Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bundel soos om na die naghemel, sterre te kyk

Poësie

Die meeste sterre is lankal dood

Johann de Lange

HUMAN & ROUSSEAU, R250

De Lange is veral inkykend aan die woord in dié, sy 13de bundel; en steeds die digter wat diamant uit klip kan slaat, skryf Johan Myburg.

’n Week of wat gelede plaas Johann de Lange ’n aanhaling uit Strange Bodies van die Britse skrywer Marcel Theroux op sy Facebook-blad: “Literature itself is a species of code. You line up symbols and create a simulacrum of life.”

Aan dié beskouing van letterkunde gee Theroux se hoofkarakter, Nicholas, ’n kenner van die letterkunde, in dié boek gestalte. Nicholas span Johnson en Auden en Yeats in as vorm van uitdrukking van sy gevoelens en, soos die leser, moet hy mettertyd begin wonder: As ons bestaan uit woorde, hoeveel van daardie woorde is dié van ander?

Toenemend skryf De Lange in ’n tradisie (sal ’n mens dit so noem?) van poësie as reaksie of respons op die woorde van ander – of dit nou ’n aanhaling as motto is of ’n vlietende gedagte of ’n enkele gelade woord wat ’n gesprek oor vastelande, oseane en eeue oprakel. So put hy uit ’n ruim letterkunde en literêre verwysingsveld, maar eweso uit visuele kodes en simbole om met die makers van merke en hul nalatenskap in gesprek te gaan.

Dié merke kom tot stand in “grafiet & bladgoud” (bl. 11), in “houtskool & oker” en “roet & elandbloed” (bl. 41), “onder ’n lagie verf” (bl. 72), in “potlood, kwas, pen of etsnaald” (bl. 77) en les bes in “die woord & in-die-woorde-van” (bl. 95). Op dié manier vleg en vervleg De Lange nie net dié bestaande merke nie, maar weef hy behendig sy respons ín in die tekstuur van ’n groter geheel – in die woorde van William Butler Yeats wat hy vroeg in die bundel aanhaal: “I made my song a coat / Covered with embroideries / Out of old mythologies.”

Nader aan die einde van die bundel gaan hy bedrewe in ’n kwatryn, waarin hy ’n brug slaan tussen die 20 000 jaar oue Lascaux-rotsskilderye en die hedendaagse.

Of dit ’n lied is of ’n geborduurde jas of die gewelf van ’n grot of ’n oomblik uit die mite van Adam en Eva gekerf uit ivoor of die toetsmerke wat ’n Middeleeuse monnik met sy pen maak op papier (en wat De Lange se gedigte as ’t ware omvou met die voor- en agterplat), uit dié simbole dig De Lange uitsigte én insigte en word hy deel van lewe – en van die ganse kosmos.

Nader aan die einde van die bundel gaan hy bedrewe in ’n kwatryn, waarin hy ’n brug slaan tussen die 20 000 jaar oue Lascaux-rotsskilderye en die hede, as ’t ware in gesprek met Yeats se taksering van sy eie skryfwerk: “Deur die woord & in-die-woorde-van / raak ons deelagtig aan tallose selwe, vrou of man, / wêreld, beskawings & rites, / & herskep ons geskiedenis teen gewelwe as mites” (bl. 95).

De Lange se respons is wederwoord meer as antwoord – hoewel hy ’n vermeende antwoord soos in ’n versteekte “risposta” in “Selfie met Mona Lisa” nie uit die oog verloor nie – en verheldering meer as ’n klinkklare oplossing.

In ’n bundel wat getuig van die meeste sterre wat lankal dood is, is die rol wat lig, ligdraers en veral verheldering speel opvallend.

Die leser kom in dié bundel sterre teë wat kan verwys na hemelliggame, na leidsterre, na dooie sterre – die bundel is onder andere ook opgedra aan “al my mooi dooies”.

Die bundel begin met “inskaduwings van die lig” (bl. 11) en verwys na “dynserige sfumato” (bl. 72) om heerlik uit te blom tot “son-blom, / die geel dinamo” (bl. 97), tot die volheid van “Pleroma” met sy besinging van kleur en geur en eindelik te verhelder tot ’n triomfantelike “Sonsverduistering” waarin “die bruin seun” “drie sterredae later” “stralend in die Son se lig gaan staan”.

As ’n mens kodes en simbole noukeurig kan plaas en in taal kan neerskryf, kan jy lewe blaas in ’n dooie lyf. En dit is wat De Lange met verwysing na Theroux se opmerking vermag. Selfs sterre wat lankal dood is, bring hy weer tot lewe met en in die woord.

Dié stygende lyn van verheldering sluit nietemin onvermydelik woorde in soos “leemdonker”, “benederyk” en “grafdoek” en as leitmotief “onthegting”, wat hy in ’n tafereel soos volg beskryf: “Bome laat hulle blare gaan, / winters kom, tot 90 keer / of meer om ons voor te berei / & ons van onthegting te leer” (“Tafelreël”).

Die leser kom in dié bundel sterre teë wat kan verwys na hemelliggame, na leidsterre, na dooie sterre – die bundel is onder andere ook opgedra aan “al my mooi dooies” – en ’n enkele seester in solovlug (bl. 33) met verwysing na Loren Eiseley se kortverhaal “The Star Thrower”, waarin die dood beskryf word as “the only successful collector”.

Totdat ’n mens “stil die stroom ingly soos ’n boot” verheug De Lange hom in die een seester waarvoor sy solovlug tél; verlustig hy hom in die oopvou van ’n mielie, “Nét so, nog aan die oggend / – tussen die syige bene van die dag – / staan hy, volryp, pittig & rég”; verluister hy hom aan die suite vroegoggendvoëlklanke en vind hy behae in die woord en in-die-woorde-van.

De Lange is veral inkykend aan die woord in dié, sy 13de, bundel; en steeds die digter wat diamant uit klip kan slaat soos hy dit verwoord in “Smeltkroes”.

Die lees en herlees van Die meeste sterre is lankal dood is soos om na ’n naghemel met sterre te kyk – meteen sien jy nie alles raak nie.

Maar hoe langer en met hoe meer verwysings jy kyk, hoe meer verwonder jy jou.

Johan Myburg is ’n digter van Johannesburg. Hy is vanjaar se Hertzogpryswenner vir poësie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.