Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bundel skets pandemie ‘in al sy gedaantes’

Die digter Cas Vos se nuwe digbundel, “Beskut teen vrese”, skets die Covid-19-pandemie en gepaardgaande vrese “in al sy gedaantes”. Hy het nie ’n oplossing nie, maar glo ’n digterlike woord kan troos bring. Hy het met AJ Opperman gesels.

Cas Vos wil gedigte skryf vir mense wat huil.

“Sonder om te sê ek het ’n oplossing of verlossing,” sê Vos, wat voorheen ’n predikant en professor in teologie aan die Universiteit van Pretoria was.

Cas Vos wil gedigte skryf vir mense wat huil.

Hy beskou nie sy gedigte as preke nie.

“Ek het net ’n digterlike woord wat jou dalk kan troos. Soms is dit al wat ’n mens nodig het: Lees ’n gedig en dit ontroer jou.”

En ’n mens mag huil oor vrese, sê hy beslis.

Die wêreld ervaar tans baie vrese.

Sy nuwe digbundel, “Beskut teen vrese”(Naledi), belig onder meer die Covid-19-pandemie, maar ook die “vrese in al sy gestaltes wat op ons toesak”.

So ook pyn en verlies.

“Vrees is deel van ons lewe. Vrees is nie vir iemand wat in ’n god glo gespaar nie.”

Vos onthou ’n begrafnis wat hy gelei het toe hy ’n predikant op Brits, Noordwes, was.

Dit was ’n begrafnis van iemand wat hy nie geken het nie.

Hy het ’n vers by die graf gelees toe die kis sak.

“En iemand kom na my toe om dankie vir die preek te sê. En toe is dit Al Debbo.”

Vos kry hoendervel as hy aan die ontmoeting met dié akteur dink.

Dit was Debbo se skoonma se begrafnis.

“Ek kon dit nie mooi verwerk nie – daardie oomblik,” sê Vos.

“Hy kon mos sy oë so kenmerkend rol in flieks – en nou was daardie oë vol trane. Dit het my so ontroer. Dis opreg. Dis menslik. Dit was vir my een van die wonderlikste oomblikke met iemand.”

Cas Vos

Vos en sy vrou, Lida, het toevallig nou die dag weer na ’n fliek gekyk waarin Debbo en Frederik Burgers verskyn het.

“Hulle was wragtig komediante.

“En hier staan hy voor my. Nie grappig nie, maar huilend.

Ek wil sê ons kan maar huil oor die vrese.

“Ons mag maar. En dalk help dit – ’n woord, ’n sin, ’n gedig. Om die roerende, ontroerende, lewende hart tot rus te bring.”

Hy stem daarmee saam dat ’n mens soms pyn en geloof moeilik versoen.

“Die vrees vir pyn soek jy ook. Vastigheid, rustigheid. Dis in ’n sin goed dat pyn bestaan, want nou is daar ’n gesprek met God.

“Jy worstel met God. Dis nie te sê die pyn gaan ophou nie.

“Dis soos sommige medisyne wat ’n bietjie help.

“Dis ’n lewenstryd. Dis ’n stryd om oorlewing. Die belewing van pyn maak oorlewing moontlik.”

Beskut teen vrese deur Cas Vos.

Sy verse kry gestalte in sy studeerkamer – sy heiligdom – in sy huis in Faerie Glen, Pretoria.

Hy vra dadelik verskoning oor sy deurmekaar lessenaar.

“My desk is no index to my mind . . .”

Hy skryf baie.

Hy het onlangs Dante se boek Inferno in Afrikaans vertaal en nog ’n digbundel, Onder die vlerke van jou liefde, verskyn later vanjaar by Naledi.

Om te dig beskerm hom teen vrese.

Die eerste deel van Beskut teen vrese sluit in ’n interteks met Psalm 23 en gedigte oor vrese. In die tweede deel noem hy die tien plae om bedreiging te beskryf.

“Dit is deel van die koronavirus. Dis nie die Egiptiese plae (in die Bybel) nie. Dis allerhande vrese wat hier opduik.

“Vrees is deel van ons lewe. Vrees is nie vir iemand wat in ’n god glo gespaar nie.”

Hy tel ’n papier op en lees voor: “Nobody can live in the future.”

Dis die woorde van die Amerikaanse digter Robert Pinsky.

“Met ander woorde, ja, ons kan praat oor môre, maar ons praat eers oor nou.

“Dit gaan oor die nou, en dan kom daar ’n soort rustigheid. Met my is dit baie vreemd. Ek loop nie dae lank met ’n ding in my kop nie. ’n Gedig kom, en dan moet ek gereed wees.”

Sy gedig “Die towerfluit”, wat sinspeel op die gelyknamige opera met die musiek van Mozart, verwys na “ ’n kou waar Corona ons benoud en gevange hou”.

Sommige van dié opera se karakters figureer in die gedig.

Daar kom ’n rustigheid oor hom wanneer hy poësie skryf.

Cas Vos en die digter TT Cloete, met wie hy goeie vriende was.

Hy beskou dit as sowel ’n toevlug as uitvlug.

Hy skryf oor die digter Adam Small en die skilder Vincent van Gogh, albei ontslape.

“Ek is mal oor Vincent van Gogh. Ek het ’n hele klomp boeke oor hom. Ek het ’n afdruk; ek kan nie ’n oorspronklike skildery bekostig nie.

“Sy lewe wys dat niks die skeppende krag kon verdryf nie. Al was hy ’n vreemde, armsalige mens. Eenkant.”

Die skrywer en joernalis Anastasia de Vries het die gedig oor Small vir hom in Kaaps geskryf.

“Hy kom paradys toe. Aan die einde gaan dit weer goed gaan. Dit pas in die patroon. Daar was ’n ellende. En nou kom hy ‘hystoe’.”

Vos skryf nie gedigte wat bespiegel nie. Hy skets wat nou aangaan en wat hy ervaar.

“Die hede is vol vrese, onsekerheid en twyfel. Ons kan voorgee ons is sterk en ons het mag. Dis nie waar nie. Ons is so broos.”

Vos sê hy kan oor die koronavirus net ’n reël uit die gedig “Die towerfluit” aanhaal: “Wanneer sal jy tog verdwyn?”

Beskut teen vrese kos R240.

Meer oor:  Gedigte  |  Boeke  |  Digter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.