Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bontspan vir boekwurms

Dié hutspot van nuwe en vertaalde romans en twee kortverhaalbundels beloof om fiksieliefhebbers se leeslus te bevredig.

Marinda van Zyl se Rooiborslaksman is die vervolg van haar epiese historiese roman, Amraal(2015), en speel af teen die 19de-eeuse oorlog tussen die Namas, Herero’s en die Duitsers in die destydse Duits-Suidwes-Afrika. Liesbet Lambert, laatlam van kaptein Amraal, word wees gelaat tydens die pokke-epidemie, terwyl Gobabis se kerktoring vir Frederik Vlermuis ál meer lyk soos die spierwit pendoring waaraan die rooiborslaksman sy prooi ryg.

Is hý die rooiborslaksman, soos die heldersiende Koekoes vermoed, of is dit Leutwein, die Duitse bevelvoerder? ’n Resensie verskyn binnekort.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R295.

In Rika Cloete se Skadukant, ’n sielkundige riller in die domestic noir-genre, word swanger vroue op die kusdorpie Murraybaai deur ’n moordenaar geteiken . . . maar die verwagtende Deirdre O’Brien is vasbeslote om nié die prooi in sy kat-en-muis-speletjie te word nie. Ons plaas eersdaags ’n resensie.

Uitgewer: Kwela. Prys: R290.

Swartslang is Thomas Deacon se verwerking van Rooigrond, sy debuutroman in beeldryke Sotho-Afrikaans, wat in 1995 verskyn het. In dié folklore spoeg die lewe bitterwater vir Bohato wat met die helm gebore is en bang is vir Swartslang, maar hy gee nie moed op nie, nie eens op die myne wanneer die pad vir hom te lank word nie. Maar net toe hy dink sy voete roer op die pad wat die Modimo vir hom oopgekrap het, is Swartslang se skadu terug . . .

Bestel dit aanlyn by www.minimalpress.co.za (klik bo op “Shop”).

Uitgewer: Minimal Press. Prys: R240.

Die veelbekroonde Kobus Geldenhuys se Afrikaanse vertaling van Paulo Coelho se topverkoperroman, Brida, het pas verskyn. Dié roerende verhaal van liefde, hartstog, misterie en spiritualiteit vertel die storie van ’n beeldskone Ierse meisie se soeke na kennis en haar ware lotsbestemming.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R225.

Fanie Olivier is die vertaler van die Vlaamse skrywer Erwin Mortier se vyfde roman, Wanneer gode slaap. Hierin probeer ’n byna 100-jarige vrou om haar herinneringe om te skakel in taal. Sy kyk terug op haar kinderjare, die liefdes wat sy geken het, haar huwelik en ervarings in die Eerste Wêreldoorlog. Die fokus is nie op groot gebeurtenisse tydens die oorlog nie, maar die uitwerking wat dit op gewone mense gehad het.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R275.

Die oudjoernalis Emile Joubert se derde kortverhaalbundel, So byna blou, bevat tien verhale waarin die deurlopende tema afstand tussen mense is en hul onvermoë om werklik met ander kontak te maak. Elke karakter is in wese ’n geïsoleerde figuur wat ’n waterskeidingsoomblik beleef waarin sy of haar lewe onvermydelik verander.

Hou die boekeblad dop vir ’n resensie.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R225.

Altesame 24 kortverhale wat die kortlys van die Chris Barnard-prys in samewerking met sy weduwee, Katinka Heyns, gehaal het, is opgeneem in dié bundel wat deur Zalman S. Davis saamgestel is. Die beoordelaarspaneel het bestaan uit die skrywers Madelein Rust, Carla van der Spuy, Malene Breytenbach en Elsa Winckler.

Bestel dit aanlyn by www.minimalpress.co.za (klik bo op “Shop”).

Uitgewer: Minimal Press. Prys: R240.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Kortverhale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.