Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bosoorlog hier net ’n sentrale skarnier

In Jaco Kirsten se tweede roman, ‘Nadraai’, word ’n aantal wederstrewige katte – van die Bosoorlog tot pasmarkerende insetsels oor die Amerikaanse modernis Frank Lloyd Wright en ander groot argitekte – saam in ’n sak gegooi, skryf Jean Meiring.

Jaco Kirsten

Nadraai deur Jaco Kirsten. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

Die gordyn lig waar Rocco de Witt, voorste Kaapse argitek, op die kruin van ’n sneeuwit Italiaanse ski-helling talm. Die sinspeling lê voor die hand.

As hy veilig die vallei aan die onderpunt bereik en sy foon aanskakel, stotter ’n gekruide boodskap deur. Wie, wonder die leser, is Gert Malan én van waar, Gehasi?

Terstond verskuif die blik van die derdepersoonsverteller, in ’n ander lettertipe weergegee, baie jare terug na ’n toneel wat op Ondangwa in die eertydse Suidwes-Afrika afspeel. Aan lt. De Witt se sy is ene sers. Malan.

Gou is die laatmiddag chroom en staan twee Dakota-vliegtuie van jong Ikarosse volgepak. Dis donker toe ’n “dalende string soldate” (bl. 12) grond toe tuimel.

Ná hoeveel jaar trap Gert Malan, wat ná sy diensplig in die weermag aangebly het, Rocco en Helga, sy jong Duitse model-minnares, se drempel voos.

Die min terugblikke benadruk die vraag: Hoe betroubaar is ’n mens se onthou ooit?

Só vou die verhaal oop van Rocco en hoe sy verlede – sy tyd in die weermag in die laat 1980’s – ongenooid en metterwoon by sy deftige veelvlakkigheid van ’n sierhuis in Higgovale aanklop. Dis ’n verlede wat Rocco grootliks aan die vergetelheid toevertrou het en waarvan Helga weinig weet. Skielik, ongesinjaleer, is die nadraai onvermydelik hiér.

Nadraai, Kirsten se tweede roman, tree dus in gelid agter die al hoe langer wordende linie boeke wat die laaste jare die lig gesien het en die Grensoorlog en Suid-Afrika se heerskappy in Suidwes-Afrika krities in herinnering roep.

Wat niefiksie betref, is enkele boeiende voorbeelde Deon Lamprecht se Tannie Pompie se oorlog (2015), Alexander Strachan se 1 Recce: Die nag behoort aan ons (2018) en, uit ’n ander invalshoek, Dave Smuts se onlangs verskene Death, Deten­tion and Disappearance: One Lawyer’s Battle to Hold Power to Account in 1980s Namibia (2019). Hans Pienaar se roman Die generaal het in 2018 die lig gesien.

Tog is die terugflitse Grensoorlog toe hiér betreklik dungesaai. Anders as in Jaco Wolmarans se breedweg vergelykbare riller Bos (2019) word die historiese gebeure nie tot ’n volwaardige neweverhaallyn ontwikkel nie. Dit dien eerder as die sentrale skarnier waarom die boek se intrige wentel. Ook benadruk die skraalheid van die terugblikke een van die groot vrae wat Kirsten aan sy lesers stel: Hoe betroubaar is ’n mens se onthou ooit?

Dat herinneringe aan die Grensoorlog nét onder die oppervlak van Kirsten se gemoed draai is egter duidelik. Reeds in die openingstoneel van sy debuutroman, Om na ’n wit plafon te staar (2009), kom die tema aan bod. (En die naam Rocco de Witt eggo opsetlik dié van Rocco de Wet, die hoofkarakter in die toentertydse fotoboekie Grensvegter.)

