Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Broederband tussen mans in debuutroman ondersoek

Die ongeskrewe broederband tussen mans sowel as sekere aspekte van manlikheid wat dikwels verswyg word, is onder die loep in Sidney Gilroy se debuutspanningsroman, Klikbek.

“Daar word tans baie oor toxic masculinity gepraat,” sê Gilroy oor sy roman, wat onlangs by Human & Rousseau verskyn het.

Sidney Gilroy Foto: Steve D’Elboux

“Ons ervaar ’n tydstip in ons samelewing waar mans na hulself in die spieël moet kyk en bestek opneem van al daardie dinge wat op ’n mens se skouers rus. Die idee dat jy nie jou gevoelens mag wys nie, dat jy nie mag uitpraat nie.”

Die antagonis (wie se naam die storie sal weggee) in Klikbek, wat in die Vrystaat afspeel met drie families op die voorgrond, ervaar baie van hierdie worstelinge.

“Hoekom het dié karakter nooit vroeër in sy lewe met die sak patats vorendag gekom nie? Het daardie broederlike stilswye daartoe gely? Hy het verwarring ervaar oor wie hy as ’n man is. Die boek vra groot vrae. Daardie ongeskrewe broederband tussen mans is eintlik ’n kleinlike ding, want dis baie eksklusief. Dit bestaan net tussen sekere mans.”

Gilroy se roman beskryf die vetes van drie Vrystaatse families. ’n Boer verdwyn en die protagonis, Sollie Mthembu, moet die saak ondersoek, sy eerste groot saak.

Gilroy, ook ’n kortverhaalskrywer en ’n projekbestuurder in die ingenieursbedryf, het nie dié Vrystaatse verhaal dadelik as ’n spanningsroman geskryf nie.

“Aanvanklik was dit die verhaal van drie families. Soos met my kortverhale, wou ek gehad het dit moet die werklikheid weerspieël. Ons het so ’n diverse land.

En ons het soveel diepte in ons mense en in ons stories.”

Klikbek deur Sidney Gilroy.

Gilroy is in Virginia in die Vrystaat gebore is.

“Mense ry op die N1 en N3 en jy het nie nodig om na die dorpies af te draai nie. Jy ry vir kilometers verby plase. Daar is mense wat daar woon, mense wat hul lewe daar lei, geslagte wat hul wortels daar geplant het.

Daardie mense het net soveel aspekte en diepte as enige stedeling.

“Ek het nou al ’n bietjie in ander dele van die wêreld gewoon en dit het my opgeval hoe ryk plattelandse gebiede oor die wêreld heen is.”

Die sprong na ’n roman was vir hom moeilik. Hy het in 2015 begin om kortverhale te skryf as terapie toe hy ’n moeilike tyd ervaar het. Hy het ook pryse met van sy kortverhale gewen.

“Ek skryf nou maar vier jaar. My kortverhale moet ’n weerspieëling van die werklikheid wees. Die tydvak waarin ons leef . . . Ek het so ’n snuffelneus daarvoor dat ek kan uitpluis as iemand vir my dadels opdis.”

Hy werk nou aan ’n opvolg op Klikbek, waarin Sollie weer sy opwagting maak en die verhaal weer in die Vrystaat afspeel.

“Sollie is baie na aan my hart. Dit handel maar ook oor manwees. Dit was vir my baie moeilik om Sollie te skryf.

Ek is ’n groentjieskrywer en ek moes hom aan die lesers voorstel. Hy moes nie van die begin af perfek gewees het nie. Die lesers moes hom ook sien groei.”

*Klikbek word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R280.

Meer oor:  Nb-Uitgewers  |  Human & Rosseau  |  Sidney Gilroy  |  Vrystaat  |  Klikbek  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.