Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bundels van Breytenbach eersdaags hier

Kaapstad. – Twee ­publikasies uit die pen van die meermale ­bekroonde Afrikaanse digter Breyten Breytenbach verskyn binnekort.

Die versamelbundel Die singende hand – Versamelde gedigte 1984 – 2014 sal van 13 April op die rakke wees en ’n nuwe bundel sal begin Mei uitgereik word.

Die uitgewer van albei boeke, Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, sê in ’n persverklaring Die singende hand is die derde versamel­bundel van Breytenbach se werk. Dit bevat 11 bundels. Die vorige twee bande is Ysterkoei-blues – Versamelde gedigte 1964 – 1975 en Die ongedanste dans – ­Gevangenisgedigte 1975 – 1983.

Die bundels wat in Die singende hand opgeneem is, sluit in werke waarvoor hy bekroon is. Hieronder tel Oorblyfsels – ’n roudig en Papierblom, waarvoor hy vir albei ’n ­Hertzogprys ontvang het. Hy het die Mahmoud Darwish-prys, asook die Max Jacob-prys vir Outre-Voix/Voice Over (uitgegee deur Actes Sud) ontvang. Vir Die windvanger het hy die Universiteit van Johannesburgprys vir skeppende skryfwerk, die Hertzogprys, asook die WA Hofmeyr-prys ontvang.

Ook ingesluit by Die singende hand is Soos die so – Toktokkie se nagregister; Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde; Die “Lady One”-siklus van nege nuwe ­gedigte uit Lady One – 99 liefdesgedigte; ­Oorblyfsel / Voice over – Op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj; Die beginsel van stof; ­Katalekte; Vyf-en-veertig skemeraandsange en Oorblyfsel.

Die titel van die komende nuwe bundel is die na-dood en volgens die uitgewer verwys dit “na die tyd digby die dood, maar ook ná die dood – vir Breytenbach ook Dina Dood – en roep op vernuwende wyses kenmerkende leitmotiewe op uit sy werk”.

Volgens Human & Rousseau word die ­verse ’n poging om die niesêbare op te roep (“daar jou taak, leesskrywer, kyk:/om die niet se oopgaanwond/ stekie vir stekie met woorde/toe te werk.”).

Tegelykertyd bied dié laatwerk ’n troos teen die dood wat wag, vir digter én leser. Onthou word “ ’n bevrugting van die verlede”, en skryf uiteindelik “diep bevredigend/ om die laaste duisternis in jou asem te mag mond in Afrikaans”.

Breytenbach woon al dekades lank in onder meer Frankryk en is ook bekend as skilder. Sy skryfwerk verskyn in verskeie tale. Sy werk is veral in Suid-Afrika, Frank­ryk, ­Nederland en Amerika bekend. Hy word as een van die belangrikste ­lewende digters in Afrikaans beskou.

Meer oor:  Breyten Breytenbach
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.