Al is sy twee romans – wat toon en inslag betref – wyd uiteenlopend, blyk daar uit die staanspoor tog merkbare raakpunte te wees. Die mate waarin die stelinkleding van die twee verhale met mekaar ooreenkom, kan geen toeval wees nie. Bekende drinkplekke in die Kaap en in die noorde dien as ’n geografiese filigraan wat albei stories oorspan. Pretoria se vergane Farm Inn is in albei ’n historiese én ironiese vashouplek.

Wynetikette, bekende atmosfeervestigende liedjies én Riedel-wynglase is rekwisiete wat Kirsten pertinent afstof en ’n tweede keer gebruik. Hierdie eggo’s nooi die leser uit om ’n vergelyking te tref. Wat duidelik blyk is dat Rocco in ’n mate ’n minder chauvinistiese karakter is as wat Lourens Erasmus ’n dekade gelede was – iets wat sekere resensente tóé die josie ingeja het. Waar Wit plafon ’n satire is, word Nadraai as ’n riller aangebied. Op die agterplat word lesers deur lokteks wysgemaak dit is ’n roman wat hulle sal “ruk soos ’n skokgranaat”.

Tog is ek bevrees dat, ten spyte van hope ambisie, dié bakleiwoorde nie bewaarheid word nie. Dís te wyte aan ’n aantal fundamentele foute wat baie vroeg in die redigeringsproses uitgestryk moes gewees het.

Eerstens is die tempo waarin die storie ontknoop nét te traag om lesers se aandag vasgevang te hou – wat nog te sê om hulle die gevoel te gee dat hulle by ’n helling wil-wil oor. Dis eers in die doodsnikke van die boek dat die pas in ’n ommesientjie van stadig na freneties opgedraai word.

Kirsten se prosa is boonop meesal foamalite-Afrikaans, funksioneel en vol clichés, maar sonder skerp punte wat verrassend priem. Sy ateljee tuis bied vir Rocco “ ’n kalm ontvlugting van sy alledaagse lewe . . . [dis] ’n oase van stilte en fokus” (bl. 23). Van Rocco se tafelgenote sê die verteller: “Hulle is dierbare mense wat baie vir hom beteken” (bl. 48). En van Rocco se vriendin Hannah word vertel: “Hulle ken mekaar al sedert sy dienspligdae toe hy haar tydens ’n naweekpas . . . ontmoet het. Hulle het gemeenskaplike vriende gehad en hoewel Hannah gay was en hy ’n rokjagter, het hulle dadelik goed oor die weg gekom” (bl. 67).

Hannah is juis een van die newekarakters wat eerder gesnoei kon gewees het. Soos etlike van die ander kleiner figure bly sy so onderontwikkel dat sy geen spieël op Rocco se karakter werp nie. Ook byvoorbeeld is die mindere storielyn oor die noordelike geldhebber wat in Franschhoek ’n wynkelder wil oprig oorbodig.

Hierdie én ander oortollighede is waarskynlik teen die snoeiskêr gepantser omdat hulle ontwerp is om die swaar las van Rocco se alewige teoretisering oor die argitektuur te dra. Die trae verhaaltempo is deels aan dié knaende insetsels oor die Amerikaanse modernis Frank Lloyd Wright en ander groot argitekte te wyte. As lesings-in-die-kleine voeg hulle egter min waarde toe tot die tematiese onderbou van die verhaal. Hulle bly wafferse romanmatige rococo.

Eweneens word selfs Helga só dun gekarakteriseer dat sy nooit tot iets meer uitdy as ’n stereotipe van die Duitser-in-Kaapstad nie. Sodoende boet die verhaal aan geloofwaardigheid in.

In Nadraai word ’n aantal wederstrewige katte saam in ’n sak gegooi. Die uitgewer se mense moes vroeg hul oë geskreef en hokaai geroep het. Van redding was daar toe nog sprake.

Selfs met die teksversorging is daar tekens van ’n vreemde ongeërgdheid. In twee opeenvolgende sinne, byvoorbeeld, word sowel ’n voorkop as ’n brilraam – op dieselfde gesig – as “hoekig” beskryf (bl. 45).

Hoekom?

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.