Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Daar is niemand soos Jeanne nie’

Benewens haar digkuns, romans en novelles was Jeanne Goosen (1938-2020) ’n ‘magistrale’ dramaturg, rubriekskrywer, pianis en radiografis. Van haar jare lange vriende, kollegas en aanhangers vertel vir Christiaan Boonzaier meer.

Jeanne Goosen
Jeanne Goosen. Foto: Argief

Magistraal. Fassinerend. Pret.

Só onthou jare lange vriende, kollegas en aanhangers die skrywer Jeanne Goosen, wat Dinsdagaand in ’n koma verval en daarna in Melkbosstrand buite Kaapstad dood is. Sy was 81.

Huldeblyke het van heinde en ver ingestroom om Goosen se lewe en werk, wat ’n wye draai geneem het, te gedenk.

Die aktrise, skrywer en regisseur Lizz Meiring sê sy sal Goosen met die grootste deernis onthou – en beskryf haar nalatenskap as veral dramaturg as niks minder as “magistraal” nie.

“Haar werk is onvergeetlik en ewigdurend. Sy het die absolute hart van die menslike bestel – die goeie én die slegte – raakgeboor, en daar is soveel nuanses in haar werk wat tydloos en absoluut onsterflik is.”

Meiring het heelwat rolle in Goosen se werk vertolk, onder meer Kopstukke (1990) saam met André Stolz, die kabaret Nagmerries (1991), die eenvrouvertoning ’n Mens huil nie oor alles nie / If Only We Had Arsenic (1993) en Desnieteenstaande (2003) saam met Henriëtta Gryffenberg en David Clatworthy. Sy (Meiring) het ook Goosen se kabaret Organia, wat na Hartedief (2004) herdoop is, geregisseer.

Haar werk is onvergeetlik en ewigdurend. Sy het die absolute hart van die menslike bestel – die goeie én die slegte – raakgeboor.
Lizz Meiring

“Die interessante ding van Jeanne was dat sy ’n ongelooflike goeie skrywer was, maar die einde van haar stukke was dikwels nie voltooi nie – dan moet ons (die akteurs) dit vinnig fix en vir haar aanstuur,” sê sy laggend.

“In dié verband was Jeanne eintlik soos Leonardo da Vinci, wat in sy leeftyd glo sowat 3 000 projekte nooit voltooi het nie. Sy was nes hy ’n genie wie se belangstelling baie vinnig deur iets anders geprikkel is.”

Goosen was ’n “slim vrou”, “ongelooflike” pianis en rubriekskrywer, “soms wrede” teaterresensent én gekwalifiseerde radiografis, sê Meiring.

“Sy was ook ’n fassinerende karakter en so mal soos ’n haas. Elke generasie het sy court jester – soos Deon Maas – maar dít was Jeanne ook.”

Die veteraanaktrise Sandra Prinsloo beskryf Goosen se dood as ’n “groot verlies”.

“Dit is baie tragies, maar ons verwag dit al ’n ruk lank,” sê sy. “My grootste jammerte is dat die staat van inperking my gekeer het om vir haar in persoon tot siens te sê.”

Sandra Prinsloo
Sandra Prinsloo. Foto: Argief

Prinsloo sê as sy reg onthou het haar pad met dié van Goosen gekruis toe haar novelle Louoond (1987) vir die verhoog verwerk is en Trudie Taljaard haar (Prinsloo) genader het om die eindproduk, Kombuis-blues (1991), te regisseer.

“Ek en Jeanne het onmiddellik gekliek,” sê Prinsloo. “Sy het gelukkig baie gehou van wat ek met haar werk doen – en van toe af, het ons goeie vriende geword. Ons het baie dinge saam gedoen – ons was selfs saam oorsee met die stuk ’n Koffer in die kas (1992). Sy’t gesê dis my stuk, ek kan dit doen.”

