Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Cecile Cilliers se boekery vir Universiteit van Gent gegee

Die ontslape resensent en rubriekskrywer Cecile Cilliers se boekversameling is onlangs aan die Universiteit van Gent in België geskenk.

Cilliers, wat in 2018 dood is, se boekversameling bestaan meestal uit Afrikaanse digbundels wat in die fakulteit lettere en wysbegeerte se biblioteek aan studente en navorsers beskikbaar gestel word om onder meer op grond van boeke se oorspronklike uitgawes teksontledings te doen.

Resensent en rubriekskrywer
Cecile Cilliers Foto: Brenda Veldtman

Baie studente kies om BA- en MA-modules in Afrikaans te volg, sê Yves T’Sjoen, hoogleraar in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Gent, buitengewone hoogleraar aan die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch en deeltydse dosent aan die Karelsuniversiteit in Praag.

“Daarom word die boeke omvattend bestudeer en vir werkstukke en verhandelings gebruik. Naas die biblioteek in die Zuid-Afrika-huis (Amsterdam) en die Ernst van Heerden-poësieversameling van die Poëziecentrum in Gent, word die fakulteitsbiblioteek as dié naslaanbiblioteek vir die Afrikaanse letterkunde in die Lae Lande beskou.”

Cilliers se boeke word professioneel bewaar en geïnventariseer.

“Dit is beskikbaar vir studie in ’n oop biblioteek waar studente tussen die boekrakke kan loop. Die studie van Afrikaans in die Lae Lande, ook in Gent, trek voordeel uit soveel lees- en studiemateriaal.”

Cilliers se seun, Jan Cilliers, het haar boeke aan die universiteit geskenk. Hy het deur middel van die Belgiese ambassade namens die res van Cilliers se naasbestaandes met die universiteit kontak gemaak.

“Ons is geweldig dankbaar vir hierdie gulhartige skenking,” sê T’Sjoen.

“Daar is baie Afrikaanse bundels, maar dit is nie uitsluitlik Afrikaanse poësie nie. Te veel name om te noem. Omdat Cecile jare lank aktief was as resensent, kon sy ’n pragtige versameling opbou. Van N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman tot Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Daniel Hugo en vele ander.”

Cilliers was ’n rubriekskrywer vir Beeld, De Kat en Sarie. Verskeie van haar rubrieke is in verskillende bundels saamgestel.

Haar debuutkortverhaalbundel, Die ou vrou en die priester, het verskyn in die jaar waarin sy dood is.

“Ek het voorlopig nog nie haar eie publikasies (in die versameling) teëgekom nie,” sê T’Sjoen.

“Ons sal dit in elk geval aanskaf vir die biblioteek van die fakulteit lettere en wysbegeerte in Gent.”

Cilliers is nie die enigste Afrikaanse skrywer wie se boeke hier gehuisves word nie.

Die digter Fanie Olivier se boekversameling is in 2018 geskenk en verlede jaar op die Breyten Breytenbach-kongres aangevul.

Die Ernst van Heerden-poësieversameling van die Poëziecentrum, genoem na dié Afrikaanse digter wat in 1997 dood is, funksioneer onafhanklik van die universiteit.

“Dit bestaan al langer as 20 jaar en word steeds aangevul, danksy finansiële steun van die Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit en boekskenkings van die uitgewer Protea Boekhuis,” sê T’Sjoen.

“Die versameling bevat meer as 1 500 Afrikaanse digbundels.”

Afrikaanse letterkunde is gewild in die Lae Lande.

“Studente kan in Vlaandere in Gent en Antwerpen, en in Nederland in Groningen, Leiden, Amsterdam en Utrecht in Afrikaans studeer. Dit is meestal keusevakke. Daar word ook aandag gegee aan die Afrikaanse taalkunde en die kulturele verskeidenheid in Suid-Afrika. Daar word kursusse aangebied deur Suid-Afrikaanse akademici en deur Nederlandse en Vlaamse dosente.”

Die Universiteit van Gent en van Amsterdam het elkeen ’n Afrikaanse leerstoel.

Meer oor:  Cecile Cilliers  |  Boeke  |  Studente  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.