Lugkasteel
Annelie Botes
PENGUIN, R220
Annelie Botes se rou eerlikheid waarmee sy haar lesers elke keer oorrompel dat hulle vra vir nóg, oorskry soms die perke wat ’n brose gemoed in ’n veilige omgewing kan hanteer. Miskien is dit juis dít wat haar boeke so van die rakke af laat vlieg. Mense assosieer met ’n donkerte in hulself wat hulle nie kan waag om uit te spel nie.
Met Lugkasteel waag Botes selfs in donkerder poele van menswees, daar waar ons veg vir ons eie oorlewing, waar ons trots gesetel is. Sy slaag daarin om die leser deur die lang gange van Meadow Court te neem, verby die kis waar die benoude reuk van die vlegsel van ’n dooie vrou talm, by die agterkant uit waar sy deur die sneeu ploeg om warmte te gaan soek in die baarmoeder van ’n antieke Mercedes Benz. Dis daar waar sy haar honger stil met ’n rou, gesteelde eier uit die hoenderhok, wat sy met ’n stokkie omroer om dit te kan binnehou.
Dit het tien jaar geneem voordat Botes gereed was om hierdie boek te skryf, voordat sy diep genoeg kon delf in haar eie donkertes en motiewe, maar tog ook met die luukse van nabetragting.
Elke dogtertjie droom daarvan om ’n prinses te wees; toe Botes dus die geleentheid kry om in ’n regte kasteel op die Engelse platteland te gaan werk as goewernante en oppasser, het sy dit aangegryp. Met haar belesenheid, insig in Shakespeare se werk en kennis van musiek, het sy vergesigte gehad van die bydrae wat sy sou kon lewer tot die “klein koninkies” se opvoeding in ’n sprokieswêreld van golwende groen heuwels, in ’n regte kasteel. Nooit het sy kon droom wat die lewe in die kasteel werklik sou behels nie.
Die wit kat en Louise wat nie rus kon kry nie. Fantasie of werklikheid? Die sprokies in Clarissa Pinkola Estés se Women Who Run with the Wolves is vir die leser daar, The Little Match Girl wat smeek om iets in ruil vir die lig wat sy kon bied, maar telkens teleurgestel word.
Vertellings wissel met tydspronge tussen hede en tien jaar terug, ingevul met insidente uit haar verlede.
Lugkasteel eindig vir my amper stomp, met die laaste stuk oor ’n verdere reis, waar Botes ’n amper bonatuurlike sinchronisiteit beleef. ’n Droom wat waar sou kon word. Dit voel amper of hierdie stuk óf te min óf te veel aandag gekry het, as ’n nagedagte. Soos met al Botes se boeke, prikkel dit egter die nuuskierigheid om meer te wil weet. Op dieselfde manier is die geheim oor haar en Hartlam uit Sabbatsreis in Lugkasteel opgeklaar.
Sou ons kon hoop vir ’n opvolg oor hierdie reis waar sy weer met outisme te doen kry, soos in Raaiselkind, om al die vrae wat ontstaan op te klaar?
Trisa Hugo is ’n vryskutresensent van Kleinmond.