Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Brutaal briljante omgang met taal

Wrok

Beyers de Vos

PENGUIN, R250

Misdaadfiksie

Beyers de Vos se prosadebuut, Wrok, met die vertaling wat Talion heet, is beslis nie vir sensitiewe siele nie.

Beyers de Vos. Foto: Joanne Oliver

Nie omrede sensasionele geweld teen vroue, eksplisiete taalgebruik of besete moordenaars wat jag maak op verskeie slag­offers nie. Inteendeel. Hierdie juweel – die uiteinde van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad onder die leiding van prof. Etienne van Heerden – kloof die leser se spreekwoordelike emosionele slagaar oop.

Van die heel eerste oogopslag van die voorplat met Lady Jus­tice wat ’n weegskaal vasklem met ’n bebloede swaard se lem ingebed, tot die noodwendigheid van die tragiese slot, word jag gemaak op die leser.

Die bloedspoor van wraak, die doolhof van geregtigheid, die doodsheid van verlies en verdriet kom aan bod. ’n Lydings­koor van smart. Uitverkorenes uitgelewer aan die noodlot. Genoegdoening, geluk, die vervlietendheid self. Soos woorde in water gepen.

Wrok word bemark as ’n teks wat die misdaadroman se reëls oortree. Wat die knoop van die verhaal betref, is dit nodig om uit te wys dat die misdaadroman besonder sterk staat maak daarop om ’n voortstuwende momentum op te bou en te handhaaf.

Wrok het ’n betreklik eenvoudige sentrale raaisel wat wentel om die moord op die jong Benjamin Rust.

Hoekom sou enigiemand Benjamin koelbloedig wou vermoor? Sy tweelingsuster, Freya, glo sy ken haar broer beter as enigiemand anders.

Sy is beslis nie die enigste karakter wat tot ekstreme vlak betrek word in die geheelbeeld van hierdie moord nie.

De Vos trek die toutjies soos ’n ou hand soos die gekompromiteerde verhouding tussen sibbe uit verskillende onverwagse hoeke belig word.

Lesers wat bekend is met Gerda Taljaard se Die laksman se dogter sal die verwikkelde (dalk onbewustelike) gesprek tussen die twee romans kan geniet. Pretbederwer gaan hierdie resensent nie speel nie.

Wat is die slagoffer se verband met die onderwyser en rugby­afrigter Abraham Oktober? ’n Gevallestudie van foltering wat De Vos met teerheid aanpak.

’n Ongetwyfelde hoogtepunt is die karakter Slick. Die regeerder van ’n dwelm­koninkryk, ’n soort trieksterfiguur en ’n produk van die haglikste omstandighede denkbaar.

Moenie vertroosting hier soek nie. Vind hier die tertafellegging van terneergeslaenheid, ’n gesang vir die verloopte en die verloste, meesterlike spel tussen vertel en verswyg.

Slick se storie, sterk gevorm deur die mentorskap van die wrede Mama Afrika, en die koue strate as leerskool, bied ’n absoluut sidderende teenpool vir ’n geliefde karakter soos Tyrone Kleinbooi te vinde in Deon

Meyer se

Kobra.

Dit was met die lees van wyle K. Sello Duiker se meesterlike Thirteen Cents, ook ’n debuut, dat ’n jong skrywer hierdie soort gegewens met soveel oortuiging aangepak het.

So word dit algaande duidelik in Wrok dat die skrywer veral met die stad Pretoria self as ’n soort hoofkarakter sy kop knik na die klassieke hardboiled misdaadromans van die 1930’s.

Hier was die strate van Los Angeles tekenend van morele verval en sedeloosheid, van struikel en strompel te midde van ekonomiese verval en mo­rele agteruitgang. Is dit dan nie ook presies wat ons sou sê van die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing nie?

De Vos sluit aan by ander postapartheidskrywers in Engels soos Lauren Beukes waar die stad ’n lewende, aktiewe invloed op karakters uitoefen. Vind ook fassinerende raakpunte en verskille met die krimineel onderskatte stadsroman deur Schalk Schoombie, Boomkastele.

Soos in Schoombie se roman ontwikkel die skrywer ’n kompulsief-indringende blik op die verhouding tussen plek en subjek, stad en mens.

De Vos se bestekopname van Pretoria het ’n sierlike, siniese, swartgallige swagger wat ek lank sal onthou. Hier, nes in Boomkastele en Naomi Meyer se Web, word die leser aktief speurder, nog ’n wyse waarop die

reëls oortree word.

Wrok het wel ’n speurder, insp. Nolwazi Mngadi, ’n vlees- en-bloed-karakter wat telkemale verras en uitdaag.

De Vos gebruik dikwels sy speurfiguur om metakommentaar op die genre self te lewer, om saam met die leser as ’n soort morele spilpunt te besin oor die foutlyne tussen ’n wrok en wraak.

’n Pluimpie vir die skrywer vir die uiters gepaste titel; ’n staande ovasie vir die geslypte, gespierde, brutaal briljante omgaan met taal en die taligheid van die dood, medemenslikheid, geestelike aftakeling en verwonding.

Karakters se name soos Freya, Benjamin, Petrus en Abraham verleen ’n besliste dieper dimensie, en ek verstout my om te sê groot dele van Wrok lees soos ’n versnit van stadsroman, meta-misdaadroman en diepgaande maatskaplike kommentaar. Watter Suid-Afrikaner kan opreg beken dat hy of sy geen wrokke koester, of nie op ’n manier vervreem voel nie?

Die antieke Grieke met hul opvatting van die Tragiese is in die teks se vesel te bespeur.

Moenie vertroosting hier soek nie. Vind hier die tertafellegging van terneergeslaenheid, ’n gesang vir die verloopte en die verloste, meesterlike spel tussen vertel en verswyg.

Wrok laat ’n nuwe stem na vore kom wat aktief gewoond is aan sosiale integrasie en ’n meer intieme leef en beleef tussen verskillende sosiale klasse en rasgroepe.

Hierdie millenniër­perspektief besin oor ’n verlede wat by die dag sterker kom aanklop, en ’n hede en toekoms waar kwessies van geregtigheid en (weer)wraak weier om te gaan lê.

Die oortreding van die misdaadroman se reëls is uiteindelik ’n mees gepaste literêre antwoord op ’n samelewing waar die padkaart vir die Reënboognasie iewers op ’n ashoop lê.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.