Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Buiteblik op erwe van ons vaders

Dié kykie van buite op die onstuimige Afrikanervolk is ’n openbaring, skryf Theunis Engelbrecht.

Into the Laager: Afrikaners Living on the Edge deur Kajsa Norman. Jonathan Ball. R255.

Hierdie boek is die eerste keer in 2015 in Swede gepubliseer as Bron över Blood River (“Brug oor Bloedrivier”.) Die skrywer, Kajsa Norman, is ’n ondersoekende joernalis wat in Londen woon en werk en veral belang stel in diktature en konflikgebiede. Sy het reeds boeke gepubliseer oor Kuba, Venezuela en Zimbabwe.

Wat boeke soos dié baie interessant maak, is die feit dat die perspektief dié van ’n onbetrokke buitestander is wat klinies waarneem. Resensente het al gesê Norman se nuwe boek is “die belangrikste” in sy soort sedert Rian Malan se My Traitor’s Heart, maar dié resensent kan nie daarmee saamstem nie.

Malan het van binne die “ou” Suid-Afrika geskryf, Norman skryf van buite oor die “nuwe” Suid-Afrika. Malan se boek was ook omvangryker.

Trouens, ’n boek wat met vrug naas ­Into the Laager gelees kan word, is Fred de Vries se Rigtingbedonnerd, wat oor dieselfde onderwerp vanuit ’n Nederlandse perspektief skryf. De Vries se boek is omvattender en diepgaander, maar waar hy meer fokus op die menings van bekende mense, fokus Norman meer op die alledaagse lewe van “gewone” mense. En dís waarin die trefkrag van die boek lê.

Met Into the Laager in die hand het dié Afrikaanse leser aanvanklik gewonder hoe Norman dit gaan regkry om ’n magdom historiese feite te verwerk sodat dit toeganklik is vir die lesers van die oorspronklike Sweedse uitgawe. Met die lees besef ’n mens in dié opsig algaande hoe interessant en perfek die struktuur is.

As jy nie met dié geskiedenis vertroud is nie, kan jy skaars glo wat jy lees.

Haar vertrekpunt is die Slag van Bloedrivier, en daarna volg hoofstukke waarin sy met Afrikaners in uiteenlopende dele van die land praat en hul lewe beskryf. Tussendeur word die nodige historiese reliëf gebied in afwisselende hoofstukke wat handel oor gebeure op 16 Desember in 1866, 1881, 1912, 1938, 1949, 1961, 1988, 1998, 2006, 2008, 2011 en 2014.

16 Desember 2014 was die dag waarop Jacob Zuma die nuwe voetgangerbrug tussen die Afrikaners se Bloedrivier-museum en die Zoeloes se Ncome-museum oorkant die rivier geopen het – ’n projek wat die ANC al 16 jaar tevore begin het. Zuma en ander ANC-hoës het van die Ncome-kant halfpad oor die brug gestap, waar hulle ontmoet is deur die bestuurder en besturende direkteur van die Voortrekkermonument en ’n verteenwoordiger van die Erfenis-stigting. Hulle knip die lint – en wat daarna gebeur, is die punt waarop die boek eindig.

Ek gaan dit nie hier vir die voornemende leser bederf deur te sê wat dit is nie, want daarin lê iets baie veelbetekenend opgesluit. Bloot van dié gegewe sou ’n skrywer soos Etienne Leroux ’n meesterlike satiriese roman kon skryf, maar nou is hy helaas ook nie meer met ons nie.

Fassinerende inligting kom ook na vore in Into the Laager, byvoorbeeld oor die ontstaan van die woonbuurte Epping in Kaapstad en Jan Hofmeyr in Johannesburg (laasgenoemde staan ook bekend as Jan Bom, waar die TV-reeks Agter elke man asook enkele musiekvideo’s van Die Antwoord verfilm is). As jy nie met dié geskiedenis vertroud is nie, kan jy skaars glo wat jy lees.

Die rouste en skreiendste dele in die boek handel oor die inwoners van blok C in die Kleingeluk-buurt in Orania. Norman beskryf hulle só: “the uneducated, the mentally disabled, the addicts, the ­felons, the ­failures, the has-beens and never-weres”. Van die verhale ruk ’n mens aan die hart, soos ook dié van die inwoners van Sunshine Corner in Pretoria.

Net enkele aspekte van dié boek is hier aangeraak – daar word onder meer ook geskryf oor seksuele geweld en pornografie in Suid-Afrika, die Broederbond en die politieke oorgang in die land. Die dele oor die predikant Schalk Albertyn vertel ook ’n verhaal van sy eie wat versoening betref.

Natuurlik is dit nie net Afrikaner-gemeenskappe wat aan die spits leef in Suid-Afrika nie. Daar is baie ander samelewingsgroepe en subkulture wat gemarginaliseer is en oor wie se stryd om bestaan die sluier gerus meer gelig kan word in boeke van dié aard.

Enigiemand wat wil saampraat oor die maatskaplike werklikhede in Suid-Afrika kan egter gerus kennis neem van Into the Laager. Dit is heel openbarend.

  • Theunis Engelbrecht is ’n skrywer en nagsubredakteur by Die Burger.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.