Dié stuk was eindelik die enigste stuk waarin Prinsloo self ’n rol vertolk het. Sy het wel ook speelvakke van Nagmerries, Desnieteenstaande en Kopstukke geregisseer.

“Die rede hoekom ek basies net geregisseer het, was omdat óf Jeanne óf die akteurs my gevra het om dit te regisseer. Jeanne het altyd gesê ek verstaan haar werk.

“Ek was versot op haar swart humor – so ’n heerlike swart humor wat ’n onkonvensionele blik op alles gehad het. Sy was ’n terroris – ’n wonderlike terroris met die taal – en ek het dit so geniet om dit dan op die verhoog te sit. Sy’t vir jou so baie gegee om mee te werk; jou verbeelding het op loop gegaan.”

Goosen se uitklophou op die verhoog was altyd dat sy “geskryf het soos ’n mens praat”, sê Prinsloo.

“Dit was nooit nodig om iets oor te skryf of die struktuur te verander nie. Haar diep kennis van mense, van die natuur . . . Sy het werklik diep en anders na sake gekyk. Haar manier van sien was soos ’n kaleidoskoop – ’n enorme ingewikkelde manier om die lewe te sien.

“En sy het ook diep ervaar: Sy het baie seergekry – sy was soms hoog, ander kere laag – maar om tyd met haar deur te bring was geweldig waardevol en pret.

“Sy was enig – werklik. Daar is niemand soos Jeanne nie.”

Sy was so with-it, dié ou goose.
Albert Maritz

Die akteur en regisseur Albert Maritz het Goosen tydens ’n “sop-en-sjerrie-aand” in Melkbosstrand ontmoet.

“Sy’t bietjie gepraat oor haar musiek, gespeel op ’n klavier, en soos die wyn gevloei het, het ek ook later vir haar Die berggans in my beste falsetto gesing,” onthou hy. “Sy was so with-it, dié ou goose.”

Maritz sou ook later Kombuis-blues met Isadora Verwey en Esther von Waltsleben regisseer – ook die kabaret Elders aan diens, ’n verwerking van Goosen se gelyknamige 2007-digbundel.

“Ons noem dit ’n kabaret, maar dit is seker eintlik musiekteater. Ek onthou die hele vertoning was reg en uitgewerk, toe kom Jeanne met ’n paar woorde op ’n papiertjie en gee dit vir Nicole – sy was mal oor Nicole – en sê vir haar sy kan dit maar kry. Ons het toe dié woorde gebruik om die vertoning mee af te sluit.” Dié teks lui:

met sagte toue sal ek julle aan my lyf vasbind

en met een in elke arm sal ons deur die nag stap

Ek, die hondmens sal julle met lang hale met ’n raspertong troos

Op ’n spoor sal ons gaan lê

Knus drie-enig en ewig wagtend op die Trans-Karoo

“Ek dink dit verklaar baie oor haar,” sê Maritz. “Ek dink ’n ou sal onverantwoordelik wees as jy maak asof alles met haar ’n plesier was. Soos met almal in die bedryf het sy ook haar uproars met my gehad, veral voor die opening van Elders aan diens, maar sy het ná die opening in trane na ons toe gekom, vir al die aktrises drukkies gegee, en toe gesê: ‘Vergewe my vir alles wat ek gedoen het. Beskou dit as die vrese van ’n ou vrou.’”

Maritz sê hy sal haar altyd onthou as ’n skrywer wat met “sulke eenvoud soveel betekenis” kon kommunikeer.

“Selfs haar rubrieke in Die Burger was ongelooflik snaaks, maar met geweldige diepte, soveel so dat jy tussen die lyne besef dié girl is eintlik waaroor alles gaan.”

Die visuele kunstenaar Henk Serfontein het ook Goosen se dood betreur en gesê hy het haar ’n dag ná haar 80ste verjaardag ontmoet.

