Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Chris Karsten se Man uit die dode: Hoofstuk 8

Chris Karsten het spesiaal vir Netwerk24-intekenare 'n spanningsverhaal vir die inperkingstyd geskryf. Man uit die dode gaan van 13 Julie tot 20 Augustus op Netwerk24 gepubliseer word. Lees elke week twee nuwe hoofstukke op Netwerk24.

Man uit die dode: Hoofstuk 8

12:23 | Vrydag 10 Julie 2020 

Dis ’n gebreide wintermus, wynrooi wol met ligter, romerige patrone. Ella probeer die koerantfoto van Basie met sy plakkaat oproep. Sy kan sweer hy’t ’n mus op. Of is dit ’n keps?

Sy kyk terug na die figuur op die luierende motorfiets, swart jekker, swart valhelm, weerkaatsing van haarself op sy gesigskerm. “Ek wil sien hoe jy lyk.”

Hy maak die gespe onder sy keel los en haal die valhelm af. “Ek’s die delivery boy vir Tony’s Minimarket. Ek lewer groceries af, vir die mense wat nog bang is vir die virus, of oumense sonder karre. My naam is Sello.”

Delivery boy? Is dit hoe Tony sy afleweraar noem? Hy rits sy baadjie oop en vroetel ’n pen en bestelboekie uit en skryf iets neer, skeur die vel uit vir haar. “My selnommer, stuur ’n sms, anonymous, sê: Thanks for the veggies.”

“En wat gebeur dan, wanneer jy my nommer het?”

Sello plaas die helm terug oor sy kop, trek die gespe onder sy keel styf, wikkel sy hande in die handskoene. “Ek bel jou vanaand. Ek gaan jou wys.” En ry weg.

“Wat gaan jy my wys . . .?” roep sy agter die stofstreep aan.

Ella sit ’n oomblik met die mus in een hand, die pepersproei in die ander, plaas albei op die sitplek langs haar en ry na die Deysels se huis, gee ’n kort toet voor die hek.

Janneman loer by die Tattoo Parlour uit en roep: “Jenny! Jou Joziemaatjie!”

Sy kom by die kombuis uit, trek die ou plaashek oop. Ella ry in, druk die mus en pepersproei in haar skouersak en klim uit. Uit die vraghouer klink heavy metal op.

“Kan ek daai koerant met Basie se foto leen?” sê Ella. “Ek het ’n foto nodig om na hom te soek. Waar kan ek ’n fotostaat gaan maak?”

“Kom, Janneman het ’n fotostaatmasjien vir sy tatoeprentjies,” sê Jenny.

Ella trek haar masker op voor sy instap, en hou haar hande tuis. “Het jou pa al bedaar?” vra sy vir Janneman.

Hy sit die musiek sagter. “Nee, my pa bedaar nie maklik nie. Wil jy ’n tatoe hê?”

“Ek hét een.”

“Het jy ’n nipple piercing?”

“Ignore hom net,” sê Jenny en gee die kleurfotostaat vir haar.

Basie hét ’n mus op, maar nie hierdie een nie. Syne het ’n effense tuit en oorflappe. Cornelius het waarskynlik vir hom en Basie twee identiese kosakmusse gekoop. Die eerste keer het sy die foto net vlugtig ingeneem, nou bestudeer sy dit met meer aandag. Nie dat sy steeds veel wys word van Basie se gesig met die mus en virusmasker nie, maar sy kan aan sy houding sien dat hy voorgesê is hoe om vir die kamera te poseer, die plakkaat hoog bokant sy kop. Hy is ook kort en fris gebou, ’n buksie soos sy pa en broer Boela. Janneman en Sus is lenig, trek op hulle ma. Jenny is ook kort, dalk op skool ’n goeie gimnas.

Ella vou die fotostaat en sit dit in haar handsak. “Ek moet ry.” Sy klim in die bakkie en sê met die uitry vir Jenny by die hek: “Maak toe en kom klim in, ek wil jou iets vra.”

Net buite die erf hou sy langs die straat stil en skakel die Bantam af. Draai na Jenny: “Waaroor ons gesels, sal niemand weet nie. Vertrou jy my?”

Sy knik. “Uh-huh, ek trust jou.”

“Weet jou ouers van jou affair met Tony Acido?”

“Nooit! My pa sal my afslag. Of wegjaag. Dis ’n geheim. Net Cornelius weet.”

Ja, natuurlik, Cornelius die Alwetende. “Het jý hom vertel?”

“Basie weet ook.”

