Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Branderjaer’ tref soos ’n tsoenami

Joha van Dyk se jeugromandebuut, ‘Branderjaer’, is ’n genreverruimende eietydse grootwordverhaal – ’n mengsel van speur, aksie, misdaad en romanse met sterk karakters en oorspronklike taalgebruik, skryf Magdel Vorster.

Joha van Dyk se jeugromandebuut, ‘Branderjaer’, is ’n genreverruimende eietydse grootwordverhaal – ’n mengsel van

speur, aksie, misdaad en romanse met sterk karakters en oorspronklike taalgebruik, skryf Magdel Vorster. Branderjaer deur Joha van Dyk. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R195.

Lesers wat hierdie boek aanskaf in die hoop om voor die somervakansie ’n paar waaghalsige branderplanktoertjies aan te leer, gaan Joha van Dyk (23) se opwindende jeugverhaaldebuut bedroë neersit. Maar op diegene wat nie terugdeins vir ’n bietjie speurwerk tussen die blaaie én die branders nie, wag ’n tsoenami van ’n leeservaring.

Branderjaer gaan oor jong mense wat vasgevang is in die gevolge van vorige geslagte se geheime en “bloedskuld om elke draai”, maar dit is terselfdertyd veel meer as ’n Afrikaanse Riverdale op ’n oënskynlik onskuldige kusdorpie.

Die Branderjaers is ’n adrenalienverslaafde bende: Die matriekheld Louw en sy vriende duik van kranse af, trotseer onmoontlike branders en veg om te wen óf verloor in ’n nagtelike arena.

Teenoor dié koel groepie staan “mejuffrou Volpunte”, Deidre Anker, met haar plan vir ’n LLB en ’n goeie werk. Wanneer Louw vir Deidre met wiskunde moet help om haar punte op haar ma se standaard te kry, begin sy haar “plan” heroorweeg.

Sy besef gou die Branderjaers gaan oor meer as net branders en baklei, en nodeloos om te sê verken sy en Louw saam veel meer as logaritmes en Pythagoras. Soos hulle ontdek hoe almal se bagasie oorvleuel, leer hulle meer oor hulleself en groei hulle tot sterker karakters.

Die verhaal ontvou om die beurt uit Louw en Deidre se perspektief. Van Dyk gee aan meer ervare skrywers ’n les in wys en moenie vertel nie. Haar dialoog is tipies van die ouderdomsgroep, maar skoon en kreatief. Haar taalgebruik is gestroop en oorspronklik – die “woorde jeuk” binne Louw se mond.

Daar is geen gate in Branderjaer nie. Nie een van Van Dyk se vele karakters is kosmeties nie. Elkeen het ’n rol. Deur dit aan haar lesers oor te laat om elkeen se storie en bydrae tussen die bladsye te vind, bewys sy dat sy haar teikenmark nie onderskat nie. Sy is ook nie bang om te eksperimenteer nie – in Louw se hoofstukke dra dramateksaanwysings byvoorbeeld gepas en ongeforseerd by tot karakterisering: “[JOU CUE, SWANEPOEL] Louw trek stadig sy arms los en draai haar na hom toe.”

Branderjaer is gemik op seuns én meisies van 14 jaar en ouer. Dit is ’n genreverruimende roman – ’n mengsel van speur, aksie, misdaad en romanse en ’n eerlike en eietydse grootwordverhaal.

Van Dyk is ten volle in beheer van haar storie én haar styl – ’n skrywer om dop te hou.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.