Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Botes keer altyd terug na die broosheid

“Ek neuk altyd terug na die mens en sy broosheid,” sê die skrywer Annelie Botes oor haar boek Kainsmerk wat onlangs deur Penguin Random House uitgereik is.

Annelie Botes

Dié bundel kortverhale wat almal voorheen in tydskrifte verskyn het, se karakters het almal ’n kainsmerk.

“Ons almal het dié merk wat ons probeer verbloem en waaroor ons nooit praat nie,” sê Botes, ook die skrywer van romans soos Trippel Sewe, Thula-Thula en Raaiselkind, wat ook as fliek uitgereik is.

“Daar is verkeerdhede en onvervuldhede in ons, maar tog maak ons dit almal. Die genade is aan ons kant. Toe het ek aan ‘kainsmerk’ gedink.”

Sy het op die idee vir die titel in die Bybel afgekom toe sy eintlik na iets heeltemal anders op soek was.

“Ek is baie erg oor woordeboeke – dis amper ’n obsessie – en die Bybel as ’n literêre geskrif. Die taal is so mooi. Ek raak involved . . .. nuwe woorde en wat dit beteken.

Dikwels, as ek nie ’n titel vir iets kry nie, gaan soek ek in Jesaja of in die Bergpredikasie.

“Baie van my titels kom uit die Bergpredikasie. So sit ek eendag en ek lees weer van Adam en Eva en net daarna van die broers Kain en Abel.

“Kain het vir Abel doodgemaak en Kain kry toe ’n merk op sy voorkop en hy word ’n doellose swerwer. Toe sê God vir hom: Enigiemand wat vir Kain probeer doodmaak oor die merk op sy voorkop, sal sewe maal gestraf word. En net daar het die titel na my gekom.”

Kainsmerk deur Annelie Botes.

Al die verhale in Kainsmerk handel oor mense met tekorte, swakhede of berou.

Botes meen dit is seker maar haar manier van skryf, veral wat kortverhale betref.

Die verhale bestaan uit karakters soos ’n vrou wie se man, ’n ouderling, haar verniel en begin drink; ’n huishoudster wat tronkstraf vir diefstal uitgedien het en vir ’n man met ’n rare obsessie werk; en ’n vrou wat heling in ’n grot op haar geboorteplaas gaan soek.

“Dis alles om ’n kern van waarheid gebou,” sê Botes. “Daar is niks in Kainsmerk wat eintlik onwaar is nie, maar ek meng die stories. ’n Storie moet ingekleur word. ’n Storie moenie net bene hê nie, hy moet vlees hê. So, uiteindelik is alles nie 100% akkuraat nie, maar niks in daardie boek het nie gebeur nie. Ek kan dit nie anders doen nie. Dit moet real wees.”

Sy kom soms op ’n tema af, wat sy meen nie genoegsaam vir ’n roman is nie.

“Dan wil ek graag nog so af en toe ’n kortverhaal skryf waarin ek hierdie goeters uit my hart uit skrywe.”

In haar vorige boek, Lugkasteel, skryf sy dat dié boek oor haar ervaring as goewernante in Brittanje haar laaste boek sou wees, maar dat sy tog ’n uitgewer soek wat spesifiek haar tydskrifverhale sal publiseer. Sy is ook ’n koerantrubriekskrywer, en dié rubrieke is ook al in ’n paar bundels saamgestel.

“Baie mense loop my tydskrifstories mis. Hulle vra ‘ag, skryf weer vir ons’, dan sê ek maar daar was twee weke gelede een in ’n tydskrif. Toe het ek net gevoel dat ek so baie stories geskryf het wat fraksioneel deur mense gelees is. Toe gaan kies ek stories wat klaar geskryf is. Ek moes hulle miskien net ’n bietjie uitkam. Ek wou die kortverhaalbundel saamstel en my oeuvre afsluit.”

Sprake van ’n volgende boek is egter nie uitgesluit nie.

“Daar is nog een boek wat ek dink ek wil skryf. Dalk hou ek vir die res van my lewe aan met skryf, maar ek wil dit nie meer onder druk doen nie.”

* Kainsmerk word deur Penguin Random House uitgegee en kos R280.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Skrywers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.