“O? Jy vertrou hulle?”

“Ek het nie eintlik ’n keuse gehad nie.” Sy beskou haar naels op haar skoot, en sê sonder om op te kyk: “Cornelius en Basie het my een Sondag by Tony se huis gaan haal, daar op sy naweekplasie langs die Vaal.” Sit eers weer in swye. “Dit was bietjie meer as ’n maand terug. Die naweek net ná vlak drie begin het. Tony se vrou en kinders was weg Johannesburg toe. Dit was ’n lekker naweek, maar toe begin ons Saterdagaand woorde kry, oor hy net beloof en beloof. En toe weer Sondag. Ons het ’n groot tiff opgetel. Jy weet, oor hy goed sê en nie sy beloftes nakom nie. Maar dis nou weer alles uitgesort, hy wag net vir die regte oomblik om sy vrou te los. Hy sê dis nie so maklik as jy baie geld het nie, want sy sal hom kaal uittrek.”

“Jenny, ek sê weer, jy moet my vertrou, ek sal jou nooit by enigiemand in die moeilikheid bring nie. Nie by jou ouers nie, ook nie by Tony nie. Verstaan jy? Al wat ek vra, is dat jy eerlik is.”

“Oukei . . .” sê sy.

“In die bed, laat in die aand,” sê Ella. “Wanneer jy en Tony daar lê en sweet nothings vir mekaar fluister . . . Terloops, ek en my kêrel doen dit ook, almal doen dit. Elk geval, daai tye wanneer Tony lê en beloftes maak dat hy sy vrou vir jou gaan los . . . Dink baie mooi, Jenny. In julle pillow talk, het hy ooit Basie se naam genoem?”

Sy sien hoe Jenny haar onderlip vasbyt en ver deur die voorruit uitstaar. “Ek het ’n slag gevra of hy nie vir Dysie werk het nie. Dysie het daar in Cornelius se tuine en als gewerk, maar dit was vir peanuts, net sakgeld. Ek het vir Tony gesê Dysie is ’n harde werker en hy sal nie spyt wees nie. Toe sê hy: ‘Wat van Basie? Ek sal hóm vat. Hy’s sterk, hy kan bokse ronddra en kratte aflaai en groentesakke indra. Beste van als is, hy sal nooit teëpraat nie.’ En hy lag of dit ’n groot flippen grap is, Basie se spraakgebrek.”

“Wat het Basie van die aanbod gesê?”

“Hy’t gesê hy sal daaroor gaan dink. Twee dae later sê hy nee, hy gaan nie vir Tony werk nie.”

“Het hy gesê hoekom nie?”

“Hy’t gesê hy werk nie vir iemand wat sy eie dorp verniel en sy eie mense siek maak nie. Ek onthou dit baie goed, ek het dit nou nog, sy briefie: Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie, ek kan nie God én Mammon dien nie.”

“Reg uit die Bybel gemotiveer, ek’s beïndruk.” Of hy kon dit in Cornelius se groentetuine gehoor het, daar waar iemand die konsep mooi aan hom sou uiteensit en dit op Tony Acido en sy Bavu-kliek toepaslik maak. “En Basie het toe mos al met sy eenmanprotes begin, daai Maandag, op 1 Junie?”

“Hy’t nog die naweek vir my en Janneman gevra om vir hom die poster te maak, die een op die foto. Hy’t die woorde neergeskryf: Stop die fokken lorries! Janneman het gedink dis cool. Maar ek het vir hom gesê hy kan mos nie ’n vloekwoord op ’n poster sit nie, hy wil dan in die publiek daarmee gaan protesteer. Die anties sal kla, dan kom vat die cops sy poster vir obscenity.”

“Was dit die enigste pillow talk oor Basie?”

Sy dink eers. “Hy’t weer oor Basie gepraat. Dit was nadat een van Bavu se lorries teen ’n kar gebots het. Twee mense in die kar is dood, van Bavukile, die township onder by die spruit. Daar was toe amper wéér opstande, want hulle sê die lorries ry nes hulle wil en steur hulle nie aan ander karre en aan padreëls nie. En die cops en speed cops kyk anderpad. Dis toe dat die koerante vir Basie kom afneem het. Tony het gesê ek moet Basie order om sy protest te los. As hy dit doen, sal hy vir Basie ’n bankrekening oopmaak, vir ’n neseier.”

“Hy wou hom omkoop?”

