Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Breyten se 80ste gevier op fees op Wellington
Breyten BreytenbachFoto: Jaco Marais

Breyten Breytenbach vier op 16 September sy tagtigste verjaardag. Gepas is hy vanjaar die digter wat by die Tuin van Digters-fees wat op 13 en 14 September in die Breytenbachsentrum op Wellington gehuldig gaan word.

Twee bundels, wat Breytenbach se digkuns vier, word op die fees bekend gestel – die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsbundel breyten breytenbach, woordenaar woordnar, saamgestel deur Francis Galloway, asook Rooiborsduif ’n keur uit die Breytenbach se oeuvre.

Die akademikus en kunstenaar Andries Bezuidenhout lewer ’n huldigingsboodskap – Die man met die groen trui van Burgerstraat, op 13 September om 20:00 aan Breyten. Deelnemers aan dié praatjie is Yves T’Sjoen, Kerneels Breytenbach en Ampie Coetzee.

Net daarna om 21:00 word Rooiborsduif, bekend gestel deur die samesteller Charl-Pierre Naudé. Die akteur en stemkunstenaar Johann Nel sal van die gedigte voorlees.

Om 21:30 sing Laurinda Hofmeyr van haar toonsettings van Breytenbach se gedigte. Laataand om 22:00 word Willem S. van der Merwe se bundel, Nuwe verse, bekend gestel.

Saterdag is ook volgepak met die viering van digkuns. Onder die vele hoogtepunte is ’n paneelbespreking om 14:50 wat handel oor die vertaalbaarheid van Breytenbach se digkuns. Breytenbach neem self deel en is in die geselskap van Catherine du Toit, hoof van die departement moderne vreemde tale aan die Universiteit Stellenbosch, Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent, Jerzy Koch, van die departement Nederlands en Suid-Afrikaanse studies aan die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan, vertaler van Breytenbach se gedigte in Afrikaans en Ampie Coetzee, vertaler van Breytenbach se gedigte in Engels.

Die toekenning van die Ingrid Jonker-prys vind om 19:00 plaas. Pieter Odendaal ontvang dit vir sy bundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie, soos vroeër bekend gemaak.

Daarna lees Breytenbach self van sy gedigte voor om 19:30 in die Akkoordtent. Die baskitaarspeler Schalk Joubert verskaf begeleiding. Die Nederlandse sanger Lieke Joosen se program Een rijzende ster bevat haar toonsettings van onder meer Antjie Krog se gedigte.

’n Groepstentoonstelling in die Breytenbach-galery wat die werk van onder meer Breytenbach, Hardy Botha, Jacques Dhont, Jan Blohm, Susan Bloemhof en Henk Serfontein insluit, belig die tema (aan)dadig waarvolgens die kunstenaar poog in sy of haar werk om aktief deel te neem en “dadig” te wees aan die opbou van ’n beter en mooier plek vir almal.

Foto’s van Cloete Breytenbach, ’n broer van Breytenbach, wat in Mei vanjaar oorlede is, is ook te sien. Die tentoonstelling sal tot 30 September besigtig kan word. Dora en ek – ’n kunswerk in die Bôrdienghuis geïnspireer deur die kunstenaar Penny Siopis se reeks werke Dora and the Other Woman is ook te sien. Dit is ’n rok wat die mode-ontwerper en kunsstudent Dinah Maria Visagie geskep het uit gedigte.

 Toegang vir 13 September is R150 en sluit alle aanbiedinge op die dag in, toegang op 14 September is R250. ’n Tweedagpakket kos R350 per persoon en studenteafslag is R50 per persoon per dag met ’n studentekaart.

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry gratis toegang.

Meer oor:  Breyten Breytenbach  |  Fees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.