Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bundel sal jong lesers interesseer

’n Ope brief aan Dorian Gray deur Ruan ­Fourie. Uitgewer: Protea. Prys: R150. ­Resensent: Dewald Koen

Die Afrikaanse poësie het die afgelope dekade ’n aantal jongelinge in haar midde verwelkom.

Met vars jong stemme soos Loftus Marais, Fourie Botha, Martina Klopper, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Shirmoney ­Rhode en meer onlangs Bibi Slippers, het dié nuwe generasie die Afrikaanse digkuns behoorlik op sy kop gekeer.

Met hul unieke stemme en temas waarmee hedendaagse jong poësieliefhebbers kan assosieer, is daar ongetwyfeld ’n opwindende toekoms vir die Afrikaanse ­digkuns.

Ruan Fourie is die jongste stem wat pas met sy bundel ’n Ope brief aan Dorian Gray gedebuteer het.

Die titel verwys natuurlik na Oscar Wilde se roman The Picture of ­Dorian Gray (1890). Die voorblad is gevolglik heel gepas, met die foto van ’n skilderdoek wat swart ink- of verfmerke ten toon stel, soos ’n asimmetriese Rorschachtoets.

Later sal die leser die amper chaotiese beeld met die spreker se liefdesgeskiedenis in verband bring en só word die tematiek van die bundel visueel uitgebeeld.

Die boek bevat hoofsaaklik gedigte wat oor die spreker se liefdesverhouding handel. Die liefde is sekerlik een van die moeilikste temas om oor te dig, aangesien dit gewoonlik as studentikoos beskou word en die digter ewe maklik in clichés verstrengel kan raak.

Fourie slaag grotendeels daarin om dié slaggate te vermy.

In Wilde se roman is die hoofkarakter, Dorian Gray, se wens dat hy veroudering sal vryspring en dat sy afbeelding in die skildery wat van hom gemaak is, eerder sal verouder.

Net só poog die spreker in Fourie se digbundel om die aftakeling van sy verhouding met sy geliefde asook van die beeld wat hy van sy geliefde koester, uit te stel.

In sowel Dorian Gray as die spreker se geval, is ontnugtering en mislukking aan die orde van die dag.

Fourie tree met talle digters en tekste in gesprek. In “Verlieskuns” is hy met Ingrid Jonker in gesprek:

ek het gesoek na die grootpad

om daarlangs terug te vlug.

ek verbeel jou oor en oor

terwyl ek steeds probeer sin maak

in stil meditasie

hoe die afdraaipaadjies tot hier gekom het.

waar die enigste ding wat ek kan bied

net nóg ’n doolhof vol redes is.

Ander verwysings sluit in Sylvia Plath, ­Ingrid Winterbach, N.P. van Wyk Louw, Vladimir Nabokov en vele ander.

Die talle verwysings na veral letterkunde asook kuns bied ’n interessante intellektuele uitdaging aan die kritiese leser.

Fourie se gedigte is besonder beeldryk. Die eerste strofe van “Swaartekrag” is veral opvallend:

by jou

wil ek

die donker mond

van ’n tydlose, eindlose dier

stuk-stuk betree;

’n vakuum waarin ons

amper rug aan rug

aan weerskante van ’n kiestand

kan gaan sit.

Die bundel se drie afdelings bied ’n verskeidenheid gedigte wat dikwels die grense tussen verbeelding en die werklikheid oorskry. Myns insiens sal veral jonger lesers Fourie se bundel geniet aangesien hulle met talle van die gedigte en gepaardgaande temas sal kan assosieer.

Hoewel Fourie se verse nie so sterk soos dié van jonger voorgangers soos Marais en Slippers daar uitsien nie, is die bundel as geheel ’n geslaagde en belowende debuut.

Die oordaad Franse aanhalings kon egter verminder word en by tye maak die digter te veel staat op intertekstuele verwysings.

Ondanks hiervan is ’n Ope brief aan ­Dorian Gray ’n belowende debuut van ’n jong digter van wie poësieliefhebbers nog baie gaan lees.

  • Dewald Koen doseer Afrikaanse letterkunde aan die Fort Hare-Universiteit se Oos-Londen-kampus.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.