Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bundel vol puik verhale is die koop werd

Bly. Kortverhaalbundel van die 2016-US Woordfees. Samestellers: Anastasia de Vries, Suzette Kotzé-Myburgh en Madri Victor. Uitgewer: Sun Media. Prys: R180. Resensent: Jeanette Ferreira

In die voorwoord skryf Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees, tong in die kies hulle het gaan uitvind wat feesgangers wil hê en bevind dis ’n T-hemp. In plaas daarvan word ’n bundel kortverhale aangebied.

Nou ja, dis nietemin ’n goeie idee.

Die inskrywings van slegs skrywers wat reeds in papierformaat publiseer het, is oorweeg. Uit die 99 inskrywings het die samestellers 24 gekies. Die bundel was slegs gedurende die 2016-Woordfees te koop en sal weer op die 2017-Woordfees aangebied word, plus 2017 se bundel, sou die gehalte van inskrywings hoog wees. Aldus Botha.

Só beskou, is dit ’n versamelstuk en, te oordeel na die puik verhale, die moeite werd om te koop.

Skrywers se bydraes was nie gebonde aan een tema nie. Dwelms, drank, seksuele voorkeure, verbreekte gesinne, kleurvooroordeel, die dun lyn tussen verdraagsaamheid en irritasie ­figureer hierin. ’n Oorsig oor ­elke verhaal is nie moontlik nie. Hier volg ’n paar wat hierdie ­leser bygebly het.

Rachelle Greeff se “Die verkeerde kussing”: Soveel skrywers soos al met woorde die tragiek van Alzheimer se siekte omskryf het, soveel kante word duideliker, veral die lyding van diegene wat van hul geliefdes moet afskeid neem nog voor hulle sterf omdat die mens wat hulle geken het, nie meer in hierdie liggaam woon nie.

Daarvan getuig die uitweg wat die dogter in dié verhaal kies. Die kombinasie van Greeff se ferm hand en soepel sinne maak van die verhaal iets besonders.

Nie nog ’n apartheidstorie nie, kan lesers seker dink by die aanvang van Elias Nel se “ ’n Hondelewe”. Wat as apartheidsverhale gereken is, kry egter in ons tyd ’n ander dimensie. Die gebrek aan medemenslikheid is die ­basis van feitlik alle onreg, ongeag die tyd waarin dit voorkom.

Erika Murray-Theron verras weer haar leser met ’n tema wat nie onbekend nie maar grootliks onverken is. In “Waarheid en liefde” word die hoofkarakter gedwing om ’n keuse te maak binne ’n verhouding waarin haar ­lewensmaat nie grys gebiede verstaan nie en dit eindig met dié se besluit: “Partykeer moet mens besluit wie jy glo” wat juis ’n “grys” antwoord is.

Hoewel Marida Fitzpatrick se tema nie nuut is nie, dra haar verhaal soveel menslikheid in die opregtheid en verwarring van die hoofkarakter dat dit daarom onthoubaar is. Die kerk, dieselfde liggaam wat verklaar het dat gay mense ’n onvergeeflike sonde begaan, is juis die liggaam wat uiteindelik besluit dit is nie meer die geval nie.

In Helena Gunter se “Tussen sterre” word die hoofkarakter se (geregverdigde) siniese waarneming van menslike swakhede tot in die kleinste besonderheid uitgestal en tot grondige irritasie aangemerk.

Net om te eindig met ’n blik deur Sutherland se lense, en die besef dat die belangrikste mens se nietigheid in die heelal nie eens te beskryf is nie, dat sy slegs “danksy swaartekrag met haar voete aan (hier)die kolletjie van ’n planeet vassit”.

As daar ’n sterverhaal in hierdie bundel te kies is, is dié een van die sterkste mededingers.

Abraham de Vries beloon sy leser met sy bekende kontreitaal en die heerlike mengsel van feit en verdigsel.

’n Deurwinterde storieverteller wat hom nie met slimmighede en tierlantyntjies hoef op te hou nie, want hy weet hoeveel krag daar in die gewone, goed aanmekaargesitte verhaal tuisgaan.

Nie al die name is ewe bekend nie en dit is goed so. Dit maak ’n bundel soos dié een die ideale uitstalvenster vir nuwe talent wat deur bekende name gedra word. Brian Fredericks is maar net een van dié wat sy kleim afsteek wanneer die hoofkarakter sy pa gaan soek en hom vind en hom verloor, omdat hy eintlik nooit ’n pa was nie.

Jammer dat ’n bundel met soveel plesier en beloning ietwat afgeskeep daar uitsien. Die omslagontwerp is nou nie ’n aandagtrekker nie en die einde van sinne verdwyn dikwels in die rugkant.

Nogtans verdien elk van die 24 verhale sy plek op die rak.

Die bydraers is: Fawa Conradie, Jean-Pierre de Kock, Abraham H. de Vries, Jeanne Henning Els, Marida Fitzpatrick, Brian Fredericks, Rachelle Greeff, Helena Gunter, Roela Hattingh, Elizabeth Hentschel, Carla Kargaard, Martin Labuschagne, Herman Lategan, Henriëtte Linde-Loubser, Evert Louw, Erika Murray-Theron, Elias Nel, Johann Nell, Gerrit Rautenbach, Deborah Steinmair, Martin Steyn, Keina Swart, Gerda Taljaard en Kirby van der Merwe.

  • Jeanette Ferreira is ’n skrywer en vryskutredakteur.

Meer oor:  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.