“Uh-huh. Weet jy wat doen Basie? Hy sê hy laat hom nie rondorder en omkoop nie. En een aand gaan spuit hy teen Tony se winkelvenster met rooi verf: OMKOPER!!!!! BRIBER!!!!! MAMMON!!!!! Hoofletters, vyf uitroeptekens agter elke woord. Dis wat die customers sien toe hulle die volgende dag by die winkel kom. En Tony was nie eens hier nie, iewers in Johannesburg vir besigheid. Hy was omtrent van sy kop af toe iemand die foto vir hom whatsapp. Hy wou Basie te lyf gaan toe hy terugkom. Maar hy sou nie, Basie is sterk, hy sal hom opfrommel. Toe sê Tony hy gaan Joe Nene vra om Basie ’n pak slae te gee.”

“Maar hoe’t hy geweet dis Basie?”

“Basie het dit self erken, toe hy sy sigarette en piesangs gaan kry het.”

Voor haar geestesoog sien Ella vir Basie daar op die einste stoep met sy spuitverf. Sulke goed kan hy sekerlik self bedink en beplan en uitvoer, hy is mos nie so dom nie. Of het iemand hom aangepor en hom help fokus op sekere optredes? Het Cornelius die toutjies getrek wat Basie laat dans het? Dis dalk tyd dat sy en Cornelius weer gaan sit en gesels. Diep, oor elkeen van die vier. Dalk sommer oor Sello ook.

“Jenny, die naweek toe jy en Tony woorde gehad het, die tiff. Wat het presies gebeur dat Cornelius en Basie jou daar op Tony se naweekplasie moes gaan haal het?”

Sy kyk weg. “Ek wil nie daaroor praat nie.”

“Hy’t jou geslaan, nè?”

Sy knik. Sê dan sag: “Maar hy’t dit nog net twee keer gedoen. En hy’t gesê hy’s jammer, hy sal nooit weer nie.”

Ella sit haar hand oor Jenny s’n. “Hy’s nie ’n goeie man nie, Jenny. En hy gaan nooit sy vrou vir jou los nie.”

Sy sit kop onderstebo, sê ná ’n rukkie: “As Cornelius nie gekeer het nie. Basie was buite homself toe hy my oog en my lip sien. Hy wou Tony gaan soek, Cornelius moes net keer.”

“Hoekom is Basie saam?”

“Cornelius mag mos nie alleen rondry nie, dis Mama Gugu se wet. En daai dag was ’n Sondag, Mama Gugu en die tweeling gaan Sondae kerk toe, en kuier rond. En Basie het niks te doen gehad nie.”

*

Ella kyk Jenny agterna terug huis toe en skakel die bakkie aan. Die groot vraag nou is: Wie se mus het sy hier in haar sak? Een van die ander vermistes s’n, of sien Sello spoke?

Voetwerk. Dis kolonel Sauls se diktum. Sonder voetwerk kry jy g’n speurondersoek opgelos nie. En haar volgende voetwerk is na Annie Lamberts toe, daarna Busi Dlomo, selfs weer mevrou Nene agter haar hoë mure.

Sy bel. “Is jy by die huis, kan ek oorkom?”

“Ja, kom,” sê Annie, “ek skuld jou nog ’n foto van Josh.”

Haar huis is drie groot straatblokke van die Deysels af, en Annie wag op die stoep by haar treurige malvas.

Ella haal die mus uit haar sak. “Ek het –”

Annie maak ’n geluid soos ’n katjie met ’n haarbal in die keel, reik na die mus, laat sak weer haar hand. “Dis . . . dis Josh se beanie.”

“Is jy seker?”

“Ek het dit self gebrei. Hy’t dit elke oggend opgesit werk toe.” Sy vat dit uit Ella se hand. “Waar kry jy dit?”

“Iemand het dit opgetel. Ek gaan die mus eers by my hou, maar die oomblik as ek dit nie meer nodig het nie, kom gee ek dit in jou hande. Die mus help, want ek gryp na elke moontlike strooihalm. Kan ek op sy rekenaar gaan rondloer? Dalk het hy en Basie daar ook ’n spoor gelos.”

Annie stap na Joshua se kamer, trek die gordyne oop. “Nog net soos hy daardie Vrydagoggend hier weg is. Daar’s sy laptop.”

“Het Joshua enigiets gestudeer ná matriek?”

“Nee, hy’t nie eintlik belanggestel in so iets nie. Eers toe Cornelius hom aangemoedig het om meer te wete te kom van aardverwarming en besoedeling en sulke dinge, het Josh dié nuwe belangstelling gekry. Cornelius het gesê hy sal probeer help as Josh verder daaroor wil gaan leer. Ek los jou eers in vrede.”

