Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Booker-wenner is 30 keer afgekeur

Die Skots-Amerikaanse skrywer Douglas Stuart het verlede Donderdag die gesogte Booker-fiksieprys vir sy outobiografiese debuutroman, Shuggie Bain, gewen.

Dié roman, wat “bestem is om ’n groot klassieke werk te word”, is gegrond op sy grootwordjare in die 1980’s in Glasgow, Skotland, wat deur armoede en verslawing gekenmerk is.

Booker-fiksieprys
Douglas Stuart Foto: Martin Pickersgill

Stuart (44) is die tweede Skotse skrywer om hierdie prys van £50 000 te wen nadat James Kelman dit in 1994 vir sy boek How Late It Was, How Late gekry het.

Hy sê in ’n onderhoud op die Booker-prys se webblad Kelman se boek het sy lewe verander, want dit was een van die eerste kere wat hy sy mense en dialek op papier gesien het.

Stuart dra Shuggie Bain op aan sy ma, Agnes, wat aan alkoholverslawing dood is toe hy 16 was.

In ’n onderhoud met The New York Times sê Stuart 30 redakteurs het die boek afgekeur voordat Picador, ’n druknaam van Pan Macmillan, dit gepubliseer het.

The Bookseller het die afgelope week aangedui dit is die roman wat die beste verkoop van die ses titels op die Booker-prys se kortlys. Stuart het sy Booker-prys ontvang op die geleentheid in Londen se Roundhouse, wat John Wilson van BBC Radio 4 aangebied het.

Die seremonie het bydraes ingesluit deur die hertogin van Cornwall, Camilla Parker- Bowles, oudpres. Barack Obama en drie vorige Booker-pryswenners, Kazuo Ishiguro, Margaret Atwood en Bernardine Evaristo.

Margaret Busby, voorsitter van die beoordelaarspaneel, sê Shuggie Bain kan ’n groot klassieke werk word.“ 

’n Roerende, indompelende, genuanseerde beeld van ’n hegte sosiale wêreld, sy mense en waardes."

Booker-fiksieprys
'Shuggie Bain' deur Douglas Stuart.

Dit vertel die verhaal van die onvoorwaardelike liefde tussen Agnes Bain en haar jongste seun.

Shuggie worstel met die verantwoordelikheid om sy ma van haarself te red. Terselfdertyd moet hy sy eie andersheid in die gesig staar.

“Dit is bekoorlik en kragtig geskryf,” sê Busby, ook kritikus en voormalige uitgewer.

“Hierdie roman maak ’n impak met sy emosionele registers en deernisvolle karakters. Die poësie en stiptheid in Douglas se beskrywings staan uit: niks word vermors nie.”

Volgens Busby laat Shuggy Bain ’n leser huil en lag. 

"’n Waagmoedige, vreesaanjaende en lewensveranderende roman.”

Obama het op die seremonie gesê:“Ek het my nog altyd na skryfwerk gewend om van die wêreld sin te maak. En op hul beste herinner Booker-bekroonde boeke my aan die mag van fiksie om onsself in ander skoene te plaas, om hul worsteling te verstaan en ons nuwe maniere te verbeel waarop ons komplekse probleme kan takel en verandering teweegbring.

“Ek salueer die werk van die Booker-prysstigting om mense aan te moedig om meer fiksie te lees en die kuns van lees vir openbare voordeel te bevorder.”

Stuart het aan die Royal College of Art sy studie voltooi en daarna na New York in die VSA verhuis om ’n loopbaan in modeontwerp te volg.

Hy het vir handelsmerke soos Calvin Klein, Ralph Lauren en Gap gewerk en in sy vrye tyd begin skryf.

Sy werk het al op die webblad Lit Hub en in die tydskrif The New Yorker verskyn.

The New Yorker het vanjaar twee van sy kortverhale gepubliseer.

Hy is nou byna klaar met sy tweede roman, Loch Awe, wat ook in Glasgow afspeel.

Saam met Busby was die beoordelaars die skrywer Lee Child, die skrywer en kritikus Sameer Rahim, die skrywer en uitsaaier Lemn Sissay en die klassikus en vertaler Emily Wilson.

Meer oor:  Booker-Fiksieprys  |  Douglas Stuart  |  Boeke  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.