Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Chris Mann se laaste bundel eersdaags uitgereik

Die digter Chris Mann (72) wat in Maart aan kanker oorlede is, se laaste bundel word eersdaags uitgereik.

Palimpsests se manuskrip is afgehandel die dag waarop hy in die hospitaal opgeneem is.

“Dit is baie ontroerend vir my,” sê Michele Betty, uitgewer van Dryad Press, wat die bundel uitgee.

Chris Mann Foto: Paul Greenway

“Dit was net voordat hy sy laaste chirurgie gehad het. Dit was enkele weke voordat hy gesterf het.

“Ek was onbewus daarvan dat dit die laaste keer sou wees dat ek met hom kon praat of sy werk met hom kon bespreek. Maar ek dink hy het dit geweet.”

Hy het kort vantevore in hul e-poskorrespondesie aan haar geskryf: “Kontemporêre neurale wetenskap, wat moderne tegnologie gebruik om die aktiwiteite van die brein te verken, vestig die aandag op die duur van die langtermyn, invloedryke herinneringe in sekere dele van die brein waar ek vermoed die skadu van ’n individu voortleef.”

Betty reken Palimpsests kan sy beste werk nóg wees.

“Dit plaas die Griekse en Romeinse mitologie in ’n Afrika-konteks.”

Die bundel bekyk die interaksie tussen verskillende kulture en skets hoe die verlede in die hede verweef is.

Mann verken “soos ’n moderne Orpheus” die onderwêreld van die verlede, maar keer terug met Afrika-poësie wat ’n mens se begrip van die hede verdiep. ’n Jeugdige Narcissus is op ’n selfoon vasgevang en Odysseus verwyl sy tyd op die internet.

Die satiriese digters van antieke Rome steek die draak met die bekende hunkering na seks en mag onder politici.

‘Palimpsests’, Chris Mann se laaste digbundel.

Mann was ook die stigter van die Wordfest-digtersfees in Makhanda, ’n byeenkoms waar digters en skrywers in verskillende tale optree.

Daarbenewens het hy die Spiritfest in Makhanda begin, wat op die rol van die kerk in die kunste fokus.

Hy was emeritusprofessor in poësie aan die Rhodes-Universiteit en verbonde aan die Instituut vir die Studie van Engels in Afrika.

Benewens poësie het hy toneelstukke geskryf, soos The Crux of Being, en Walking on Gravity.

Hy het in 2014 vir die stuk The Ballad of Dirk de Bruin op die Nasionale Kunstefees in Makhanda ’n Standard Bank Ovation-prys gekry.

Hy het ook die Thomas Pringle-poësieprys en die Olive Schreiner-prys vir Suid-Afrikaanse poësie gewen.

Sy debuutdigbundel, First Poems, is in 1979 deur Bateleur Press uitgereik.

Mann is in Gqeberha (Port Elizabeth) gebore en het aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die Universiteit van Oxford studeer.

Hy was met die visuele kunstenaar Julia Skeen getroud en het twee kinders.

“Ephipanies” is een van die gedigte in die bundel Palimpsests:

Whoever grew wise

without sorrow?

Whoever loved

until they’d trusted

enough to bleed?

And who understood

until they’d shivered

in terror at their ignorance?

Meer oor:  Makhanda  |  Poësie  |  Boeke  |  Skrywers  |  Kanker  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.