Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Churnalism’, mikrogolfjoernalistiek ná Wolfe

Tom Wolfe se dood (op 14 Mei) is reeds ou nuus, maar saam met hom en sy bende avonturiers is een van die opwindendste vorms van joernalistiek, New Journalism, waarskynlik ook graf toe.

Dit is perdalks geleë om weer te kyk na die stand van narratiewe en langformaat-joernalistiek, kreatiewe niefiksie, en literêre joernalistiek. Met laasgenoemde word daar nie na letterkunde op sigself verwys nie, maar na impressionistiese artikels wat elemente van essays, kortverhale en selfs romans inkorporeer.

Die New Journalism-beweging, met Wolfe as pionier, was die ma (of een van hulle) wat die lewe geskenk het aan dié voorgenoemde genres. Dit het in die 1960’s ontstaan en was ’n soort kontra-aksie teen die kil en feitelike koerantverslaggewing van daardie era.

Herman Lategan

Vanselfsprekend was en is dit onontbeerlik om jou data en inligting reg te kry en dit so nugter moontlik oor te vertel, maar

Wolfe en ander tydgenote het dit versmorend gevind. Daar kon veel meer met ’n stugge artikel vermag word.

Die feite word wel ingewerk, maar ’n gevoelswêreld waar jy agter die gordyn loer, word geskep. ’n Artikel kon maklik uit 15 000 woorde bestaan, vergeleke met vandag se features wat ongeveer 1 500 bevat.

In Wolfe se bloemlesing The New Journalism (1973), van wie hy ’n mederedakteur was, skryf hy ’n lang voorwoord oor wat hierdie kategorie behels: die konstruksie en dekonstruksie van klein scènes wat opbou, realistiese dialoog, ’n verteltegniek in die derde persoon, en ’n narratief met ’n intens beskrywende oog wat iemand se klere, die vertrek waarin hulle is, wat hulle eet, en selfs wat die hond se naam is, uitbeeld.

Van die skrywers wie se werke hy as voorbeeld in die boek plaas, is Joan Didion, Truman Capote en Norman Mailer, elk met ’n klein inleiding. In Wolfe se New Journalism ruik, hoor, sien en voel jy. Alle sintuie word ingespan. Dialoog moet akkuraat wees, al vloek die persoon. As hy hoes, nies, snot uit sy neus hang, word dit deel van die storie.

Indien jy ’n onderhoud met iemand voer, bel jy nie net die persoon nie, ook spandeer jy nie net ’n agtermiddag met hulle nie.

Nee, jy moet die mens vir lang tye shadow en tyd in hul teenwoordigheid deurbring. Baie stories kan so aangepak word: die Mej. Soetpatat-kompetisie, dwarf-tossing-karnavalle, die Kreefdans in Paternoster, die Calvinia-vleisfees, enigiets aweregs, ongewoon.

Baie lesers wil skrapse brokkies nuus gou-gou op hul selfone lees, amper soos een-minuut-klankgrepe op TV en radio. Die agtergrond kom net in die pad.

Onderwerpe, mense en plekke dus, wat lesers uit hul gemaksones neem, op ’n vermaaklike en informatiewe manier.

Een van dié artikels wat as voorbeeld kan dien, is die profielonderhoud deur Gay Talese getiteld “Frank Sinatra Has a Cold”.

Dit is verpligte leesstof om te kan sien hoe die goue dae van die lang maar onderhoudende feature dalk verby is. Dié stuk was vir die April 1966-uitgawe van Esquire en beslaan ruweg 15 000 woorde.

Frank Sinatra sou 50 word, en sy verhouding met die 20-jarige Mia Farrow (die ironie), was in die nuus. Sinatra het geweier om die onderhoud toe te staan. Talese het nie opgegee nie. Hy het Sinatra en sy entourage drie maande lank agtervolg.

Deur ’n reeks gesprekke met verskeie mense in sy soet binnekring en om in die agtergrond by plekke waar Sinatra gekuier het rond te hang (stalking), het hy van die fynste karakterstudies van iemand opgebou, sonder om eens ’n direkte persgesprek met hom te voer.

Daardie dae is nou verby om verskeie redes. Baie lesers wil skrapse brokkies nuus gou-gou op hul selfone lees, amper soos een-minuut-klankgrepe op TV en radio. Die agtergrond kom net in die pad.

’n Lang feature, al is dit pure letterkunde, is nou tydmors. Nog beter is wanneer dit ’n kort, sensasionele videogreep is van ’n herrie wat sonder konteks opgedis word, veral as dit viral gaan. O, die drama!

Die gevolg is lawagolwe van voorspelbare eindelose banale opiniestukke wat meestal eenders opklink van mediahuis tot mediahuis. Uiteraard is daar uitsonderings, veral met ondersoekende joernalistiek.

Dit is ook alombekend dat nuuskantore wêreldwyd nie meer genoeg personeel het nie.

Daar is nie mannekrag om dae of maande lank aan een onderwerp te werk nie, behalwe by sekere tydskrifte.

Die New Journalism is nou saam met Wolfe dood. Die Amerikaanse media glo nou churnalism, mikrogolfjoernalistiek, drive-by- en hit-and-run-joernalistiek is nou die New Journalism. Ai.

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis van Seepunt.
Meer oor:  Herman Lategan  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.