Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bruin en wit digters verstaan mekaar op Wellington
Danie Marais

By die Tuin van Digters, 'n groot saamtrek van Afrikaanse digters en poësieliefhebbers hierdie naweek op Wellington, was die digkuns se plig om Moeder Aarde te help red 'n gewigtige besprekingspunt. Ekologiese bewoënheid, bewusmaking en waarskuwing speel 'n belangrike rol in die poësie van sommige digters wat deelgeneem het, soos Marlene van Niekerk, Johann Lodewyk Marais en Chris Mann. 

Dié digters wil ons leer ons is onafskeidbaar van die natuur, en totaal afhanklik daarvan. Eintlik is ons "sentient stardust", "sterstof wat kan voel", soos Chris Mann dit stel. Ons kapitalistiese kultuur word aangedryf deur die verbruikerslus van die mens. Ons het ons sensitiwiteit verloor vir die regte van 'n boom of 'n rivier, formasies van sterstof ewe wonderlik as onsself.

Die digkuns behoort die natuur nie langer op 'n voetstuk te plaas en van 'n afstand te besing nie. Hierdie romantisering van die natuur vereenselwig die groen filosoof Timothy Morton met patriargale lofsange op die vroulike liggaam, 'n "paradoksale daad van sadistiese bewondering".

Marlene van Niekerk vra soos Morton 'n lewenshouding waarby ons koesterend aandag gee aan ons omgewing, binne ons persoonlike lewens. Dit is in ons eie wesentlike belang. Ons moet 'n "verfynde bewustheid van wat ons omring" kultiveer.

"Te veel vir my brein" het 'n lid van die publiek na die ekologiese sessie gekla. My eie brein het gewonder of die tegnologie nie dalk beter in staat is om ons te red as die poësie nie. Die digkuns kan ons siele ekologies bearbei. Maar in ryk eerstewêreld-lande is daar deesdae weer skoon water en lug danksy nuwe tegnologie.

Bewustheid van wat ons omring, soos aanbeveel deur Van Niekerk, het help gestalte gee aan die daaropvolgende sessie, waarin sowat twintig digters en skrywers om 'n tafel aangesit het vir 'n sogenaamde Bohm-dialoog. Dit is 'n oop gesprek waarby deelnemers aan mekaar se sensitiwiteite blootgestel word. 'n "Aandagoefening" het Van Niekerk dit vooraf genoem.

Die gesprek het op veral twee sake gefokus: die verlange van bruin en wit Afrikaanse digters om groter onderlinge solidariteit te bereik, en die Kaap wat so anders is as die Noorde. 

Johan Lodewyk Marais het gesê 'n besoeker uit die Noorde besef hy is in 'n totaal ander land die oomblik wanneer hy sy oë op die "wynboste" van die Kaap slaan. Gaan die mense in 'n Kaapse roes politiek korrek met egte swartmense om?

Danie Marais het gesê hy wil nie langer soos 'n "poepol" in geselskap van bruin digters voel nie. 'n Bruin digter het geantwoord hulle sit in wit geselskap met dieselfde probleem. 

Die wedersydse gemis het gaandeweg 'n atmosfeer van droewige liefde om die tafel laat opwel. Die digters geniet mekaar baie by hierdie Tuin van Digters. Elkeen is egter maar "touchy touchy me", soos Loit Sôls by die tafel gesê het. Mens moes 'n paar trane wegsluk, want daar was skielik begrip en liefde tussen bruin en wit.

Die probleem is net: alleen groot talent kan aan 'n digter groot status gee. Broederskap en susterskap gaan niemand se fyngevoeligheid regtig verhelp nie. Literêre prestasie wel. Dit geld vir wit, bruin en swart digters in presies dieselfde mate.

Meer oor:  Wellington
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.