*

Ella skakel die rekenaar aan. Geen wagwoord is nodig nie. Sy beskou die ikone, begin van die dokumente oopmaak – alles oor klimaatsverandering, besoedeling, kweekhuisgasse, fossielbrandstowwe, steenkoolkragstasies, steenkoolmyne, steenkoolvragmotors, Eskom, Majuba, Goedgevonden, Osspruit, Bavukile. Ook heelwat oor Greta Thunberg, selfs ’n foto van haar tydens haar “skoolstaking vir klimaat”-veldtog. Sy staan voor die Sweedse parlement met ’n plakkaat:

Skolstrejk för klimatet

Het hierdie foto Basie aangesteek om ook met ’n plakkaat te gaan protesteer?

Hoe verder sy snuffel, hoe meer beïndruk is Ella. Vir iemand wat nie juis akademies aangelê is nie, getuig Joshua se navorsing van formidabele algemene en ook tegniese kennis – selfgeleerd, of danksy Cornelius – van veral kragstasies se emissies van kweekhuisgasse in die atmosfeer en die vrylating van besoedelende stowwe in die lug en water. Onder die kweekhuisgasse fokus hy op die uitwerking van koolstofdioksied, stikstofoksied en metaangas. By lugbesoedeling is dit swaeldioksied en swaeltrioksied, die stikstofoksiede, kwik, spoorelemente, radioaktiewe nukleoïede. Hy skryf:

Die SO2 en NOx reageer ook met watermolekules in die atmosfeer en vorm suurreën. Hierdie hoë konsentrasie suur is rampspoedig vir visse, klein diere, bome en ander plante.

Die sogenaamde vervlugtigende organiese verbindings reageer weer met mekaar en vorm laag oor die grond osoon, of rookmis, en dit kan lei tot long- en hartsiektes onder bejaardes, jong kinders en asma- en vigslyers.

Die derde lugbesoedelaar wat hy nogal uitvoerig beskryf, is fyn stofdeeltjies wat hy (of Cornelius) “partikulêre materie” noem – soos in smokkelsigarette:

Dis onsigbare en komplekse gasverbindings van roet, rook, skoorsteenas, metale, nitrate, sulfate, stof, rubber, en word hoofsaaklik versprei deur skoorstene, uitlaatgas van voertuie, en stof, soos onder die wiele van steenkoollorries!

Hierdie afvalprodukte van koolverbranding bevat giftige chemikalieë en swaarmetale en veroorsaak geboortedefekte, breinskade, leerprobleme by kinders, emosionele en gedragsafwykings, niersiekte en diabetes.

*

En dan skrikwekkende betoë teen dieseluitlaatgas:

Die samestelling van moderne dieselbrandstof het die laaste jare minder toksies geword, maar as jy die dampe oor lang periodes inasem, veroorsaak dit steeds ernstige gesondheidsprobleme, soos longkanker, nierskade, verhoogde risiko vir ’n hartaanval.

 

Die uitlaatgas – met 40 verskillende toksiese partikels – is nadeliger as gewone dieseldampe. Oor die kort termyn irriteer dit jou oë, neus, keel en longe, en veroorsaak brongitis, kopseer en naarheid. Oor die lang termyn verhoog dit die kanse vir asma, longsiektes, hartsiektes, probleme met die brein en immuniteitstelsel.

 

“Diesel particulate matter” (DPM), of “diesel exhaust particles” (DEP), word gebruik as benaming vir die soliede of vloeibare partikels wat deur vragmotors se uitlate in die lug uitgeblaas word. Van hierdie partikels is sigbaar as roet en rook, maar 90 persent is onsigbaar, minder as 2,5 mikron in deursnee, soos as, metaalskuursels, silikate, sulfate, koolstofdamp, stikstofoksiede, koolwaterstof, en vele meer. Dit beland nie net in jou longe nie, maar ook in jou bloedstroom, en beskadig sodoende al hoe meer van jou organe.

*

Cornelius het hom goed geleer. Nou soek sy na iets anders, en dis ook maklik om te kry; die lêer se naam: Happy Crocodile. Die dokument wat in die burgemeester se kar vergeet is, deur Joshua afgeneem en op sy rekenaar afgelaai. Dis ’n drukstuk van ’n e-pos, gedateer 19 Maart 2020, van Joe Nene aan Jabu Ngwenya, cc Tony Acido, JP van Schoor. In die onderwerpveld: PROTESAKSIES. Met handgeskrewe notas in die kantlyn, onderstrepings van name, datums en sinne. Het Joe Nene die drukstuk gemaak sodat sy baas dit gerieflik in die kar kan sit en bestudeer terwyl hulle iewers heen op pad was?

