Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Comrades-inspirasie soos min vir groentjies

Niefiksie

Winged Messenger: Running your first Comrades Marathon

Bruce Fordyce

KWARTS PUBLISHERS, R220

Bruce Fordyce se boek gaan nie net oor hardloop nie, maar is ook op ’n manier ’n stuk kultuurgeskiedenis, skryf Sarel van der Walt.

Met sowat 30 km oor in die moordende Comrades-wedloop sal jy iemand ontmoet wat jy bewonder – en respekteer. Daardie iemand is jyself.

So sê die negemalige Comrades-kampioen Bruce Fordyce in dié lekkerlees-boek oor sy voorbereiding vir sy eerste Comrades in 1977. Hy sê aspirant-Comrades-hardlopers kan dit as ’n riglyn gebruik om vir dié moordende wedloop van Pietermaritzburg na Durban of in die teenoorgestelde rigting voor te berei.

Daar is nie nog ’n ervaring soos om jou vir jou eerste Com­rades voor te berei, om voor hanekraai voor die stadsaal van Durban of Pietermaritzburg aan te tree en uiteindelik die byna 90 km tussen dié twee stede af te lê nie, sê dié veteraan van 30 Comrades.

“Die Comrades is net so deel van Suid-Afrikaners se wese as braaivleis en biltong.”

Dit is ’n lewensveranderende ervaring wat elke hardloper minstens een keer moet aanpak.

“Die wegspring van die Com­rades in die 21ste eeu is loshande die mees emosionele en inspirerende wegspring van enige marathon in die wêreld. Dit is ’n onontbeerlike deel van die Comrades-ervaring.”

Vra maar enige Comrades-hardloper: Hulle onthou almal die gepiep van die duisende Indiese spreeus in die bome om die helder verligte stadsaal, die gedreun van die stemme van die duisende deelnemers, die spontane gesing van “Shosholoza” en “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, die volkslied, die speel van “Chariots of Fire”, die opname van Max Trimborn se hoenderhaankraai en dan die skoot wat klap.

As daardie gevoel jou nie emo­sioneel maak nie, sal niks jou roer nie.

Fordyce sê ’n oomblik voordat die skoot vir sy eerste Comrades geklap het, het hy besef die groot oomblik het aangebreek. Dis die begin van die Comrades en die klimaks van maande se voorbereiding.

Hy glo dié boek, wat hy verlede jaar met die vlak 5-inperking van die Covid-19-pandemie geskryf het, sal atlete help om uit sy ervaring van die wêreld se grootste ultra-wedloop te leer.

Fordyce sê hy het baie foute gemaak wat nuweling-hardlopers nie hoef te herhaal nie.

Een van daardie lesse is om nie te gaan hardloop as jy siek is nie.

’n Ander waardevolle stuk advies is die belangrikheid van lang en stadige oefensessies, oftewel LSD-sessies (long slow distance). Dít, sê dié driemalige wenner van die Londen-na-Brighton-wedloop (80 km), het oor die jare heen ’n groot rol in sy sukses gespeel.

Ook om eerder konserwatief te begin as te vinnig.

Fordyce hou sedert hy in 1976 as ’n argeologiestudent aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg begin hardloop het, stiptelik dagboek van elke tree wat hy hardloop. Dit is iets wat byna al die ernstige hardlopers doen.

Oor die afgelope 44 jaar het Fordyce sowat 200 000 km gehardloop.

Oor die afgelope 44 jaar het Fordyce sowat 200 000 km gehardloop.

Die fout wat die meeste nuwelinge maak, is om te gou te ver te hardloop, waarsku hy.

“Die uiteinde is dat hardloop later nie meer vir hulle lekker is nie. Daarom soek hulle vir die geringste rede ’n verskoning om nie te gaan oefen nie.”

Fordyce sê toe hy begin oefen het – deur by Wits ’n paar keer om ’n rugbyveld te sukkel – het hy dit nie besef nie, maar daardie eerste hardlooptreë was die grootste geskenk wat hy aan homself kon gee.

Voor dit het hy homself fiks gehou as ’n skrumskakel en ’n tennisspeler met ’n groot liefde vir atletiek.

“Ek put steeds groot genot uit hardloop en ek hoop van harte dat dit vir jou, die Comrades-groentjie, ook die begin sal wees van ’n lewenslange liefdesverhouding met dié sportsoort.”

Fordyce erken hy het aanvanklik net saans gehardloop omdat hy skaam was iemand sien hom. Daardie jare was daar nie baie mense wat gehardloop het nie.

Dis moeilik om te glo Fordyce wou nie hê mense moet hom sien hardloop nie. Want daar was min goed so hoendervel-mooi soos ’n vasberade Bruce Fordyce met sy vloeiende, ekonomiese hardloopstyl wat met die op-Comrades na Pietermaritzburg in 1988 en 1990 toe hy by Drummond (die halfpadmerk) ’n paar minute agter die voorlopers was, die krane begin oopdraai het, veral ná Cato Ridge (met sowat 30 km oor).

Dan het hy sy teenstanders meedoënloos die een ná die ander ingehaal en verbygegaan voordat hy uiteindelik kort voor die moordende Polly Shortts in die buitewyke van Pietermaritzburg die voortou geneem het met verkeersbeamptes met loeiende sirenes wat hom wenstreep toe begelei terwyl televisie-helikopters bo hom dreun.

Tog gaan die boek nie net oor hardloop nie.

Tog gaan die boek nie net oor hardloop nie.

Op ’n manier is dit, soos wyle Jackie Mekler, ’n vyfmalige Comrades-wenner, se boek, Running Alone, ’n stuk kultuurgeskiedenis.

Dit gee die leser ’n kykie op die tydperk waarin dié voormalige wêreldrekordhouer oor 80 km (wat hy in die VSA opgestel het en wat 35 jaar lank in die rekordboeke was) die septer geswaai het.

Fordyce, wat met een van sy oorwinnings met ’n swart armband gehardloop het om sy teenstand teen apartheid te toon, weef die politieke landskap van destyds goed in die boek in.

Daar is talle wonderlike staaltjies soos net Fordyce, ’n storieverteller van formaat, kan oordra.

Gaan lees Winged Messenger gerus self. Wie weet, dalk sing jy oor ’n jaar of wat “Shosholoza” voor die stadsaal van Durban of Pietermaritzburg en loop jy 12 uur later moeg en seer – maar baie trots – met ’n Comrades-medalje om jou nek rond.

Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis en sportskrywer wat al 29 keer sedert Fordyce se agtste oorwinning in 1988 oor die Comrades verslag gedoen het.

Meer oor:  Bruce Fordyce  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.