Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Broos-besielende prosa onthuts en oorrompel

Fiksie

As jy van moord droom

Deborah Steinmair

LAPA, R300

Sedert haar eerste roman, Marike se laaste dans, het Deborah Steinmair ’n buitengewone blik op die dood, misdaad, maatskaplike kwessies, geweld en trauma gekaats.

Dié liries-lieflike roman het ek eers ’n paar jaar ná die publikasie onder oë gekry, maar ek het amper onmiddellik geweet: Hier is ’n skrywer wat geen bang haar op haar kop het nie, een wat bereid is om die leser se eie opvattings uit te daag en om korte mette te maak van enige vinnige probeerslag om die teks te kategoriseer.

Ek was sedert Marike se laaste dans ’n die-hard fan en ek kon nie vinnig genoeg meer van Steinmair se boeke in die hande kry nie.

Ek was nie voorbereid op die ongewone aanslag van Poppekas (2012) nie. Wat ’n maltrap-, geen-brieke-, verruklik-vermetele stuk pulp fiction van ’n spanningsroman wat so uitbundig en vermaaklik was soos enigiets in die koker van ’n R.R Rijger. Waar Marike se laaste dans by tye elegies, vol emosie en deernis was, het Steinmair met Poppekas die ganse reëlboek by die venster uitgebliksem en bevestig dat sy nie sommer ’n one-hit wonder sou wees nie.

En wat gaan staan en doen sy toe volgende? Sy skep ’n drieluik magies-realistiese misdaadfiksie, of wat sy destyds “raaiselromans” genoem het.

Drie betreklik dun boekies wat met wonderbaarlik kostelike en absurde karakters, fassinerende metafisiese raaisels en van die beste dialoog in die plaaslike krimi-korpus jou voete tegelyk onder jou uitslaan.

Die oppervlak is bedrieglik lig, leesbaar, lieflik en liries, die onderstrominge van brutale geweld, ondenkbare trauma en verlies iets verskrikliks. Vyf romans wat ’n resep aanbied vir die leser in soverre dit ’n besliste anti-resep is: Verwag die onverwagse, staal jou vir ’n sinsverkwikking, wees bereid om soms hard te moet werk, maar weet dit – elke liewe bladsy van wat jy lees, gaan iewers vir jou ’n juweel in die kleine opdis, of dit in die taalgebruik, die beeldspraak, die karakterisering of die wending in die intrige is.

Want jy is een van die uitsoek-groepie, een van daai’s wat weet dat hierdie ’n bielie van ’n boek moet en sal wees.

Dan land ’n roman met die titel As jy van moord droom – ’n sappige, soetsuur palindroom van ’n titel daarby, wat op verskeie storievlakke uitspeel – en jy kry skoon ’n beklemming van lekkerkry. Want jy is een van die uitsoek-groepie, een van daai’s wat weet dat hierdie ’n bielie van ’n boek moet en sal wees. Eerstens, en hierdie is allerbelangrik om te weet: As jy van moord droom is uitsonderlik in die sin dat dit bemark word as die skrywer se eerste domestic noir, deesdae plaaslik beter bekend as huishoudelike noir, wat in der waarheid ’n volgehoue gesprek met ’n betreklik jong subgenre van die misdaadfiksie is.

Steinmair erken mildelik in onderhoude dat sy geen erg het aan die resepmatigheid wat in vele polisie-prosedures aangetref word nie, en omarm dus die huishoudelike noir omdat dit eerder gaan oor die ruimte van die huis – wat veronderstel is om een van tuistelikheid, veiligheid, gemak, vryheid en liefde te wees – wat deur omstandighede verander in ’n oorlogsone. ’n Oorlogsone waar die vroulike hoofkarakter dikwels ’n onbetroubare verteller is, een desperaat om sin te maak van ’n bestaan wat dreig om met mag en mening los te torring, een wat bes moontlik haar eie lewe, en die lewe van haar kind of kinders, en ook heel moontlik haar man, in gevaar stel.

Wat kan moontlik erger wees vir ’n ma as om haar dogter op sesjarige ouderdom te verloor – gesteel deur ’n horribale spul gewetenloses – en om dan 20 jaar lank te moet worstel met elke denkbare wroeging en skuldgevoel op dees aarde?

As jy van moord droom is die mees ontstellende, oorrompelende plaaslike misdaadroman sedert Martin Steyn se Swartval.

Wel, op ’n gepas stormagtige nag is daar ’n klop aan die voordeur. Erin De Ridder se dogter, Maryna, wat so onherkenbaar is dat sy haar vir lank “Die Maryna” noem, is terug. Maar van waar? Watter gruwels moes sy aanskou, en oorleef? En wat het self met haar gebeur? Waar was sy, wie was sy, en hoekom het dit twee dekades geneem voordat sy aan haar ma terugbesorg is?

Steinmair stel aan ma en dogter die uitdaging om ’n gans nuwe emosionele woordeskat te vind, ’n woordeskat wat iewers tussen verwonding, selfvernietiging en stilte ’n pad na iets wat klink en voel soos genesing moet skep.

As jy van moord droom is die mees ontstellende, oorrompelende plaaslike misdaadroman sedert Martin Steyn se Swartval.

Ek gooi doelbewus wal teen die veel makliker opsie om liggies die oppervlak van die roman te prik met spitsvondige soundbytes oor die roman se inkleding van menslike subjektiwiteit, en die kartering van ondenkbare trauma en pyn. In die beslag is daar oomblikke van ontsaglik snaakse donker humor en die mees uitsonderlike mikro-momente, wat ek nie durf bederf nie.

Ná drie maal se lees is ek nog nie naastenby reg om van hierdie unieke, broos-besielende prosa-nagmerrie te ontsnap nie.

Bravo!

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.