Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Boksverslag’ oor 1970’s is ’n uitklophou

Ivan Vladislavic se toeganklike nuwe roman oor twee boksbetottelde broers van Pretoria is ’n uitbundige plesier, maar, soos te wagte, ook ewig ontwykend, skryf Michiel Heyns.

Ivan Vladislavic.
Ivan Vladislavic. Foto’s: Joanne Olivier

The Distance deur Ivan Vladislavic. Uitgewer: Umuzi. Prys: R270

Soos die meeste van sy vorige werk is Ivan Vladislavic se nuwe roman tegelykertyd hoogs toeganklik en eindeloos ontwykend.

Ek sou kon sê dit is postmodernisties, maar dit is ’n bra verbleikte etiket vir hierdie heerlik uitbundige, knoetserige draadwerk van ’n boek.

The Distance begin maklik genoeg met die afwisselende relaas van twee broers, Joe en Branko Blahavic, wat terugkyk op hul seunsjare in die Pretoria van die 1970’s. Op hierdie vlak is dit ’n bekoorlike herlewing van ’n doodgewone, liefdevolle gesin.

Ek sou kon sê dit is postmodernisties, maar dit is ’n bra verbleikte etiket vir hierdie heerlik uitbundige, knoetserige draadwerk van ’n boek.

Joe is die boekwurm, effe preuts?.?.?. (“He once told Donny Drummond to close his eyes during the Lord’s Prayer, to which Donny Drummond replied: Why don’t you close your eyes, you tit, then you won’t know mine are open”); Branko is meer van ’n breker (wel, aspirant-breker – hier is sy eerste soen: “I’ve practised French kissing on the back of my hand but I didn’t imagine it would be like a small wet animal over your lips”). Branko is die ouer broer, besorg dog ongeduldig met sy onpraktiese neus-in-die-boek-broertjie, maar diep lojaal in die aangesig van enige bedreiging van buite.

Vladislavic is natuurlik veral bekend as interpreteerder van Johannesburg, soos in sy meesterlike Portrait with Keys (2006); hier rig hy sy sardonies-terugskouende blik op die Jakarandastad in die glorietyd van apartheid en nasionalisme. Nie dat die jong Joe en Branko politiek bewus is nie – hulle groepsbewustheid is beperk tot die lukrake snobisme van ’n Engelse seuntjie in ’n Afrikaanse stad. Wanneer hulle dus op hul goedhartige pa se aandrang “some clot in a Studebaker” se kar uit die modder sleep by Bon Accord (“The whole place smells of mud and unhappy fish”), raak Branko se nuwe hardloopskoene vol modder (“They’re just a pair of tackies, Joe says”), en toe hulle in Sunnyside stop, verseg hy om uit die kar te klim: “I’m not going to walk around kaalvoet in town like a rock.”

Of wanneer die jong Hollander Ferdi Kouters al Joe se albasters by hom afdobbel, en Joe se pa by Ferdi se pa gaan kla: “Mr Kouters gives his son an earful. We can half understand the Dutch or maybe he’s picked up some Afrikaans, like fokken and bliksem.”

Ivan Vladislavic.
Ivan Vladislavic.

Een van die groot plesiere van die boek, sekerlik vir iemand wat daardie tydperk meegemaak het, is die herontdekking van die slêng: “sarmies” is nog by ons, maar wie onthou nog wat “underrods” of “chorbs” was? Of ’n “slash”? Om van “effies” nie te praat nie!

En dan is daar die desperate “vermaaklikheid” van daardie dae voor televisie: die rofstoei in die Pretoria-stadsaal (“At each corner are flower arrangements on meranti pedestals left over from some function hosted by the Transvaalse Landbou-Unie, tall vases of proteas and sprays of baby’s breath like clouds of flies”), en die Sondagmiddae by die Bapsfontein Hotel (“Usually there’s some professional act like Jody Wayne or Gene Rockwell to make it worth sitting through the roster of amateurs with their off-key renditions of ‘House of the Rising Sun’ and ‘Distant Drums’ ?.?.?. Also on the bill was a plaasjapie in a shabby dustcoat and a felt hat with a turned-up brim, an Al Debbo lookalike, doing his version of ‘Sousboontjies’, stretching the sooouuus out into a gelatinous yowl that brought the house down.”)

