (2012) en Hierdie huis (2017) – ontgin Kleinboer sy bestaan in Yeoville met sy swart vrou, Lungi, en hul kind. Ook sy besoeke aan dames van die nag word sonder skroom beskryf. Hierdie kontrei van die verlooptes en afvalliges is aanwesig in al sy stories, wat deurgaans eerlik en direk vertel word. Tog bly sy ruimte ’n boerewerf in Yeoville waar die honde altyd blaf.
“Piekniek” (bl. 4), die derde gedig in die bundel, word begelei deur ’n motto van Marcel Proust: “Die enigste ware paradyse is die verlore paradyse.”
En dit is inderdaad hoe ’n mens Kleinboer se werk moet benader. Ondanks sy bestaan as buitestander en afvallige vind ’n mens in sy werk telkens verwysings na sy Calvinistiese jeug en die impak van die kerk en sosialisering. In “Sunlight” word sy mond met seep uitgewas deur die vaderfiguur:
my kop het gejissis
my mond Jesus
Ook die verhouding met die vader, die ou patriarg wat staan vir die Kerk en ou Afrikaner-waardes, loop regdeur sy werk.
“Nie ’n gedig nie, net opgetjopte prosa” lui die titel van ’n vers op bl. 10 asof die digter weet lesers gaan krities kyk na sy poësie.
20 (vier)
afrigters is gespuis
coaches are upstanding
rusbanke sweer trou
couches lie
jokkies lieg oor gewig
en Sofia ry my skelm
Daar is mooi beelde, soos in “Orde in die wanorde” (bl. 29):
my kop is bloot ’n koppelteken tussen my ore
en ek sukkel jaarliks om herfs te transendeer
Kleinboer ken voorts die tradisie van liefdesgedigte en ’n wye belesenheid is opvallend. Hier vind ’n mens ’n spel met die geliefde wat nie Afrikaans magtig is nie, maar die leser begryp hoe belangrik hierdie vrou vir hom is. Al is hy dan geen liefdesdigter nie, word hy tog een (bl. 36):
Nie
ek’s nie ’n liefdesdigter nie
maar sal een maal in hierdie bundel
uitbasuin ek’s baie lief vir my vrou
al kan sy nie Afrikaans lees
en weet sy nie ons lê
tussen Mars en Venus nie
stilte nou tussen ons
’n uitgedrukte swartkoppie
word vanaf die stoeptrap weggeskiet
tot in die agterplaas se ruie mini-woud
waar iets kleins in die natuur dit sekerlik sal misbruik
en ek dit gelukkig nie hoef te aanskou en beskryf nie
Die paradoksale ontkenning word dan juis ’n erkenning; die nie word wel uitgeknikker.
Die spel met woorde – Kleinboer is immers ’n taalpraktisyn – is eweneens aanwesig (bl. 40):
Sprokie
’n wrede woordeboekmaker het my sonder rede
in ’n sterk rivier van alfabetsop gesmyt
ek probeer stroomop en skuinserig
na ’n woordewal swem
maar die vloei is onverbiddelik en die sop dik
ek dryf magteloos na ’n suigende sopval
gryp vergeefs die letters a,n,k,e,r
hulle glip uit my hande in die wiergegeurde sop
a,n,g,s en p,i,s verswelg my
en ek hoor die wrede skepper se gelag
teen die steil hange weergalm
enige oomblik gaan ek oor die sopval
se rand verdwyn en pletter
maar jis, my verlosser leef!
skielik sien ek doer onder ’n hoop
broodrolle in plaas van rotse
Hy dryf verder dikwels die spot met sy drank- en rookgewoonte. Grensoorskrydende ervarings soos besoeke aan die dokter en gesprekke oor die private dele mag vir sommige ontstellend wees, maar hy verpak dit met humor en ironie, soos op bl. 75:
As
as drank dan volgens kenners ’n depressant is
hoekom skater suipers so heerlik?
as ’n mier ’n siel het
dan ’n kakkerlak ook?
indien verbrande hout rondom wortels ingespit
as bemesting dien en nuwe lewe kry
mag hierdie strofe maar
tot vier reëls strek?
’n Aweregse blik op die wêreld en ’n sardoniese aanslag is opvallend. Hierdie gedig op bl. 91 is skaterlag-materiaal:
Kouse
kouse is opreg maar neig dommerig
nie in staat om ’n kousale verband te trek nie
hulle is nederig
tevrede met die laagste posisie
en sonder aggressie
baklei nie terug wanneer stout brakke
hulle stukkend byt nie
hulle is apolities
nie links of regs nie
ek het simpatie met kouse
wat hulself uit die voete maak
om nie in mense se sinistere bestel
te bly nie maar in hul eie singles bar
of stinkerige Shangri-La te gedy
Soms slaan selfs die nostalgie hard deur, soos in dié mooi gedig op bl. 93 oor die ontslape ouers:
Klein gedenkdiens
staan poppie staan
en laat jou gedagtes gaan
het my pa soms vir my ma gesing
ook
boetie sy’s ’n perskeblom
ek twyfel of hy die lirieke self
uitgedink het
nou te laat om hom te vra
sy asse is in die berg
en my ma s’n in die see
Kleinboer se ouers en sy tweelingbroer duik oral op in sy werk, maar sy tekste problematiseer telkens die outobiografiese. In Kontrei het hy dit so treffend geproblematiseer dat dit meer word as die teks = Fanie de Villiers (Kleinboer).
Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels is ’n lywige digbundel vol praatverse waarin die digter dikwels in ’n selfgesprek gewikkel is. Dít wat oënskynlik maklik lyk, sit vol woordspeletjies . . .
Miskien kon die digter minder verse opgeneem het (daar is sekere herhalings soos die luister na musiek of gedrinkery in die altesame 92 verse), maar in die geheel is dit ’n pretensielose, eerlike, sjarmante digbundel van ons Boere-Bukowski.
Hopelik sal lesers en liefhebbers van sy prosatekste net soveel plesier hê aan Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels as hierdie leser!
- Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.