Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Cuito: Wat ís ‘wen’?

Met ‘Die SAW en Cuito Cuanavale’ vestig Leopold Scholtz hom as die voorste navorser oor die Grensoorlog waaroor teenstrydige herinneringe en opvattings steeds hoogty vier, skryf  Abel Esterhuyse.

Suid-Afrikaanse Olifanttenks en Ratels by Mavinga. Foto: Dokumentasiesentrum

Die SAW en Cuito Cuanavale: ’n Taktiese en strategiese analise deur Leopold Scholtz. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R250.

Die Grensoorlog is ingeëts in die kollektiewe geheue van ’n groot deel van ’n ouerwordende geslag Suid-Afrikaners wat diensplig gedoen het. Die soms teenstrydige ervarings van en herinneringe aan die Grensoorlog, tesame met die sienings daaroor in die breër internasionale en Suid-Afrikaanse samelewing, lei dikwels daartoe dat die oorlog, in die woorde van die outeur, as’t ware op papier oorgeveg word (bl. 1).

Die intensiteit van die debat word aangeblaas deur verskeie onderliggende omstrede kwessies. Die prominentste hiervan is die vraagstuk oor wie aan die wenkant was van ’n oorlog waarin al die partye sekere kritieke veldslae gewen en verloor het (bl. viii).

Die gevegte om die Angolese dorpie Cuito Cuanavale in 1987 en 1988 het vir baie die fokuspunt geword in die debat oor die uitslag van die Grensoorlog in die algemeen. In baie gevalle word dit gekontrasteer met wat in die vroeë 1990’s in die politieke domein in Angola, Namibië en Suid-Afrika uitgespeel het (bl. 2). Die historikus Leopold Scholtz takel hierdie kontroversie op ’n direkte en kompromislose wyse in sy jongste boek, Die SAW en Cuito Cuanavale.

Waarheid, herinner Winston Churchill ons, is die eerste ongeval in oorlog en nóg meer so as die betrokke partye propaganda doelbewus as wapen gebruik. Dit bemoeilik nie net die taak van die historikus nie, maar beklemtoon die belangrikheid van navorsing wat gegrond is op oorspronklike en argivale bronne.

Die SAW en Cuito Cuanavale is ’n teksboekvoorbeeld van goeie historiese navorsing en die historikus se soeke na die waarheid. Scholtz se taak is vergemaklik deur die feit dat die huidige regering geen belang het by die geheimhouding van argiefmateriaal uit die vorige bedeling nie, veral nie oor ’n onderwerp wat die kern vorm van die regering se mitologisering van hul “eie” militêre oorwinning oor die apartheidsregering in Angola nie. Verder het die skrywer deur sy navorsing en vorige publikasies homself gevestig as legitieme skrywer onder oudstryders van die SAW. Dit het hom toegang gegee tot diegene wat betrokke was in ’n gevegshoedanigheid en in bevelsposte diens gedoen het in die gevegte rondom Cuito Cuanavale.

Soos die skrywer tereg uitwys in die inleiding tot die boek, word die woordebombardement oor die uitslag van die oorlog oorheers deur twee denkstrome. Aan die een kant is daar die siening oor die gebeure by Cuito Cuanavale wat deur Fidel Castro verwoord is en sonder enige grondige argivale navorsing in baie kringe as die waarheid aanvaar word. Hierdie denkskool word gevange gehou deur die nie-ontsluiting van die Kubaanse en Angolese argiewe en die outeur wys tereg uit dat wanopvattings en propaganda steeds die kern vorm van die uitspreek van hierdie denkskool se argumente.

Daarteenoor staan die “ek was daar”-denkskool wat hoofsaaklik steun op die persoonlike ervarings en insigte van diegene wat aan die Suid-Afrikaanse kant in gevegs- en senior besluitnemingsposte was. Die probleem met dié denkskool is dat hulle dikwels so na aan die spieël staan dat hulle fisiek nie in staat is om die groter prentjie raak te sien nie. In wese beskou elke dienspligtige wat betrokke was by die gevegte rondom Cuito Cuanavale homself as ’n kenner.

Scholtz se bydrae met Die SAW en Cuito Cuanavale moet gesien word teen die agtergrond van sy reeds omvattende gepubliseerde navorsing oor die oorlog. Deur die publikasie van Die SAW en Cuito Cuanavale vestig hy homself sonder twyfel as die voorste navorser oor die oorlog. En sy bydrae is omvattend.

Die Britse krygshistorikus Michael Howard stel dit dat die skryf van krygsgeskiedenis aan die vereistes van konteks, diepte en wydte gemeet moet word. Wat konteks betref, slaag Scholtz uitstekend daarin om die gevegte wat rondom Cuito Cuanavale plaasgevind het histories te belig en, veral, om die strategiese belang van Cuito Cuanavale vir sowel die Suid-Afrikaanse as die Kubaans-Angolese magte te beklemtoon.