Ek sou hierdie hele resensie kon wy aan aanhalings uit dié heerlike boek, maar daar is soveel meer aan die gang as ’n blote terughunkering na, in Branko se ontgogelde formulering, “long ago, when white people were still interesting”. Die eerste sin van die boek, in Joe se relaas, lui: “In the spring of 1970, I fell in love with Muhammed Ali.” Die res van die boek is ’n kroniek van hierdie liefdesverhouding, gegrond op ’n enorme argief van koerantuitknipsels wat die jong Joe sorgvuldig (maar nie altyd sistematies nie) geliasseer het.

Groot dele van die boek bestaan dan uit die volwasse Joe se ontleding van die koerantberigte. Die boek is onder meer ’n boeiende besinning oor die media: hoe ’n geskrewe medium soos die koerant verskil van die visuele, en hoe albei media ons ondervinding van ’n gebeurtenis of ’n persoon beïnvloed: “The sportswriters of the 1970s waged a rearguard action against the rise of television by asserting the value of newspapers as a means of documenting and understanding the world. They were champions of the written word. ?.?.?. You could say I fell in love with the writing rather than the boxing.” (Soos ’n mens sou verwag van Vladislavic is die analise van die taalgebruik van boksverslaggewers vlymskerp en insiggewend.)

Ivan Vladislavic.
Ivan Vladislavic.

As skrywer (wat hy nou is) voel die volwasse Joe hy behoort hierdie ryk gegewe op die een of ander manier gestalte te gee in ’n boek, maar hy weet nie hoe nie: “I wanted to be a writer and the box [of press cuttings] came to seem like a key to my past. It was a journal written in code, the most complete record of my teenage life to which I had access, despite the fact that I was not mentioned in it once.”

Dan kry hy ’n ingewing: Hy sal Branko, wat nou ’n rolprentredigeerder is, vra om sy eie herinneringe van hul jeug te boekstaaf om dit af te speel teen Joe se narratief.

In Branko se woorde: “He comes in with the Pres Les box in his arms and what Dad would have called a hare-brained scheme in his head. He wants us to collaborate on his book. I’ll make space for you in the text, he says.”

Gegewe dat die boek wat ons nou lees, bestaan uit afwisselende narratiewe van die twee broers, aanvaar ons dat ons, in die beste postmodernistiese tradisie, nou die produk van hierdie samewerking lees.

Maar in hierdie Russiese pop van ’n boek is dit nog het einde niet. Ek sal nie die verdere verloop van dinge verklap nie, behalwe om te sê dat dit onverwags is en dat Branko se seun, Jordan, dit “a special kind of bromance like Butch Cassidy and the Sundance Kid” noem.

En dit is miskien wat, tussen al die verbysterende detail deur, die sterkste deurskemer: ’n dialoog tussen twee broers, of ’n herskepping van ’n verhouding, ’n onderhandeling tussen die broers, soos Branko dit stel: “My brother wants me to tell his story. Or is it mine? Ours? Can a story ever belong equally to two people?”

Ek dink die roman beantwoord daardie vraag, deels deur sy vorm. Wat onderhandel word, is die broers se gesamentlike greep op daardie verlede wat hulle gedeel het: Elk van die twee helftes van die verhaal het die ander helfte nodig om sin te maak, net soos die broers self.

Miskien geld wat Branko sê van die boksgevegte van weleer ook vir die hele milieu van die boek: “The fights look better in the past tense, the distance has given them charm, if not glamour.” Sal ’n nuwe geslag, wat nie die “distance” so ervaar nie, dieselfde plesier put uit die verwysings na Elvis, Evel Knievel, Edworks en effies? Wel, dalk nie, maar ek glo tog dat die warm menslikheid, die onderbeklemtoonde humor en die genot van die alledaagse ’n tydlose bekoring het.

Of nie? Laat my weet, julle 20- en 30-jariges. Maar lees eers die boek. Dis ’n uitklophou.

* Michiel Heyns is ’n bekroonde skrywer, vertaler en resensent van Somerset-Wes.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.