Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bundel ’n onthouboek van digter as swerwer

Nomadiese sterre is ’n bundel waarin persoonlike bestekopname kompromisloos voorop staan. Dis op die A-lys van Joan Hambidge se oeuvre, skryf Neil Cochrane.

Poësie

Nomadiese sterre

Joan Hambidge

PROTEA, R200

Beter, beste Hambidge!

Die jongste toevoeging tot die omvangryke poësieskat van Joan Hambidge trek onmiddellik die aandag. Die flambojante voorplat, met alombekende figure uit die diereriem en ander buitenissige wesens, is ’n paslike visuele metafoor vir die bundel én die Hambidge- dig­oeuvre.

Vanaf haar debuut in 1985 steek Hambidge haar innoverende kleim af. Sy is die matriarg van die postmodernistiese inslag en die lesbiese stem in die Afrikaanse poësie.

Boonop begryp sy die ondefi­nieerbare aard van tussenruimtes en deurgangsrites – lewe en dood, liefde en verraad, jeug en volwassewording, hede en verlede asook private hel teenoor wyer katastrofes. Sy is ook ’n formidabele beoefenaar van Afrikaanse reispoësie en lykdigte.

Hierbenewens skroom sy nie om te eksperimenteer met verskillende versvorme nie. Gaan kyk gerus na haar beoefening van die tanka, haikoe, rondeel en kwatryn. Benewens hierdie grensverskuiwings is Hambidge ’n digter wat pens en pootjies in die Afrikaanse poësietradisie staan. Sy beskik oor ’n uitgebreide familie van literêre moeders en vaders – N.P. van Wyk Louw, Wilma Stockenström, Elisabeth Eybers en Emily Dickinson.

Al hierdie aspekte is aanwesig in haar jongste bundel, maar Nomadiese sterre behels meer as vintage Hambidge. Dit is ’n bundel waarin persoonlike bestekopname kompromisloos voorop staan. Dit is reeds uit die openingsgedig, “Onder nomadiese sterre”, duidelik dat die spreker besin oor haar jeug as ’n queer kind, die eerste gewaarwordinge van digterskap en die deinings en dalings in die lewe van die digter.

Die bundeltitel en openingsgedig berei die leser voor op verskeie interpretasies wat Hambidge in die bundel aan die nomadiese lewensuitkyk heg – digterskap as swerwende bedryf, reis as vervreemding, die soeke na die Self en die liefde as ’n verskuifbare gegewe.

Die bundel is ’n onthouboek waarin familielede ’n belangrike rol speel. Hierdie tema word eerlik in “Witbank-blues” verwoord. Dit is ’n narratiewe gedigreeks wat uit tien afsonderlike gedigte bestaan wat elk op spesifieke jeugherinneringe fokus. Die gesprekstrant is opvallend en klink soos ’n gesellige kuiergesprek tussen die spreker en haar beste vriend (per implikasie die leser).

In ’n mate kan ’n mens hierdie vertellings ook as ’n tydsdokument interpreteer waarin Hambidge die tydsgees van die 1960’s en die sosiologiese dinamiek in ’n tipiese Afrikanergesin verwoord.

In die slotgedig van die reeks is die spreker vyf dekades ouer en dink sy na oor die sirkelgang van die lewe waarin verlede en hede oorkruis:

Hoe trek die kleinkinders nie op die grootouers nie;

’n oudste kleinseun lyk op ’n haar soos sy grootma . . .

En dan soveel dekades later steeds sóveel dansmusieke.

Die gedig “Bome” is van belang omdat dit dui op ’n keerpunt in die Hambidge-oeuvre waarin die spreker se sober insig in haar verganklikheid duidelik blyk. Meer nog kan hierdie gedig ook gelees word as ’n duidelike voorspelling van die spreker se dood:

Nou is dit net die bome, treurende bome, ’n wilger,

’n sipres, ’n bloekom op die walle van ’n rivier

wat nog staan vóór die finale inspit in ’n dennehoutkis.

Die herhaaldelike gebruik van boombeelde (veral die wilger) toon ’n tematiese ooreenkoms met die vroeë werk van Eybers (veral Die vrou en ander verse, 1945).