Die skrywer wys veral op die paradoks van Cuito Cuanavale se belangrikheid vir die Suid-Afrikaanse magte. Aangesien Cuito Cuanavale ’n uiters belangrike aanloopbaan en logistieke en kommunikasiepunt vir die Kubaans-Angolese magte was, kon die Suid-Afrikaanse magte dit nie operasioneel ignoreer nie. Die Suid-Afrikaners kan argumenteer dat Cuito Cuanavale in geen stadium ’n doelwit was vir enige van hulle operasies nie, maar dit was ’n kritieke gravitasiepunt waarmee hulle uiteindelik moes handel indien hulle die Kubaans-Angolese magte in die suidooste van Angola totaal wou verslaan.

Die Suid-Afrikaners het egter op ’n baie fyn lyn geloop. Hulle was in Angola, in die woorde van ’n Suid-Afrikaanse bevelvoerder, “om Unita te steun en nie om Angola te verower nie”. Daarom moes hulle aan die een kant operasioneel die Kubaans-Angolese bedreiging vir Unita neutraliseer, maar aan die ander kant kon hulle nie so strategies suksesvol wees dat dit die oorlog in Angola laat eskaleer nie.

Die diepte en omvang van die boek kom veral na vore in Scholtz se uiteensetting en ontrafeling van die debatte agter die skerms oor die moontlike militêre opsies en voortsetting van operasies deur die Suid-Afrikaners, die rol van die politici, vernaam P.W. Botha se betrokkenheid, en die wisselwerking tussen die operasioneel ontplooide magte en die hoër hoofkwartiere in Rundu en Pretoria. Die operasionele naïwiteit van sommige van die generaals, waarvan party oor min operasionele ondervinding beskik het, is nogal opvallend.

Scholtz draai ook geen doekies om oor die probleme aan die Suid-Afrikaanse kant nie. Enkeles wat ter sprake kom, is die gebrek aan oorwoë operasionele beplanning wat gespruit het uit die lukrake wyse waarop Suid-Afrika by die veldtog betrokke geraak het; die gebrek aan duidelike bevelslyne met “hoofkwartier op hoofkwartier wat op mekaar gestapel is”; die gebrek aan volhoubare en beplande logistiek; en die probleme met lugkrag en ’n gebrek aan lugsteun.

Die boek is uitstekend chronologies gestruktureer met drie ontledende hoofstukke aan die einde. Die waarde van die boek word ontsluit in dié drie hoofstukke. Die eerste is ’n militêre ontleding van Suid-Afrika se deelname aan die oorlog en die “lesse” wat daaruit geleer kan word. Die ontleding is operasioneel van aard en nié takties of strategies soos wat die subtitel van die boek te kenne gee nie.

In die tweede ontledende hoofstuk belig die skrywer omstrede kwessies en debatte oor die sogenaamde Slag van Cuito Cuanavale wat in wese nooit plaasgevind het nie. Hy behandel die vraag of Suid-Afrika Cuito Cuanavale wou beset en wys onder meer op hoe Suid-Afrika se ekonomiese werklikhede toenemend sy handelingsvryheid beperk het en hoe “die Kubane die propagandaoorlog loshande gewen het”. Dit is juis hierdie woordoorlog wat in die laaste hoofstuk onder die loep geneem word met ’n uitstekende ontleding van die politieke en akademiese debat oor die oorlog.

Die onderliggende vraag waarmee die leser die boek moet beoordeel is wat weermagte en die aanwending van militêre mag suksesvol maak. Meer spesifiek: Wat is die verskil tussen strategiese sukses en die “wen” van ’n oorlog? En die moontlikheid dat die “wen” van ’n oorlog strategies fataal kan wees. Miskien is die sukses van die Suid-Afrikaanse magte in Angola juis die feit dat daar uiteindelik ’n militêre skaakmatsituasie ontstaan het wat politici tot die onderhandelingstafel gedwing het. Dit is strategiese sukses!

  • Prof. Abel Esterhuyse is verbonde aan die departement strategiese studies in die fakulteit krygskunde van die Universiteit Stellenbosch.
By die Woordfees
Prof. Abel Esterhuyse en oudgenl. Roland de Vries gesels op 6 Maart (om 14:00) in die Boektent met Scholtz oor sy bevindings in Die SAW en Cuito Cuanavale wat gegrond is op onlangs gedeklassifiseerde inligting. Dit lyk tans of Scholtz weens gesondheidsredes dalk nie na Suid-Afrika sal kan reis nie, maar die gesprek sal steeds via Skype voortgaan. Kaartjies kos R65 by Computicket of R85 by die deur.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Woordfees  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.