Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Breyten se rooibors-liefdesverse goël opnuut met drome

’n Keur uit die liefdesgedigte van die gevierde digter Breyten Breytenbach met die romantiek op die voorgrond, maar verse wat ook die muse(s), dood en politiek betrek, is onlangs uitgereik.

Rooiborsduif (Human & Rousseau) is deur die digter Charl-Pierre Naudé saamgestel, wat die titel en omslagfoto ook as baie belangrik ag.

Yolande Breytenbach
Yolande en Breyten Breytenbach op ’n trein afgeneem deur sy broer, die fotograaf Cloete Breytenbach. Foto: Cloete Breytenbach

“Politiek en liefde is in dié oeuvre baie verweef,” sê Naudé, “en daardie foto roep eintlik regstreeks sy hele politieke problematiek op en sy verhouding met sy vrou.”

Rooiborsduif, ’n keur uit die liefdesverse van die gevierde digter Breyten Breytenbach.

Die foto op die omslag is lank gelede op ’n trein deur Breytenbach se broer, die fotograaf Cloete Breytenbach, geneem.

Breytenbach rook ’n pyp en sy vrou, Yolande, ’n Franse vrou van Viëtnamese afkoms, slaap en rus haar kop op sy skouer.

“Dit het hom nie net aan die verkeerde kan van die apartheidsregering gebring nie, maar ook aan die verkeerde kant van die Koue Oorlog omdat die vrou met wie hy getrou het uit ’n verskeurde land gekom het,” sê Naudé.

Digter
Charl-Pierre Naudé Foto: Alet Pretorius

“As hy oor ’n vrou skryf, is dit nie net oor ’n vrou nie. Meestal nie. En dit is wat sy gedigte ook veelvlakkig maak. Tematies gesproke.”

Naudé sê hy hou van die slapende vrou op Breytenbach skouer op die foto.

“Die vrouefiguur in sy gedigte is ook ’n simbool oor baie ander dinge en ook oor die dood. Die slaap is so ’n simbool van die dood in die lewe. Daardie simbool kom in Breytenbach se werk voor.”

Nelleke de Jager van NB-Uitgewers het die titel gekies. Dit kom uit Breytenbach se gedig “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”.

“Dit is ’n gepaste titel, want ’n rooiborsduif is ’n duif wat van onderaf taamlik sigbaar is. Die voëlmotief in Breytenbach se werk is baie prominent en die titel van die bundel aktiveer dit. Die rooiborsduif sê ook iets van liefde, kwesbaarheid en al daardie goed.”

Yolande was nie sy enigste muse nie.

“Vroulikheid was ’n muse,” sê Naudé. “En daar was verskeie vorms daarvan in sy lewe, maar sy is die belangrikste muse.”

Breytenbach het in 1964 met die bundel Die ysterkoei moet sweet gedebuteer. In sy loopbaan het hy onder meer die Hertzogprys vir sy bundel Yk gekry en in 2017 is hy as die wenner van die internasionale Zbigniew Herbert- literêre prys aangewys.

“Een van die eerste kommentare oor Breytenbach se werk was: ‘Hierdie digter plaas homself pens en pootjies ín die gedig’,” sê Naudé.

“Dit was nie voorheen so dat die liriese gedig so nou met die skrywerspersona omgegaan het nie. Ek reken lesers moet onthou die skrywerspersona en die liriese persona is ook nie altyd heeltemal sinoniem nie.”

Die bundel is chronologies volgens Breytenbach se lewensverloop gerangskik.

“Daar is eintlik ’n nuwe verhaal wat ontstaan met betrekking tot bundeleenheid. Dit kom deur die weglating van ander gedigte in sy oeuvre. Met die titels van die onderafdelings het ek ’n nuwe verhaal probeer uitwerk. Breyten se lewe is ’n baie spesifieke lewe en dit het ’n chronologie wat oorweldigend bekend is. Jy kan nie te veel daarmee rondspeel nie.”

Naudé wil ook die jonger geslag met die omslagfoto bereik.

“Dit is mense van so 19, 20 jaar oud wat dalk net die naam Breyten Breytenbach ken, wat dalk geprikkel sal word om te gaan lees wat dié digter geskryf het, hierdie digter wat ’n seminale figuur geword het.”

* Rooiborsduif word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R300.

Meer oor:  Human & Rousseau  |  Nb-Uitgewers  |  Charl-Pierre Naudé  |  Breyten Breytenbach  |  Poësie  |  Gedigte  |  Boeke  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.