Die Hambidge-vers herinner my ook aan die gedigte in Stephan Bouwer se laaste bundel, Sirene van bloeisels (2000),, waarin dieselfde bewustheid van sterflikheid heers en wat as ’n elegie vir die digter self funksioneer.

Ek het reeds genoem dat Hambidge ’n voortreflike lykdigter is. Dit is ook nie anders gesteld in Nomadiese sterre nie. Die vierde afdeling word in geheel gewy aan lykdigte oor skrywersvriende soos Jaco Botha, Jeanne Goosen, Stephan Bouwer en Gisela Ullyatt. Ham­bidge slaag daarin om in dié verse tot die essensie van mededigters se werk én persoonlikhede deur te dring. Dit gaan nie hier slegs om huldiging nie, maar haar lykdigte dien terselfdertyd as biografiese geskrifte in die kleine. Dit word mooi geïllustreer in die slotkoeplet (à la Eybers) van “Jeanne Goosen” met sy trefseker woordspeling:

omstedelik sal jy aankom in hierdie omstreke

vol stories fabrikasies en dié plek ook omkeer

Hambidge was nog altyd ’n digter wat op alles en almal om haar reageer. Diegene wat dink dat sy slegs oor private lief en leed dig, sit die pot mis. Daar is talle voorbeelde in haar werk waarin sy digterlike kommentaar lewer op groter wêreldgebeure. Haar ontroerende gedigte in Ruggespraak (2012) oor die 9/11-aanvalle is ’n goeie voorbeeld.

Die uiteindelike slotsom is dat almal van ons hierdie aarde as nomades bewandel.

Dit is dus nie verbasend dat sy in ’n klompie gedigte die Covid-19-krisis belig nie. In dié opsig sluit sy aan by ’n beduidende getal Afrikaanse digters wie se Covid-19-verse verskyn in die versamelbundel Maskers en mure (2021), uitgegee deur Turksvy Publikasies.

In gedigte soos “Covid-19”, “Liefde in die tyd van korona” en “UST” gaan dit veral om die spreker wat haarself weens inperking deurlopend tussen iewers en nêrens bevind.

’n Verrassende toevoeging hier is die gesprek wat sy met Stockenström aanknoop in “Die oorwinning van die ietermagô”. Die gedig is ’n herinterpretasie van Stockenström se gelyknamige gedig in Van vergetelheid en van glans (1976). Hambidge verplaas Stockenström se aanvanklike lofprysing oor die ietermagô na die heersende debat oor die rol van hierdie bedreigde spesie in die koronakrisis. Die slotsom is dat die ietermagô beslis nie meer oor die magiese status beskik wat Stockenström aan die dier toegedig het nie:

Vir sangomas helaas nie meer ’n gelukbringer nie;

almal staan nou op hul agterpoot oor ’n ietermagô.

Gedigte soos “Jung aan Emma Jung” en “Wanneer jou analis sterf” (’n juweel!) sluit aan by die verweefde psigoanalitiese gesprekvoering in Hambidge se digterskap. Dit is ’n nagelate aspek van haar werk wat gerus ondersoek kan word.

Hambidge se jongste bundel getuig van weldeurdagte afronding, sinvolle strukturering van bundelafdelings en beter skakeling tussen gedigte. Ryk betekenisse van die begrip “nomadiese” word intelligent ontgin en oortuigend deurgevoer. Die uiteindelike slotsom is dat almal van ons hierdie aarde as nomades bewandel. Verder is daar ook nie sprake van die motto-neurose wat soms in Hambidge se werk voorkom nie. Die paar motto’s in die bundel tree op as funk­sionele betekenisdraers en nie spasievullers nie.

Nomadiese sterre verskyn saam met Bitterlemoene (1986), Ewebeeld (1997) en Lykdigte (2000) op Hambidge se A-lys. Die bundel is besonder keurig uitgegee deur Protea Boekhuis. Die redakteur en bandontwerper verdien ’n pluimpie.

  • Neil Cochrane is verbonde aan die departement Afrikaans en algemene literatuurwetenskap van die Universiteit van Suid-Afrika.
Meer oor:  Joan Hambidge  |  Resensie  |  Poësie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.