Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Daar’s iets beters op Netflix

Turtles All the Way Down

John Green

PENGUIN RANDOM HOUSE, R290

Fiksie

As jy Green se jeugroman The Fault in Our Stars gelees het sonder om ’n traan te stort, het jy waarskynlik nie ’n hart nie.

Met Turtles All the Way Down probeer Green die resep herhaal, maar hierdie kasaterwater-poginkie sal tieners waarskynlik laat wonder of daar nie iets beters op Netflix is nie.

Die verhaal kortliks: Aza Holmes het ’n obsessie met kieme wat haar selfs dryf tot die drink van handontsmettingsmiddels.

Sy en haar jare lange vriendin Daisy vind uit daar word ’n losprys aangebied vir inligting oor die verdwene witboordjiemisdadiger Russell Pickett. Hulle begin na die man soek, en hul paaie kruis met Pickett se seun Davis, ’n jeugvriend van Aza. Die ou en meisie sien mekaar nou as tieners in ’n ander lig en hulle harte begin vinniger klop.

Ongelukkig loop die intriges nie op veel uit nie. Aza raak nie van haar verterende obsessie ontslae nie, die pa se verhaal word afgeskeep en die geheim rondom sy verdwyning word toevallig opgelos. Ook Aza en Davis se verhouding is ’n antiklimaks, selfs al is sy glo op hom verlief. “Our hearts were broken in the same places,” raak sy kwyt. Jip, dit klink na ware liefde.

Plek-plek in die roman kom Green se volwasse stem te sterk na vore. Hy lê woorde in die karakters se monde wat jóú mond sal laat oophang. Ek ken nie tieners wat iets sal sê soos: “I don’t understand why he’s so stuck inside himself, when there is this endlessness to fall into.” Dan is daar pretensieuse binnespraak soos “I, a singular proper noun, would go on, if always in a conditional tense.” Rêrig?

Al die verhaalelemente is soos die TV-kanale waardeur Aza in ’n stadium blaai en vind 'none of them (are) particularly compelling'.

Die karakters in die jeugverhaal kan sommer ook ewe oulik aanhaal uit Shakespeare, E.E. Cummings, Robert Frost, Sekou Sundiata en meer. Dit sal seker oortuig as bottels ontsmettingsmiddels in Amerika sulke slimmighede op die etikette dra.

Toegegee, Aza se siekte word soms met deernis beskryf, maar omdat sy ietwat van ’n neulkous is, gee ’n mens nie regtig vir haar om nie. Selfs haar vriendin Daisy raak siek vir haar gekerm. Ek het ook soos Daisy gevoel. ’n Mens wonder hoekom Daisy en Aza hoegenaamd vriende is. Daisy meld selfs in ’n stadium dat Aza ná al die jare nie eens weet wat haar ouers se name is nie. Aza is glo te selfbehep om te weet.

Die motief van die vernouende spiraal word goed in die jeugroman uitgebeeld, maar dit gaan nie hierdie storie red nie.

Al die verhaalelemente is soos die TV-kanale waardeur Aza in ’n stadium blaai en vind “none of them (are) particularly compelling”.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Fanie Viljoen is ’n kinder- en jeugboekskrywer van Bloemfontein.
Meer oor:  Boekresensie  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.