Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bonsaiboek wys waarde van ons wortels

In ’n era waarin ons worstel met identiteit, bied Bart de Graaff in ‘Barend Barends: Die vergete kaptein van Danielskuil’ ’n oorrompelende blik op ’n vergete Griekwa-voorvegter en sy nageslag, skryf Bill Nasson.

Barend Barends: Die vergete kaptein van Danielskuil deur Bart de Graaff, uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo. Uitgewer: Paternoster Books. Prys: R160.

Hierdie fassinerende bonsaiboek is ’n skitterblink pêrel in ’n andersins (oorwegend) sieldodende see van moderne voorouerverering onder aanvoering van ’n hedendaagse nasionalistiese elite. Dié elite beskou die Suid-Afrikaanse verlede as ’n politieke klaskamer waar almal moet leer wat verheerlik en wat veroordeel moet word. Nou ja, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde – of, soos die Franse sê: plus ça change.

Barend Barends: Die vergete kaptein van Danielskuil deur die Nederlandse historikus, joernalis en skrywer Bart de Graaff is mooi uitgegee. Al beslaan dit net 96 bladsye, word die leser oorrompel deur dié greep lewende geskiedenis van ’n piepklein, vergete hoekie in die Noord-Kaap. Boonop kan ’n mens iets uit die verhaal wys word.

Dié mense en hul geskiedenis leer ons hoe waardevol dit is om die ineengestrengelde wortels van hierdie nasie te probeer verstaan, en om waardering te hê vir ’n stilweg roerende verhaal oor hoe ’n mens vandag sommige van hulle nou byna vergete nageslag, wat teruggevoer kan word na die einde van die 18de eeu, sal raakloop in die Spar op Kuruman waar hulle inkopies doen.

In Barend Barends is die skrywer ’n ongewone, energieke, nougesette soort speurder. Hy is ook ’n tydreisiger wat voortdurend wissel tussen daaglikse waarnemings in die jaar 2018 (“ ’n geelslang gesien” of hoe “gefrustreerd” hy voel), en lord Caledon in 1809 en Shaka Zoeloe. Hy het heelwat op die hart en dié boek is die reis wat hy aanpak om te probeer sin maak van alles voor hy in April 2019 uiteindelik weer sy voete laat rus in Middelburg, Nederland.

De Graaff is die jagter wat op die spoor is van Barend Barends, ’n byna vergete Griekwakaptein van die Noord-Kaapse dorp Danielskuil, en sy nageslag. Sy boek herinner jou helder aan wie Barend Barends was, maar vertel ook die storie van die Griekwas – waar hulle vandaan kom, wie hulle was, wat hulle verteenwoordig. Teen die begin van die 19de eeu was dié etnies gemengde groep, deels van Khoi-afkoms, van die hardwerkendste en mees gevorderde inwoners van die noordelike grensstreek van die Kaapkolonie.

’n Boek van heldeverering is ‘Barend Barends’ nié.

Hulle het bekend gestaan as Griekwas, maar soms ook as Oorlams of Basters, wat hul status geniet het en waar hulle kon voordeel getrek het uit die koloniale samelewing. Die pastorale Griekwas was veeboere en jagters. Hulle het perde, waens en vuurwapens gebruik, kommando’s gestig, Hollands gepraat en Westerse gewoontes (soos die dra van hoede) aangeneem. Die Christelike geloof en kerk speel ’n kernrol in hul reputasie as baie ordentlike mense.

Die Griekwas was in vele opsigte dieselfde as die Boere langs die grens, maar hul lot deur die loop van die 19de eeu was veel erger. Hulle is stadig van hul grond af verdryf deur groeiende wit pastoralisme en die opbloei in die mynbedryf rondom Kimberley. Die Griekwa-hoofmanne of -kapteins was verplig om met hul volgelinge te trek en nuwe grondgebied te soek.

Leiers soos Adam Kok III en Nicholas Waterboer is vandag nie volkome vergete nie, maar Barend Barends, die voorvegterkaptein van die Barends Griekwa, is heeltemal uit die geskiedenisboeke gevee.

Maar nou is hy terug in die kollig, die man wat geglo het sy kommando’s doen Goddelike werk in die oorlog teen die Ndebele in die 1820’s, danksy De Graaff se verbeeldingryke verkenning van sy Danielskuil-erfenis. Hy skryf “miskien is die belangrikste aspek van Barend se jare op Danielskuil die feit dat hy die reputasie van ’n gevreesde krygsman opbou”. En ’n mens kan nie stry nie: Die romantiek van ’n status as vreeslose vegter verrig steeds wondere wanneer jy die dag herontdek word as “spook uit die verlede”.

Maar ’n boek van heldeverering is Barend Barends nié. Net so is dit nie in die styl van ’n konvensionele biografie geskryf nie, al leer ’n mens ’n magdom interessante goed oor die wedervarings gedurende die Barends-kapteinskap, die einde van sy lyn in die Griekwa-geskiedenis en die unieke karakter van die diep Ghaap-streek. Die biografie trek weg net buite Kuruman, op die pad van vandag, waar De Graaff en sy twee ewe weetgierige reisgenote – ’n antropoloog en ’n rolprentmaker – hul reis begin. Die trio is nuuskierig verby, en vir weke word daar rondgesnuffel, GPS-koördinate nagegaan, gestop en gery. Danielskuil, Kuruman en Vryburg word amper deel van ’n lied van die gees wat afsluit met die woorde “almal is moeg”.

’n Begraafplaas en ’n vreemdvormige rots word gefotografeer en verskeie onderhoude geskied met inwoners van Danielskuil, onder andere ’n vrou met die lieflike naam Griet Goeieman.

Die stories, halwe herinneringe en selfs liedjies wat in die blaaie van hierdie roerende boek vasgevang is, vul jou truspieëltjie. Dit is die lyne wat agter jou lê. Daardie lyne is die lewens en die laaste erfenis van die Barends Griekwa en hul formidabele kaptein. En tesame laat hulle sy ou Ghaapse hart weer klop, maar herinner ons ook aan iets anders: Dat die geskiedenis van die verlede amper altyd ook die geskiedenis van die hede is.

Die ontdekking van die vergete stemme en afgeskeepte ervarings van Danielskuil is ook die ontdekking van die spesifieke kulturele identiteit van die mense wat vandag as lede van die Griekwavolk identifiseer.

Dit is daarom gepas dat die Griekwa-volksorganisasie vroeg reeds in De Graaff se storie ’n verskyning maak. Per slot van rekening is die vroeë 21ste eeu die era waarin ons selfbewus worstel met identiteit. Maar hier, ten minste, is dit een van ware diversiteit, met die Griekwa as Suid-Afrika se smorgasbord.

?Koop die boek by die ATKV deur ’n e-pos te stuur aan Mercia Eksteen by MerciaE@atkv.org.za of direk by die uitgewer (joankrugertipafrica@gmail.com).

  • Prof. Bill Nasson is verbonde aan die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.