Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boerseun in Parys laat patriotisme vlamvat

Renée Rautenbach Conradie laat Parys, die Stad van die Liefde, én die Anglo-Boereoorlog sintuiglik lééf in haar historiese debuut- roman,  ‘Met die Vierkleur in Parys’, skryf Juliana Coetzer.

Met die Vierkleur in Parys deur Renée Rautenbach Conradie. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R195.

Om ’n roman die lig te laat sien is geen klein gebaar nie: Wat as ’n gedagte begin, moet ’n basis kry en vorm aanneem met die skrywer wat die rol van ontwerper, argitek, bouer, verwer én binneversierder vertolk. Intussen is daar mense wat begelei en aanmoedig en, wanneer die omstandighede reg is, word die gedagtes in ’n fisieke produk verwesenlik.

Soms duur die proses ’n hele paar jaar, soos in die geval van Met die Vierkleur in Parys, wat die skrywer tien jaar lank onder haar vlerk gehou het. En hoe bly is ek dat dit juis nóú verskyn, in hierdie ekstreme tyd waarin min mense lus is om enigiets te kyk of lees wat die spanningsvlak verder opjaag. Gee ons enigiets behalwe politiek en geweld.

Gee ons iemand anders om te blameer, soos die Britte. Gee ons Parys. Gee ons die liefde.

Met die Vierkleur in Parys deur die joernalis-skrywer Renée Rautenbach Conradie is ’n fiktiewe verhaal gegrond op historiese feite, maar dit is ook ’n ode aan die liefde. Nie net die liefde wat die hoofkarakter vir ’n Joodse meisie het nie, maar ook vir sy vaderland, wat in die Anglo-Boereoorlog vasgevang is, en vir Parys in Frankryk, sy nuwe tuiste.

Paul Roux is ’n jong argitek van die Zuid-Afrikaansche Republiek wat vroeg in Januarie 1900 met ’n opdrag Frankryk toe gestuur word. Hier word ’n reuse-skou gehou waar die meeste groot lande ’n tydelike struktuur oprig om met hulle kultuurskatte te spog. Paul moet help ontwerp en bou aan die ZAR se paviljoen, waar onder meer ’n goudmyn en ’n pioniershuis met karosse, ’n riempiesbank en -stoele, baldakynbed, wakis met linne, serfyntjie en veldstoeltjies te sien is. In die Transvaalse hoofpaviljoen pryk ’n borsbeeld van pres. Paul Kruger.

Hier is ’n bedrewe skrywer aan die woord wie se sterk joernalistieke hand duidelik sigbaar is.

Gelukkig kan ’n mens foto’s van die onderskeie lande se paviljoene op die internet opspoor en ek sal lesers aanraai om dit ook te doen om die prag en praal, torings en pilare, gade te slaan. Om dan te lees die ZAR-paviljoen was die gewildste trekpleister wat deur die meeste mense besoek is, vertel iets van die gevoel van daardie tyd: Die Franse het hulle tydens die Anglo-Boereoorlog aan die kant van die Boere geskaar en was erg negatief oor die Engelse.

Ná sy aankoms in Parys is Paul dwalend van verlange na die meisie, Miriam, wat hy drie jaar laas gesien het. Dit is ’n verbode liefde, omdat Miriam se ma haar dogter in ’n Joodse huwelik wil indwing. Maar gou ontmoet Paul vir Sébastien, wat hom aan die naglewe van Parys bekend stel. Miriam skuif gou op die agtergrond namate Paul kennis maak met absint, wat hy op bl. 49 die “Groen Feeks eerder as die Groen Fee” noem, en wanneer hy die nagklubdanser Monique ontmoet wat hom verder op die breede weg help. Maar dan vind ’n insident plaas wat Paul tot besinning skok.

Oor Parys laat Paul hom soos volg uit (bl. 153): “Hy kan verstaan dat mense sê ’n mens raak verlief op Parys – soos op ’n ander mens.”

Saam stap die leser deur die strate van die Franse hoofstad en ervaar hoe Paul die warm punt van die baguette afbreek en eet, hoe die bakker en slagter vir hom waai wanneer hy die trem na Trocadéro haal en Montmartre se strate bewandel. Ons leer dat piekniek (pique-nique) sy ontstaan in Frankryk het. En wanneer Paul genooi word om forelsalm gestoom in Rynse wyn by ’n luukse restaurant te eet, kom Ernest Hemingway se woorde by my op: “If you are lucky enough to have lived in Paris as a young man, then wherever you go for the rest of your life it stays with you, for Paris is a moveable feast.”

Ná die ekstase oor die stad wat sy sintuie geannekseer het, begin Paul se gedagtes teruggaan na sy vaderland (bl. 123): “Die foto’s in hulle koerante van vegters in verslete klere wat tussen kranse en klowe moet wegkruip, kontrasteer skerp in sy gedagtes.” In briewe vertel sy suster van die probleme in Natal en die Transvaal en haar kommer dat die oorlog uitbrei. Wanneer hy verneem sy suster se man het by die rebelle aangesluit, wonder hy of sy swaer saam met kapt. Danie Theron veg en luister na die veldslae waarin Christiaan de Wet en De la Rey die vyand treiter. Paul voel toenemend ongemaklik omdat hy nie in dié tyd by sy mense is nie (bl. 68): “Ek voel soms of ek twee harte het. Die een waar ons voorvaders vandaan kom en die ander daar waarheen hulle gegaan het.”

Maar uiteindelik is Paul bevoorreg om die ZAR-paviljoen aan ’n broos en moeë, uitgeweke pres. Kruger te kan wys.

Die skrywer sê in ’n onderhoud sy het met die stories oor die Anglo-Boereoorlog grootgeword en gedurende haar en haar diplomaat-eggenoot se verblyf in Marseilles en Parys geskrifte en koerante van hierdie tydvak begin versamel en inligting in argiewe opgespoor. Sy het ook die Anglo-Boereoorlog-kenner Fransjohan Pretorius om sy mening gevra. Haar kennis en liefde vir Parys skemer deur in die ingekleurde prent wat sy van die Stad van Liefde skets, maar ’n mens kry ook die gevoel van buitestanderskap.

Hier is ’n bedrewe skrywer aan die woord wie se sterk joernalistieke hand duidelik sigbaar is.

Wat ek ook waardeer is dat die Franse woorde wat in gesprekke opduik nie ’n steurnis word vir lesers wat nie die taal ken nie. Dit verleen Franse flair en atmosfeer en word subtiel verduidelik sonder dat dit die vloei onderbreek.

Die voorblad, die amptelike plakkaat van die Wêreldskou van 1900, verdien spesiale vermelding. Daar sit Marianne, die simbool van Frank-ryk wat op hul geldeenheid en seëls pryk, met ’n Vierkleur in die hand. Ek kon dit nie verhelp om patrioties te voel nie.

In ’n onderhoud op Die Groot Ontbyt sê die skrywer sy werk reeds aan ’n volgende historiese roman. ’n Mens kan maar net hoop ons hoef nie nóg tien jaar daarvoor te wag nie!

  • Juliana Coetzer is ’n skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.