Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Cilliers se kortkuns ’n sjarmante debuut

Die ou vrou en die priester

Cecile Cilliers

HUMAN & ROUSSEAU, R195

Kortverhale

Die ou vrou en die priester is Cecile Cilliers se eerste bundel kortverhale.Foto: BRENDA VELDTMAN

Cecile Cilliers is veral bekend as ­­rubriekskrywer: Beeld, De Kat en Sarie.

Daar was Boeksusters met haar suster wyle Madeleine van Biljon waar onderhoude met skrywers op kykNET gevoer is. Sy was die eerste niepredikantsvrou wat tot visevoorsitter van die NG Kerk se sinodale komitee verkies is. Sy het ook enorme werk verrig vir alle vroue in die kerk en op ouderdom 84 debuteer sy met Die ou vrou en die priester en ander verhale. Boonop met ’n pragtige Robert Hodgins-skildery op die voorblad.

In 2012 lees ek haar verhaal “Brood” in die bundel Bloots (samestellers: Karin Eloff en Peter van Noord) en wéét: hier is ’n kortverhaalskrywer wat wag om gepubliseer te raak. Die ware kortverhaalskrywer skryf soos ’n digter en gebruik min woorde, suggestie, beelde – en ontgin emosies op ’n eerlike wyse.

Elise Muller, Henriette Grové, Petra Müller, Nanette van Rooyen, onder andere, is voorgangers – en hier kom Cecille Cilliers en sy voeg haar by die lang galery van vroue-kortverhaalskrywers, te veel om op te noem. Corlia Fourie en Annemarié van Niekerk het die uiteenlopende stemme gebloemlees.

Die bundel is vanuit ’n vroulike perspektief geskryf en Hélène Cixous se Sorties (Uitgange) oor die verskille tussen die manlike en vroulike skryfwerk is hier aanwesig. In die eerste verhaal word daar na die maan getjank, ’n simbool vir Cixous van die vroulike dimensie:

“Women must write through their bodies, they must invent the impregnable language that will wreck par­titions, classes, and rhetorics, regu­lations and codes, they must sub­merge, cut through, get beyond ­the ultimate reverse-discourse, including the one that laughs at the very idea of pronouncing the word ‘silence’. . .,” aldus Cixous.

Goeie kortverhaalskrywers is kunstenaars uit eie reg. Hulle is nie op pad om romans te skryf nie.

Ons lees kortverhale (onbewustelik) na die slot toe. Daar moet “clo­sure” wees. Dikwels neem die verhaal ons terug na die eerste sin, die eerste gewaarwording soos in “Herrnhut” uitgebou rondom onbeantwoorde liefde. ’n Jong skoolmeisie se drome en die ouer man se sobere reaksie (selfbeskerming?) word belig en hoe hierdie insident haar sou raak vir die res van haar lewe.

Die oortuigende kortverhaalskrywer span al die sintuie in en in “Die fox fur” handel dit oor die mag van die reuksintuig. Hier is Cilliers besig om ’n hele vergange wêreld van hoededose en pelse aan die vergetelheid te ontruk. En aktiveer ook die verwonde hoofkarakter se gevoel van onbehendigheid en verlatenheid rondom ’n ingewikkelde verhouding met die moederfiguur.

In “Die trourok” word sowel politieke as religieuse kwessies aangespreek. Die mag van gebed, ’n fratsongeluk en hoe ’n ander kind die plek inneem van die gestorwene. Lobola teenoor die bygeloof dat die dra van ’n trourok voor die groot dag ongelukkigheid kan veroorsaak, word in hierdie klein juweel van ’n verhaal opgehef. Rondom ’n trourok word ironie ingespan.

Cilliers teken haar karakters met min woorde, maar jy kan hulle voor jou voel en sien.

As ’n kenner van letterkunde (Cilliers het ’n doktorsgraad in Afrikaans behaal) kan sy ’n verhaal laai met subteks en intertekste wat nooit die verhaal stuit nie. In die skitterende “Die hitte van die Karoo” word daar verwys na Robert Hodgins se skilderye om die hitte van die Karoo te konkretiseer. Van Wyk Louw se liefde wat so kon skif tot haat dra die storie verder, met ’n herinnering aan Doré se Adam en Eva wat uit die paradys verjaag word.

’n Vernuftige spel met buite- en binneteks omdat Hodgins op die voorblad staan. En die leser neem na sy uitstaande werk wat saam vertel. In “I’m sorry” analiseer sy ’n gelade politieke situasie en hoe mense dikwels namens ander intree om selfsugtige redes. Op ander plekke is daar verwysings na Totius; selfs M.E.R. Die priester word via Chesterton ingekleur in ’n analise van oudword, geloof, selfstryd (en die dood) in die komplekse titelverhaal.

Die verhale handel oor tussen­posisies of die skemer plekke van die gees: ’n meisie se jeugdige obsessie met ’n ouer man; ’n vrou wat verlang na haar oorlede man; ’n huwelik van stiltes en verwyte na die kinders die huis verlaat het; onvervulde begeertes en drifte; ’n gesteelde ring wat ’n teken moet word vir ’n herbesoek van ’n verhouding; bloedskande; Alzheimer se siekte; die dood …

Hierom verhale van ’n ouer, lewenswyse mens. Hierom is elke woord op sy plek. Elke insig ryp en beleë. Fredric Jameson se politieke onbewuste en Cixous se vroulike onbewuste word in verhaal ná verhaal gekarteer. Een punt van kritiek: die blakerteks se aanhaling uit ’n verhaal gee nie die werklike omvang van die bundel weer nie.

’n Sjarmante, gevoelige debuut. Daar is ’n handvol stories wat hierdie leser áltyd sal bybly.

  • Joan Hambidge is professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die UK.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.