Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boetiekfees bekyk klimaat, wakker lees aan
Miché Solomon, beter bekend as Zephany Nurse. Foto: NB-uitgewers

Aardverhitting, die invloed van klimaatsverandering en, natuurlik, ’n liefde vir lees is van die spilpunte waarom die 8ste Prins Albert Leesfees in November sal draai.

Volgens Linda Jaquet, voorsitter van die feeskomitee, is dié lywige onderwerpe onder die tema “Kyk met nuwe oë” saamgevat. Dié tema is vanjaar gekies weens veral die “vernietigende droogte” in die Karoo.

“Kyk ons genoeg om ons rond? Is ons bewus van ons omgewing en die gevaar wat ons loop om dié wonders te verloor?” vra Jaquet. “Ons wil dié en ander kwessies wat vir ons saak maak verken terwyl ons tegelykertyd nie ons sin vir humor wil verloor nie.”

Die fees is die eerste keer in 2012 aangebied om saam te val met die 250ste bestaansjaar van Prins Albert én die 150ste bestaansjaar van die Prins Albert-biblioteek. Die fees het sedertdien van krag tot krag gegaan en skep ’n platform vir outeurs en digters van die dorp, die Karoo en die res van die land.

Die belangrikheid van die fees kan nie onderskat word nie, sê Jaquet. “Lees en boeke is belangrik – selfs die president het sy eie boekklub. Een van ons aanvanklike doelwitte in 2012 was om die liefde vir die geskrewe woord en ’n leeskultuur aan te wakker. Nou is ons die enigste letterkundefees in die Sentraal-Karoo wat die Karoo se tradisie van storievertel in die soeklig plaas.”

Fred Khumalo Foto: Argief
Pieter Hugo Foto: Argief

Die fees begin op 1 November met slypskole oor onderskeidelik kinderboeke en die skryfkuns deur dr. Mia Oosthuizen, voordat die fees amptelik begin met die bekendstelling van die fotograaf Louis Botha se derde boek, N/a’an ku sê. Die dag sluit af met die Karoo-première van die langverwagte rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer in die Showroom-teater.

Op 2 November begin die dag se aanbiedinge met ’n gesprek tussen Miché Solomon, beter bekend as Zephany Nurse, en die skrywer Joanne Jowell oor die boek Zephany: Twee ma’s, een dogter.

Pieter Hugo en Hannes Visser gesels ook oor hul debuutdigbundels; Sally Andrew gaan meer vertel oor haar derde Tannie Maria-misdaadroman, Death on the Limpopo; Fred Khumalo tree in gesprek met Jennifer Cohen oor sy jongste historiese roman, The Longest March; Kerneels Breytenbach vertel meer oor sy roman Hond se gedagte, en Anzil Kulsen en Nadine Blom gaan gesels oor Skarlakenkinders, hul roman oor mensehandel.

’n Gesprek tussen Melissa A. Volker (A Fractured Land and Shadow Flicker), Dawn Garisch (Breaking Milk) en Karina M. Szczurek sal die fokus weer na die omgewing verskuif, voordat die dag afgesluit word met #NotAllLions, ’n revue deur Mike van Graan wat uitgevoer word deur Nancy Sekhokoane.

Dr. Azille Coetzee Foto: Jaco Marais

Sondag 3 November is ook propvol boekejolyt: Helen Moffett gaan met Szczurek gesels oor waterbesparing; Dana Snyman gaan meer vertel oor sy jongste boek, Soekmekaar, en dr. Azille Coetzee gaan met Dennis Cruywagen praat oor haar outobiografiese reisverslag, In my vel. Die regisseur Brett Michael-Innes se nuwe rolprent, Fiela se kind, sluit die fees in die Showroom-teater af.

Die fees word vanjaar deur verskeie rolspelers moontlik gemaak, onder meer die Dagbreek-trust, die LW Hiemstra-trust, die Prins Albert-gemeenskapstrust, Penguin Random House Suid-Afrika, NB-uitgewers, die ATKV, Van Loveren Family Vineyard, die Oudtshoorn Courant, die Mont d’Or Swartberg-hotel en Spar Prins Albert.

  • Die Prins Albert Leesfees vind van 1 tot 3 November plaas. Kaartjies vir die aanbiedinge tussen R40 en R450 is by die deur beskikbaar, maar kan ook by 023 541 1014, die Prins Albert-biblioteek in Kerkstraat of op www.princealbertleesfees.org bespreek word. ’n Volledige program is ook op dié webwerf beskikbaar.
Meer oor:  Feeste  |  Fred Khumalo  |  Azille Coetzee  |  Zephany Nurse  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.