“Sy het deelgeneem aan my projek Handskrif waarin ek vir bekende digters gevra het om ’n reël uit hul eie werk te kies en dit dan op hul hand te skryf sodat ek dit tot kunswerk kan verwerk.”

“Jeanne Goosen: wat sag is vergaan” houtskool en g
“Jeanne Goosen: wat sag is vergaan” houtskool en gemengde media op papier, ’n tekening van Jeanne Goosen se hand. Die kunswerk deur Henk Serfontein is in die versameling van Jackie Nagtegaal.

Serfontein sê toe hy Goosen ontmoet was dit “soos om in een van Jeanne se kortverhale in te stap”.

“Ek is na haar slaapkamer gelei, waar sy in haar bed vir my gewag het. Die kussings was gepof agter haar kop, daar was ’n asbak op die deken en haar linkerhand het op ’n poedel gerus. ’n Chopin Mazurka het in die agtergrond gespeel en regs van haar het ’n abstrakte grafiese werk vermoedelik deur Fred Schwimmel gehang.

“Sy was reeds fragiel en nie besonder spraaksaam nie, maar het gekies om die kort sin ‘wat sag is vergaan’ op haar hand te skryf. Dit was opmerklik hoe jare se rook die voor- en middelvinger van haar hand vervorm het. Vir die portret het ek my invalshoek van my kamera verlaag en ek het laag gerus op haar bed se deken. Ek wou opkyk na die groot skrywer. Sy het stip in my lens gekyk, ’n diep teug van haar sigaret geneem en die rook in my rigting oor die bed geblaas. Haar mondhoeke het beweeg en as van die sigaret het op die deken geval.”

Serfontein sê van al die digters wat hy afgeneem het, het hy die minste van Goosen geneem omdat hy vinnig ’n “werkbare beeld” gevind het.

“Sy was ’n karakter: eerlik, onverskrokke, onverdun, maar ook weerloos. Voor my lens kon sy nie iemand anders as bloot haarself wees nie.”

Die jong teatermaker Mercy Kannemeyer sê haar ontmoeting met Goosen was een van die beste dae van haar lewe. Kannemeyer het Goosen in persoon gevra of sy haar stellig bekendste roman, Ons is nie almal so nie, vir die verhoog kan verwerk.

Mercy Kannemeyer
Mercy Kannemeyer. Foto: Argief

“Sy was so ongelooflik gaaf en só gentle. Ek kan nog onthou hoe sag haar oë was,” vertel Kannemeyer.

“Toe ek vir haar vra of ek die roman mag verwerk, toe sê sy net: ‘Gaaf. Ek voel gevlei.’ En vir haar om gevlei te voel, was nogal ’n moment vir my.”

Sy sê een van die redes hoekom sy die roman wou verwerk, was omdat daar so baie “ooreenkomste” tussen die verhaal, wat in die 1950’s afspeel, en nou is.

“Ek kan insien hoe party mense skepties sou wees om ’n storie van die 1950’s in 2019 op die verhoog te sit, maar wat Jeanne reggekry het, is om ’n tydlose storie te vertel wat enige tyd kan afspeel. Sy het die storie met soveel deernis en so saggies vertel – maar dit steek jou.

“Die woorde ‘ons is nie almal so nie’ het volksbesit geword en dit is so ’n interessante stelling. Hoe is ons dan – en wat is dit waarvan ons onsself wil distansieer?”

Kannemeyer sê Goosen het nooit die eindproduk gesien wat verlede jaar by die Toyota US Woordfees en die Vrystaat Kunstefees op die planke was nie omdat Goosen nie meer kon reis nie, maar sy het haar wel daarvan vertel.

“Wat is nou weer daai gedig van Jan F.E. Celliers wat sê ‘Stil, broers, daar gaan ’n man verby’? Ek voel vandag so: Stil, broers, daar gaan ’n vrou verby.”

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Boeke  |  Jeanne Goosen  |  Albert Maritz  |  Sandra Prinsloo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.