Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Daar lê genesing in dié lees van Dana

Op pad: ’n Reisjoernaal

Dana Snyman

TAFELBERG, R250

Op pad gaan oor Dana Snyman se eerste reis deur die land vir sy gelyknamige televisieprogram op die Via-kanaal op DStv.

Dis ’n boek op soek na hoop. Maar dit was vir my met die lees meer ’n reis na die siel. Dana worstel met homself, met gebed, sy Afrikanerskap en sy plek in die land. Hy ry deur ’n land van armoede en nood. Die desperate stemme. Die leë gesigte. Die wanhoop, skryf hy.

Hy lees in gastehuise J.M. Coetzee se Disgrace, sy pa se toeriste-Bybel en Ferdinand Deist se gebedeboek Tussen angs en sekerheid. Deurentyd is hy in gesprek met sy oorlede pa, wat uit ’n AP kerk in Ventersdorp begrawe is.

En dan is die swart hond daar, asof van nêrens. Hier word Disgrace ’n subteks (en Op ’n dag, ’n hond deur John Miles ook). Hy laai die brandsiek hond ná ’n besoek aan ’n veearts by ’n vrou in Bloemfontein af.

Hoe verder hy ry, hoe meer byt die hond, die land, aan sy gewete. Die land staan met die flenter-Adidas-tekkies van ’n Karookind op sy gemoed.

Wanneer hy ’n bladsy uit ’n katkisasieboek optel voor Karel Swarts, ’n karretjiemens, en hy hardop lees, is dit hartverskeurend: “Job moet bitter ly, maar lyding is nie ’n straf vir sonde nie . . .”

Toeval? Gaan lees Op ’n dag, ’n hond.

“ ‘Het ek hoop vir die land?’ herhaal Karel sy vraag. Karel: ‘Is hoop nie maar ’n bietjie soos water nie? Soms raak dit ook maar min.’ ”

Dit is dan dat die leser wil gaan soek na Deist se boek. Here, help my bid en glo – glo in iets, ’n nuwe begin, genesing vir dié land.

Maar jy huil, want dis ’n smeekbede vir vergifnis, weet jy, soos Dana se reis eintlik is. Sy besoek aan oudminister Adriaan Vlok, wat met sy Nissan 1400 armes versorg en vertel hoe hy eerw. Frank Chikane, wat hy wou doodmaak, se voete gaan was het, was nie toeval nie.

Dis wat hy doen, besef ek: Hy was ons voete met sy uitreik, salf ons apartheidswonde met sy woord en eindelik, troos. Daai eerlikheid om te vertel hoe hy as seun ’n ouerige swart vrou se bondel hout van haar kop slaan. In Nkandla kry hy ’n kleipot van MaNtombi Zuma, wat hom as The Boer onthou.

Hy ry verby Dewetsdorp en vra om ’n vrou se bondel hout op ’n kruiwa te stoot. Hy laai die hond, Blackie, in Wepener op en ry huis toe. Soos die hond, Blackie, van sy wonde genees het, só word die wonde op Dana se gemoed minder.

As lees kan help met genesing, is Op pad ’n uitsonderlike gids.

Charles Smith is nuusredakteur van Netwerk24 in die Vrystaat en Noord-Kaap.

Meer oor:  Charles Smith  |  Dana Snyman  |  Boekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.