Ella laai dit op haar geheuestokkie af, gaan haal die mus by Annie, en ry terug gastehuis toe. In haar kamer maak sy haar eie laptop oop, en lees Joe Nene se verslag oor die bevindinge van sy ondersoek na die oproere en geweldpleging tydens Januarie, Februarie en Maart se protesoptogte op die dorp.

Sy kontroleer dit met die datums van berigte in plaaslike koerante en sien dat die twee Bavu-vragmotors op Dinsdag 17 Maart aan die brand gesteek is. Daarmee begin die drukstuk se inhoud meer sin maak, ook die feit dat dit aan die drie Bavu-vennote gerig is.

Nene se taak was blykbaar om uit te vind wie die aanhitsers is. Hy noem ’n paar name en meld dat dit vir hom ’n taamlike verleentheid is om te rapporteer dat die groot belhamel uit eie stal kom: sy vrou se broer, Nathi Moyo. Dit verbaas hom egter nie, want Nathi Moyo is ’n gebore onrusstoker en die familie moes hom al dikwels uit sy moeilikhede gaan help. Hy is boonop ’n goeie makker van Junior Sofisa, ’n ander prominente opstoker en belhamel.

Nene sluit af:

Ek stel voor dat ons so gou as moontlik ooreenkom op ’n finale oplossing vir dié lastige probleem.

Naskrif: Hierby aangeheg is ook voorbeelde van pamflette wat nou op die dorp versprei word. Dit teiken steenkoolvragmotors. Dis ’n bitsige nuwe veldtog wat na my beskeie mening so gou as moontlik in die kiem gesmoor moet word. Ek stel ondersoek in.

*

Vyf dae ná die e-pos gestuur is, verdwyn Junior Sofisa en die volgende dag Nathi Moyo. Die dag daarna kom die land tot stilstand. Maar dit lyk nie of Joe Nene ook tot stilstand kom nie, want hy begin met sy ondersoek na Joshua Lamberts en sy pamflette. Hy stel seker weldra vas dat Joshua en Basie saam onder die kombers is.

Die ander vraag is: Met dié dat Tony Acido en Jabu Ngwenya mense so fluks probeer omkoop – eers Cornelius, toe Basie – wie anders het die aanbiedinge aanvaar? Is sersant Syster byvoorbeeld op só ’n wyse gekoöpteer? Sy sal graag wil sien hoe sý neseier lyk?

*

Haar sel lui. Onbekende nommer. ’n Growwe manstem vra: “Ella Neser?”

“Wie praat?”

“Ek’s Lwazi Thembela, ek’s die nagwag.”

Die ratwerk in haar kop ratel teen omtrent die spoed van lig, val in plek. Halfway Bottle Store! Moet Oupa wees wat haar naam en nommer vir hom gegee het. “Ja, Lwazi?”

“Ek wil net sê van Basie. Ek het Maandag daar by die bottle store aangekom van die apteek af. Toe sien ek die lorrie daar by Basie se staanplek.”

“ ’n Steenkoollorrie, en dit het parkeer?”

“Dit het weer gery toe ek aankom. Daardie lorries het net drywers, maar hierdie een het passengers gehad. Hulle mag nie met passengers ry nie.”

“Kon jy die passengers sien?”

“Ek het van die apteek af geloop. Die lorrie het van voor aangekom. Hy het by my verbygery en ek kon die passengers sien. Hulle was drie daar voor in die lorrie. Ek het Basie gesien.”

“Jy’t hom herken, met sy hoed en masker en al?”

“Ek ken vir Basie, ek ken sy hoed, ek ken sy masker. Hy’t gesit in die middel.”

“En die lorrie was vol steenkool?”

“Vol. Op Amersfoort se pad, Majuba se kole.”

Is dit hoe die ander ook ontvoer is? Op pad na hulle dood in die einste lorries waarteen hulle so betoog en protesteer?

KLIK HIER OM HOOFSTUK 1 TE LEES

  • Chris Karsten se nuwe roman Die versoeking van Thomas Maas verskyn op 20 September en sal as gedrukte en e-boek beskikbaar wees.
  • Die volledige Man uit die dode sal teen middel November op die rakke wees.
Meer oor:  Chris Karsten  |  Vervolgverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.